Deur Saartjie
Liewe Jiesis, toe woon ek mos gisteraand 'n vergadering van Jong Dames Dinamiek by. Wat 'n belewenis. Kyk eers 'n bietjie na 'n
uitstalling van costume jewellery by die ingang en teug aan 'n glasie dooswyn. Ag jirre tannie, kyk die ou kraletjies. Te fokken fraai. Dan koop jy 'n kaartjie vir die "Waag-en-wen" (dis NIE 'n lotery NIE, want Christen-dames dobbel mos nie). Wanneer die verrigtinge 'n aanvang gaan begin neem, klap die hoofmeisie haar handjies en skree in 'n skril stemmetjie: "Kom julle!" Huh? Waddefok? O, ek ook. Ek dog sy praat met haar kinders.
Dan gaan sit almal kiertsregop op die eetkamerstoele wat in netjiese rye in een van reuse-vertrekke van die moerse huise gerangskik is. Party skuif hulle vierde glasies kak wyn ongemaklik rond terwyl een van die susters open met 'n skriflesingtjie en gebed. Amen. Nou weet ons darem dis mense met karakter wat hier bymekaar is. Die hoofmeisie steek 'n spietsie af. "Dankie jiiilllle. Dankie virrrrr allessss wat ek… uhm… ons… uhm… júlle hierdie jaar gedoen het. Die arm mense daar in Danville is so vreeslik dankbaar. En Saterdag gaan ons weer vir hulle hotdogs maak. Ons sponsor… ek bedoel… borg die broodjies én die worsies." Die stemmetjie raak al skriller. Sien ek een van die kristalglase in die display cabinet kraak?
En dan die gasspreker vir die aand: 'n Opvoedkundige sielkundige wat vir ons kom vertel hoe Liewe Jiesis wil hê ons moet ons kinders grootmaak. Dan vertel sy van die kak dag wat sy gehad het en van haar stoutgat-kinders. Klink vir my of hulle 'n helse pakslae nodig het, nie sielkunde nie. Maar dan onthou sy weer sy's voor 'n audience en glimlag liefies en herinner ons daaraan dat die ou kinnertjies 'n gawe van Bo is. Net om 'n rukkie later weer deur haar tande te sis oor hoe fokken stout die donnerse kinders is. Smaak my nog steeds hulle word nie gereeld genoeg gewetter nie. Maar dan onthou sy weer die audience en smile vasberade sodat jy net duur ortodontis-tande sien blink, en vertel vir ons dat ons hele doel in die lewe is om strepe kinders uit te pop sodat ons hulle kan grootmaak vir Liewe Jiesis. Whatever. Dan moet sy genadiglik waai want daar is kwansuis selgroep by haar huis (ek vermoed die kinders het eintlik die hond versuip en die huis aan die brand gesteek, en sy moet gaan red wat daar te redde is).
Die formidabele hoofmeisie karring weer verder voort oor al die liefdadigheidsprojekte wat ons gaan aanpak. Ons gaan die vrouens in die tronk besoek en hulle "gevoel van selfrespek vir hulle teruggee". Jirre chick, as jy iemand met 'n mes doodgesteek het vir draks, is daar fokkol selfrespek oor om terug te kry. En dan moet ons vir die dames 'n modeparade hou. Yeah right. Ek gaan in 'n miniskirt en fishnet stockings paradeer (pardon the pun) voor 'n klomp viswywe wat maande laas seks gehad het, en wie se hormone nou met hulle op loop is. En ons gaan die dames (?!) die fynere kunsies van grimering en haarstilering leer. Yeah sure. Ek gaan myself in 'n vertrek vol skêre en ander skerp voorwerpe begewe saam met 'n spul veroordeelde moordenaresse.
Toe breek vretenstyd uiteindelik aan. Maar wat 'n teleurstelling. 'n Mens sou meer verwag van sulke bobaas-huisvroutjies. Bobotie is nie veronderstel om 'n dik laag deeg bo-op te hê nie. En hoekom is die maalvleis so grys? Siesa. Dan eet ons maar 'n ekstra porsie malvapoeding met vla. Skep sulke lekker varksige porsies in met die deftige Carrol Boyes-lepels. So 'n silwer outjie kos seker amper 'n maand van my salaris. Dalk moet ek ook met 'n CA trou en huisvroutjie speel.
Tussendeur besigtig ons die uitstalling van Smile-speelgoed, want as jy nie daarvan koop nie gaan jou kinders fokken dom wees en dan is dit alles jou skuld. Nee jammer, Mevrou, Boeta is 'n totale idioot want jy het die generiese Pick 'n Pay speelgoed gekoop in plaas van die moer duur Smile-produkte, en nou is daar 'n onuitwisbare agterstand – al twee jaar oud en hy kan nog nie eens één van Mozart se stukke op die viool baasraak nie. En as jy nie sommer nou al 'n albumpie koop nie, gaan sy selfbeeld dit nie hou nie. Enetjie vir 0-6 jaar, en een vir 6-18 jaar, R300 elk, en R200 ekstra vir leeromhulsels. Want jou kinders verdien mos net die beste.
En so kom my eerste kennismaking met die SA Vroufederasie se jeugtak tot 'n einde. Ek oorweeg dit sterk om aan te sluit (ek het immers 'n botteltjie badsout as 'n verwelkomingsgeskenkie gekry, so dit móét seker gawe mense wees), want dit mag dalk net baie vermaaklik wees. Laat weet maar as ek julle op hoogte moet hou van my wedervaringe aan die ander kant van die voorskoot. (Moet asseblief tog net nooit enige verwysing maak sonder om my brose identiteit te beskerm nie – mens weet nie watter lede lees skelm WKJ nie, en netnou laat hulle my nie weer by 'n vergadering toe nie.)
Watkykjy staan op 3,048,224 post views in totaal sedert 1 November, 2019.