(deur Saartjie)
Julle kulturele korrespondent, Saartjie, het dit goed gedink om Huisgenoot se Skouspel by te woon om vir WKJ die inside scoop te gee. O jirrejiesis, wat ‘n fout. Ek sal vir die volgende week non-stop na al die musiek moet luister waarteen Rodney Seale ons gewaarsku het in ‘n poging om te herstel.
Die kameras sal dit seker nie op TV wys nie, maar daar was heelwat leë sitplekke. Dit is natuurlik omdat die organiseerders hulleself aanmatig om meer as R300 skille te vra vir die voorste gestoeltes by ‘n uiters amateuragtige vertoning. ‘n Mens betaal daai soort geld vir ‘n ordentlike show, waar die klank hard genoeg is, die TV-skerms nie kort-kort steurnisse op het nie, die beligting goed is, en die kunstenaars darem talent het.
Die Flouspel het sommer op ‘n suur noot afgeskop, want die eerste “kunstenaar” wat op die verhoog verskyn het, was die Groot Doos homself, Dozi. Toe het ek sommer geweet dit gaan ‘n baie lang aand wees.
Kan iemand asseblief vir my sê wanneer ons held, Koos Kombuis, so ‘n vervelige, voorstedelike trit geword het? Hy sluip rond op die verhoog in sy netjiese gestrykte Madiba-hempie met ‘n bypassende bandana om die kop gebind. Later is dit so ‘n fraai denim met ‘n onderbaadjie (lyk soos ‘n speelpakkie) met ‘n ander colour-coordinated bandana. Goeie fok, in die woordeboek sal jy nou sy naam kry neffens “sold out”. En die ergste was toe mnr. Letoit as agtergrondsanger optree vir Dozi, wat ‘n kastige rock-weergawe van Lisa se klavier sing. Skaam.
En warrefok is fout met Jan Blohm? Wie het hom onder die wanindruk gebring dat hy ‘n rocker is? Hy dink hy is heelwat cooler as wat hy eintlik is. Nuusflits: mense het in die sewentigs laas dramaties op hulle knieë neergesak en agter hulle koppe kitaar gespeel. Dis so uit soos koekies in die weeshuis. En niemand dink donker kringe om die oë is diep of intens of indrukwekkend nie – slaap bietjie meer en eet jou groente. Wat is die storie met die nuwe generasie Afrikaanse sangers wat so in hulle kele brom en “jy” en “my” uitspreek as “jaai” en “maai”? Dalk het hulle spraakterapie nodig.
Next up Rocco de Villiers wat my ook ‘n pyn in die gat gee. Hy het by Huisgenoot se Brouspel so ‘n graad-een weergawe van Fur Elise gespeel – dis nou die een tune wat selfs ek ook kan speel, en dit sonder enige musiekopleiding. Maar hy probeer dit moerse moeilik en ingewikkeld laat lyk deur so paar vals improvisasies tussenin te speel, op te spring en sy kringspier heen en weer te swaai in sy binnepoespienk-uitrusting.
Gepraat van uitrustings – hoekom op hierdie groen aarde is dit nodig om toekennings te gee vir die stylvolste kunstenaars? Dalk is dit ‘n erkenning dat die sang nie juis pryse verdien nie, dus gee hulle maar ‘n troosprysie vir die kleertjies. Soos die sangbeker by die Interhoër. Hoekom moet middelmatigheid altyd so skaamteloos beloon word?
Dit het gevoel of ek van ‘n ander planeet af kom, want ek het wraggies nie geweet Juanita du Plessis is so gewild nie. Om die waarheid te sê, cringe ek altyd wanneer daar ‘n advertensie van een van haar CDs op die TV is, en ek word sommer naar vir haar part. My kat miaau beter as wat sy sing. Maar blykbaar is die Afrikaners mal oor haar niksseggende lirieke en yl stemmetjie, en sy het die skare op hol gehad. Red ‘n volk.
Die groot gunsteling van die aand was natuurlik ons man Steve. Hy weet darem hoe om sy gehoor te manipuleer. Hy het vir elkeen van sy halfduisend toekennings ‘n gevatte spietsie afgesteek, en tussen sy liedjies deur blad geskud met ou mense en drukkies uitgedeel aan kindertjies.
Die beste deel van die aand was dat ek darem kon verseker rus in die wete dat my arme sintuie nie gestraf sou word met ‘n vertoning deur Bles Bridges nie. Daar is altyd iets om oor bly te wees.
Veels geluk aan Fokofpolisiekar, wat nou spog met Tempo-toekenning van Huisgenoot – ek weet nie of hulle lag of huil daaroor nie.
Watkykjy staan op 3,089,942 post views in totaal sedert 1 November, 2019.