Potchefstroom
Laerskool leerling, Gerderik Van Kraswegenen was nie baie in sy noppies met sy ouboet na hy detensie moes sit vir ‘n week na skool nie. Die jong lat kon nie die Omgewingsleer taak betyds inhandig nie omdat sy graad 9 broer, Pimpies hulle Telkom ADSL 3 gig beperking oorskry het en die diens opgeskort is.
‘n Baie ontstoke Gerderik, graad 5 leerling aan die Potskiet Laerskool het aan WKJ vertel dat Pimpies video’s afgelaai het: “Al wat ek vir my taak gekort het was video’s van rook wat by fabrieke in Vereeniging se koorstene uitkom. Nou het my boetie al ons internet opgebruik vir sy eie video’s. Dit was sulke snaakse video’s van tannies met totties, oom. Ek het dit nie mooi verstaan nie. Nou moet ek in detensie sit saam met ander seuns wat ‘n tannie by Checkers met ketties geskiet het en ek het eers niks gedoen nie! Al my maatjies swem elke middag en nou moet ek sit en uitskryfwerk doen. Dit is onregverdig, oom. My rapport lyk altyd goed en ek het nog elke jaar ‘n sertifikaat vir 100% bywoning gekry. Ek speel ook heelagter met bulletjie rugby. Nou gaan meneer Gilbert my seker uit die span ook sit.”
Die betrokke Omgewingsleer onderwyser meneer Traak Meinie se kommentaar was baie reguit: “Kyk, al die kinders het hulle take op CD-ROMS en DVD’s ingehandig voor die afsluitdatum. Daar is net plein geen verskoning vir laat of agterlose werk nie. In die ou dae het ons dit varkore en knoeiwerk genoem. Al hierdie kinders het ryk ouers en kom uit spoggerige buurte. As die ouers nie meer bandwydte kan beskostig nie, moet hulle dalk daaraan dink om na ‘n goedkoper buurt toe te trek en hulle kinders by skole in te skryf waar daar nog papier, swart borde en goeie ou lyfstraf gebruik word. Dis ook nie ons skuld dat Telkom so belaglik duur is nie.”
‘n WKJ verslaggewer wou Telkom nader oor hulle ADSL pryse, maar moes die handdoek ingooi nadat hy vier keer afgesny is en op die ou end nommer 124 in die ry was.
Die skoolhoof, meneer Draht Kapp het weing kommentaar gehad: “Meneer, ek voel jammer vir die seun. Dis spyt my hy kon nie sy huiswerk betyds inhandig nie. Hy sal sukkel om werk na hoërskool te kry, tensy hy dalk self eendag die films maak wat sy stoutgat broer so links en regs aflaai.”
Gerderik se ouers kon nie vir kommentaar opgespoor word nie aangesien hulle uitlandig was op ‘n “besigheidsreis”.
Watkykjy staan op 3,048,224 post views in totaal sedert 1 November, 2019.