(deur Carl Lessing – die ou vannie Beeld, R.I.P)
Jy sit eenkant op jou eie in ‘n vreemde kroeg en teug aan jou bier. Jy pla niemand nie. Skielik hoor jy ‘n moerse zef ou op jou skree: Wat kyk jy?! Jy wonder by jouself wat het jy gedoen, en teen die tyd dat jy op die grond agter jou tande aankruip, lag die aanvaller hom ‘n papie saam met sy maters. Dis nie ‘n ongewone toneel dié wat hom in kroeë landwyd afspeel nie.
Dis ook die inspirasie agter die naam van die Afrikaanse webruimte www.watkykjy.co.za. Asjy die mense van watkykjy boonop glo, dan sal jy weet dis veral Afrikaners wat hulle aan bogenoemde gedrag skuldig maak.
Volgens Chopper Charlie, pseudoniem van een van die vier skeppers van die webruimte, bestaan die mite steeds dat die Afrikaner ‘n trots en edel nasie is. Terwyl hulle eintlik, soos dit destyds in Bitterkomix uitgebeeld is, ‘n klomp “kommen degenerates” is. Die webruimte is nie, soos sommige dit op sigwaarde aanvaar het, ‘n blad vir zef-mense nie. Dis ‘n satire oor zef-mense.
Maar wat is zef? Die webruimte het ‘n woordeboek vir die sosiolek van zef-taal gestig. Daar kan jy lees wat is ‘n troffelkop, ‘n tjommie, sjee, steakwatvirriepadkyk en ‘n menigte ander in die vinnig groeiende woordeskat wat die watkykjy -brigade en hul lesers opteken. Die woordeboek, wat jou nooi “chaf poef soos ‘n pro”, bevat ook voorbeelde van hoe om die woorde te misbruik: “Ek scheme ek het nog so bietjie zak vir braf”, is ‘n goeie aanduiding dat jy jou eers van die res van die woordeboek moet vergewis voordat dié taal verstaanbaar raak.
Chopper Charlie en die ander lede (Skipper Glen, Griffin en Super de Luxe 3000) is reeds vyf maande besig met hul anargistiese aanval op een van die groot Afrikaner-mites, naamlik dat Afrikaners eintlik beskaaf en vreeslik kultureel is. In hierdie tydperk het die webruimte al sowat 12 000 besoeke gekry teen ‘n gemiddeld van 180 per dag. Dis nie vreeslik baie nie, maar reeds meer as wat hulle verwag het. Tot op hede het hulle ook merkwaardig min klagtes gehad.
Dit was veral die woordeboek wat kritiek ontlok het asook die mees onlangse uitgawe, wat as “#666 die nommer van die zef” bekend staan, wat iemand se kommer oor Satanisme ontlok het. Die webruimte bied meer as vloekwoorde en “snotstories”. Artikels oor sekere zef-ikons soos Samantha Fox en die Ford Cortina het al verskyn asook comics soos die Skrapnel-reeks en sketse oor verskynsels soos Who Wants to Be a Millionaire? en die Pretoria-skou. Aanvanklik is beplan om ‘n gedrukte publikasie te begin, maar die koste daaraan verbonde het hulle van hul plan laat afsien.
Die skeppers van watkykjy is almal in hul middel twintigerjare en het op skool of universiteit ontmoet.. Volgens Chopper Charlie, ‘n kuberjoernalis, is dit nie hul ervaring dat die Afrikaner werklik beskaaf is nie. “Maar ons doen dit skalks. Vir die mense wat gekla het, het ek gesê dis alles net ‘n grap en niks is heilig nie. “Ek weet nie of die meeste Afrikaners kommen is nie, maar ek weet baie van hulle is. En as dit so is, hoekom dit wegsteek en nie daarin revel nie,” vra hy.
Tydens sy omswerwinge op die web, het hy besef die meeste Afrikaanse webruimtes gaan om stryd. Of dit nou stryd om taal of stryd om grond is, hy kon weinig humoristies in Afrikaans vind. “Die webruimte is iets wat ‘n mens vir homself laat lag, en dis iets wat baie nodig is,” sê Charlie. Dis seker nie vreemd nie dat die wederstrewige Bitterkomix en animasiereekse soos South Park vir hulle as inspirasie dien omdat “dit ook anargisties en redelik eksplisiet” is.
Aanlyn-anargisme pas hulle eintlik soos ‘n handskoen, want buiten die koste wat aan gedrukte publikasies verbonde is, is daar “baie vryheid op die internet, die grense is baie vaag” oor wat mens mag en kan doen.
Maar waarom dring die groep aan op anonimiteit? “Dis een van die voordele van aanlyn-anargisme om anoniem te kan bly. “Ek wil nie een dag in die straat afloop en ‘n ou kom slaan my oor die kop oor wat hy op die site gelees het nie.”
Watkykjy staan op 3,090,605 post views in totaal sedert 1 November, 2019.