(deur Toast Coetzer)
Daar’s sekere dinge wat my pla omtrent die hele Hansie-gate affêre. Ek sê Hansie-gate omdat ek vermoed Hansie-hek stupid gaan klink. Eerstens, die ou is skuldig aan ‘n paar goed, hy’t dit tog erken en als. Maar ek glo nie dit maak hom noodwendig bad nie, ek dink nog steeds hy’s fokken cool en ek sal nie die huisgenoot-poster van my muur afhaal nie. Komaan, wie’t hom dit laat doen? who made him do it?
(The devil made him do it.) Nou die dag by die hearings toe praat hulle met sy psychiatrist, so vaal ou wat so depressed lyk dit lyk asof hy ook in Bloemfontein kan bly. En almal het Energade bottels voor hulle. Niemand drink daarvan nie, maar dit is daar. Blou bubblegum Energade, en almal wat al Energade gedrink het behoort te weet dat dit die kakste flavour is. Dit laat my toe dink dat dit dalk al die bottels is wat oor is van die nasionale span se toere – hulle energiedrankie is tog Energade. En later toe Hansie getuig, toe’s al die Energade botteltjies weg, want wie wil nou ‘n knoeier met jou produk geassosieer hê? Drink Energade en jaag kak aan soos Hansie! Dit gee jou die edge wanneer jy dit die nodigste het. Hansie het wel ‘n blikkie Coke voor hom gehad, maar die label was weggedraai van die kamera af. Skerp. Maar almal weet tog dat Coke verslawend is en Hansie was anyway reeds so gedope op anti-depressants dat hy nou nog dink hy’s in ‘n prefekvergadering met Ray Macauly, Silas Makanune en Darren Scott. Dit was ook ‘n absolute laagtepunt vir sport wêreldwyd toe Ray Macauly ‘n gas was op 5fm se sportshour. Maar anyway, who made him do it?
(The devil made him do it.) Om nog ammunisie vir my teorie te verskaf, dan net nog dit. Dit was met verbysterende vaart en PR vernuf dat Spurs landwyd hulle spesiale Hansie burgers en chips met Ollie le Roux steaks vervang het. Eet soos Hansie eet of eet soos Ollie? Ek weet nie mooi nie. Hansie is at least nogal lean, Ollie is bloot ‘n blok surplus kaiings en molasse. Die beste was egter toe judge King (wat skynbaar nie die verskil tussen ‘n one-day international en tennis op grasbane ken nie) hom vra wat hy met al die los dollars in sy huis gemaak het. Hansie antwoord toe heel kalm dat hy dit in sy Adidas toksak gesit het. Sien, net soos hy altyd sy Adidas keps moet dra wanneer hy met vet Trevor Quirk tydens die postmatch prizegiving praat, net so moes hy sy sponsorship laat deurskemer in ‘n uur van nood. Wie weet, dalk bring hulle die spesiale Hansie Adidas bag uit, met ‘n gat in of ‘n vals bodem of iets. Dit was tog anyway, who made him do it again? (The devil made him do it.)
Dis soortgelyk aan daai advertensies in cool tydksrifte soos die National Geographic of Getaway waar hulle duur Rolexe en ander horlosies wat alles kan doen van koffiemaak tot voete masseer adverteer deur Recces wat kaalvoet tot by die Suidpool geloop het, kaalgat deur Valsbaai geswem het of kaalhand tiere gestoei het. Laat dit mens werklik dink, jislaaik ja, dit klink nogal na ‘n bak idee om na die Suidpool toe te loop, ek gaan koop sommer onmiddellik ‘n Rolex? Ek dra MTN t-shirts maar het ‘n Vodacom foon. Dink jy aan daai stupid vrou op die Dove advertensie voor jy Dove seep koop? Want ek dink aan daai swart vrou op die sekonde wanneer ek my Lifebouy koop. En hoekom is daar nooit witmense in Lifebouy advertensies nie? Anyway, die punt wat ek wil maak is dit: Hansie is nie so skuldig nie. Sy ondergang is deels gereël deur Adidas, Energade en die mense van Spur. Dit is tog obvious.
En dis dit…
Watkykjy staan op 3,091,024 post views in totaal sedert 1 November, 2019.