Ek het sopas Koos Kombuis se Outobiografie neergesit. Dis ‘n boeiende verhaal van ‘n jong man genaamd André le Toit. Koos slaag daarin om sy karakter se eienskappe “karaktereienskappe” so te ontwikkel dat hy teen die einde van die boek ‘n paar paralelle met sy eie lewe kan trek. Die boek was geweldig insiggewend dog snaaks, ek het gelag… en gelag… Ja my enigste kritiek teen die boek was dat daar nie meer seks in was nie. Ek meen dit sê tog “seks” op die omslag. Gelukkig is daar genoeg snaakse vloekwoorde in die boek soos: fok, kak, tiete en hy sê selfs meer as eenkeer poes. Hy’s nogal snaaks… die Koos. Ek het gelag.
Nes in sy liedjies vloek hy nogal baie. Al waarvan ek nie so baie gehou het nie was dat hy van baie dwelmmiddels wat verslawend is in sy boek praat. Hy het selfs gesê dat hy dagga gerook het en LSD gevat het. Gelukkig weet ons dat die regte Koos net Tassies drink. Dit staan so op sy ghitaar en ek en my vriende koop elke keer by sy shows vir hom ‘n bottel Tassies. Dan speel hy gewoonlik vir ons “AWB Tiete”… dis my gunsteling liedjie. Ek en my vriende raak altyd snotters en staan dan heel voor by die show en skree kliphard “AWB Tiete” tot hy dit speel. Dan lag ons verskriklik baie.
Die boek is die moeite werd. Veral as jy al klaar al sy CD’s het soos ek. Ek is beslis Koos se grootste fan en juis daarom kan ek hierdie boek aanbeveel. Ek skryf self ook liedjies en sing ‘n paar covers soos Toto se “Hold the line”, “Hey Jude” en Matallica se “Unforgiven” vir optredes kan julle my skakel by 012 555 2020 of e-mail my by Johan@elvispresley.co.za. Soos ek sê het ek die boek terdeë geniet. Vandat ek dit opgetel het kon ek dit nie neersit nie… wel behalwe toe ek met die bruin beer moes gaan worstel en my konsentrasie verbreek was.
Koos vloek nogal baie in die boek. Dis moerse cool. Hy sê ook poep ‘n hele paar keer.
Koos A. Kombuis vir president.




Die Engelse Boertjie
(deur Skipper Glen)
Almal ken vir Clive Bruce as ‘n groot “country” sanger, eens geassosieer met “Sing Country” wat Sondae aande op SAUK gewys het. Sy doel met hierdie program was om om jong en onbekende sowel as bekende kunstenaars aan die publiek bekend te stel, maar daardie goeie ou dae is ook nou iets van die verlede.
Daar is meer aan Clive as wat almal besef. Hy sing nog graag en tree dwars oor die land op. Hy sing Engels sowel as Afrikaans, wat natuurlik vir ons, die publiek ‘n bonus is. Jonk, oud, Afrikaans en Engels, hy val in almal se smaak en glo min mense besef dat hierdie Engelsman net so goed Afrikaans kan sing, die “Engelse Boertjie”.
As jy al 36 jaar lank in die musiekbedryf is in SA moet jy sekerlik ‘n mening kan lig oor wat met die Suid Afrikaanse musiek in die land aan die gebeur is. As jy vir Clive vra wat hy dink, antwoord hy: “Bitterlik ongelukkig. Afrikaans en veral wit kunstenaars word tans baie afgeskeep op die streeks radiodienste en veral die SAUK. Wat het van Suid Afrikaanse musiek geword op TV, waar is die video’s van kunstenaars, jonk of oud? Moenie vir my sê dat ons nie talent in ons land het nie, veral jong talent. Ek het my kans gekry om van vroeë ouderdom te kon sing en op te tree in hierdie pragtige land van ons. Waar is die jong mense? Dit het sekerlik niks met politiek te doen nie, of is daar net nie meer genoegsame geleenthede vir die jonger sowel as ouer kunstenaars om op TV en radio op te tree nie. Is die nuwe SA so anders dat ons nie meer geleenthede wil skep vir hulle om ook ‘n plek in die musiekwêreld vir hulle self te reserveer nie? Ek voel of veral Afrikaans eenkant toe geskuif word.”
Kyk jy na Jurie Els of ons eie porn ster, Patricia Lewis begin jy meer die bedryf in perspektief sien. Verder sê Clivie “Almal hou van internasionale musiek, selfs ek, my persoonlike gunsteling is Garth Brooks. Ons het soveel talent van alle gemeenskappe in ons land. Ek wil sien dat hulle blootstelling op ons media kry. Ek is een van die voorstaanders om jong sowel as sukkelende kunstenaars te help om op die been te kom – dit is tyd dat ek aan die publiek wil terug gee vir dit wat hulle vir my soveel jare nou al gedoen en beteken het.”
Clive besit ook die klub ‘Zillertal’ (waar jy ‘n perd nodig het om in te kom) en ons is almal bly dat sy klub so ‘n groot sukses is. Verder hou hy van Boerekos. Clive se leuse is bekostigbare musiek, en een van sy vroeëre CD’s wat pas weer begin versprei is is “Clive Bruce Euro Country” – kyk uit vir die bekostigbare treffer.
Lyk my as jy met Clive praat voel dit of jy hierdie man al jare ken – gemaklik in alles wat hy doen!