Snotstorie
Regte lewe, regtig zef.
Wkj? En M-Web Afrikaans slaan vuis
GRopper & chiffin
Teen die backdrop van die gemors in die Ooste kom die lied van 'n volk se ontwaking wat aarde laat sidder en beef. Die vlae word gestryk te midde van hartroerende trompettergeskal. Ek's mal oor die reuk van appels swaai in die oggend.
Alles het begin met 'n kommunikasie van 'n onder- grondse London-gebaseerde korrespondent en stigterslid van wkj? - Super Deluxe 3000. Hierin word wkj? in kennis gestel van die moontlike diefstal van ons 'ou koeie'. Eers natuurlik gedink die fout lê by ons. Is ons harte op die verkeerde plek? Moes ons die slap drade nagegaan het? Is ogiesdraad die oplossing? Gaan daai kolle op die matras ooit uitkom?
Onmiddellik gaan die ge-oliede wkj? oorlogmasjien oor tot aksie. 'n Staat van irritasie word summier afgekondig en 'n e-pos spitsberaad volg. Hierin word besluit om M-Web Afrikaans per e-pos te kontak voordat die M-Web Afrikaans sait en onskuldige civilians deface word.
Ons polish solank die voorlaaiers, sit die buskruit op ys, check die ketties se rekke en tel ons ghoens. Die jaghonde word die vlaktes ingeja.
Twee dae, geen reaksie nie. Jy kan die spanning met 'n mes sny. Die wkj? militante vleuel val aan met 'n vengeance en oordadige humor. Guerilla vegters van regoor die wêreld access die forums op afrikaans.mweb.co.za en plant landmines en adverteer blatant die wkj? sait, sommige onder vals name en ontwrig sodoende die vloei van gedagtes tussen upstanding Afrikaners wat nie van beter weet nie. Selfs die wkj-posluis word gebruik om meer terroriste na die M-Web sait te lok. Rye en rye troepoe meld aan vir diens, volk en vaderland se voortbestaan.
Oorlog is darem maar lelik.
M-Web Afrikaansgangers slaan terug met pap handjies, simpel insults en beroepe op M-Web Afrikaans management. Steeds geen wkj? casualties nie. En M-Web Afrikaans swyg. Die oorlog duur voort en steeds geen teken van die ou koeie nie. Dié kruip net dieper en dieper in vreemde grotte in.
Meer as 'n week later kry wkj? 'n ellelange brief van die alleged stigter van M-Web Afrikaans toentertyd. Ons lees dit en vat 'n sluk van ons water. Vee met die agterkant van ons hand oor ons voorkop. Kyk oor die slagveld. Vat nog 'n sluk water. Skud ons kop.
En gee die 'Draai terug' teken. Dis verby ...
… vir nou.
'n E-pos beraad bepaal dat 'n tydelike skietstilstand van toepassing is. Die wkj? top bra's is tevrede. 'n Simpel Afrikaanse sait is bloedneus geslaan en ons vegters het 'n kans gehad om strategie te implementeer. Veral die ontwrigting van webforum kommunikasie, blatante advertering van eie belange en die verhoging van algemene irritasievlakke kan as suksesse opgechalk word.
Graag wil ons die wkj-militante vleuel se troepie-doepies uit die diepte van ons swart harte bedank vir hul onbaatsugtige en patriotiese ter hulp snelling. Sonder julle oukies sou die loopgrawe nie vol m-bloed gewees het nie.
Viva die Zef, viva!
Slagvelde
terug   |  
|