Waterkloof, Pretoria
Riko Rykgard, ‘n pas ingeskrewe Botaniese eerstejaarstudent by Tukkies het verlede week ‘n noue ontkoming gehad toe ‘n selfmoordbommer ‘n Tata bakkie vol plofstof by ‘n roudiens in ‘n groot grafsteen vasgejaag het, 45km noord van Baghdad. Bykans 14 mense het beswyk tydens die terreuraanval wat die media “Tata Infidels” gedoop het.
‘n Huilerige Riko het vanuit sy ouers se weelderige kitsch Waterkloof woning sy nabye doodservaring met WKJ verslaggewers gedeel: “Ek was besig om dagga te rook saam met my ander ryk vriende in die Brooklyn trimpark toe my ma my histeries op my nuwe Sony Ericcson 4.5 megapixel foon gebel het. Sy het toevallig CNN gekyk toe die gebeure ontvou het op ons 70 duim skerm plasma screen in die kombuis.”
Volgens Riko se ma, Riandra, kon hulle voorvaders net sowel in Amerika gebore gewees het, en hulle oudste spruit kon net sowel in die weermag gewees het: “Dit is baie kommerwekkend, aangesien ons tweetalig is en so maklik in Amerika gebore kon gewees het en dus maklik sou aanpas. Ons dink nou glad nie meer daaraan om te emigreer nie, alhoewel ons dit oorweeg om ons telefoonnommers te verander.”
Riko se pa, Riempies Rykgard het aanvanklik vir die WKJ kameras weggehardloop. Hy het aanvanklik gedink dat die kameraspan van Carte Blanche was en belastingontduiking ondersoek het. Nadat hy gerus gestel is, het hy die volgende te sê gehad: “Hierdie was te naby. Wie weet waar hulle volgende sal aanval? Ons is ‘n baie vreendsame gemeenskap en negentig persent van ons probeer om kerk toe te gaan as ons nie golf speel op Sondae nie. Hierdie terreuraanvalle moet stop.”
Die polisie het ook die buurtpatrollie opgeskerp en helikopters met soekligte is ontplooi. ‘n Polisie woordvoerder, Skippy Skeurbeuk het die gemeenskap verseker dat hulle alles in hulle vermoë doen om terreuraanvalle teen te werk: “Misdaadbekamping is ‘n groot verantwoordelikheid en begin by die publiek. Ons vra ook die publiek se ondersteuning om die petisie te onderteken wat die Gautrein se werksaamhede stop, want as SA nie ‘n supertrein het nie, is daar niks om te bom nie.”
Dit lyk of die regering ook bewus is van die stand van sake. Sedert 11 September 2001 het daar weinig verwikkelings plaasgevind wat die beplanning en ontplooiing van die Gautrein betref.
Watkykjy staan op 3,085,042 post views in totaal sedert 1 November, 2019.