Watkykjy interview die cast van die TV-reeks, Hotel!

In Movies en TV deur griffinRek jou bek

Hotel is ‘n mocumentary sitcom wat handel oor al die wel, weë en wandel van ‘n ‘n fiktiewe plattelandse boutique hotel, iewers in ‘n fiktiewe dorpie in Mpumalanga. Ferdie Kruger (gespeel deur James Borthwick) is die bestuurder van hierdie boutique hotel, Die Fransen Hotel, in Fransenburg. Dan is daar ook een van my gunsteling stand-up comedians, Schalk Bezuidenhout, in die rol van wacky en quirky Danny, Simoné Pretorius as Jony, Beer Adriaanse as Thomas, en Martelize Kolver as die hardegat tomboy, Brenda. Verder is daar Mila Guy (sy is hierdie maand sommer ook  op Rooi Rose se voorblad!) as Malanie en De Klerk Oelofse as arme ou fokken Jaap. Die dweeb wat heeltyd aan die agterste tiet suig. Shame, man.

Ek het bietjie minder as ‘n jaar gelede eers hierdie skreeusnaakse Afrikaanse program ontdek en destyds vir Beer Adriaanse daaroor uitgevra. Die eerste twee reekse het my deeglik impress en in Augustus verlede jaar was daar aangekondig dat season 3 ook op pad DStv toe was in Januarie 2019. Ek as so excited, ek het dit sommer fokken heeltemal gemis! Wel, nie die hele ding nie. Teen die tyd wat ek wakker geskrik het, was dit te laat om die show op live TV te kyk en ek was net betyds om die eerste vier episodes op DStv Catchup ook te fokken mis, wat my glad nie gehelp het nie. Ek wou ook nie halpad inspring nie, maar gelukkig hoef ek net ‘n maand of so te gewag het vir season 3 om op Showmax te verskyn. Ek het vir hom stadig klaargemaak – soos wanneer jy as kind net een glas peink Nesquick per week mag gekry het en dit met ‘n teelepeltjie slukkie vir slukkie geslurp het…

My afwagting en opgewondenheid het ook grotendeels te doen gehad met die feit dat ek  uitgenooi is na die heel laaste dag van season 3 se shoot om op stel te gaan kyk hoe dit verfilm  en direct word. En met “genooi” bedoel ek dat ek hulle aanhou soebat het tot hulle my uiteindelik jammer gekry het en gesê het dat ek maar mag kom kyk hoe hulle die storie doen  daar by die Kleinkaap Boutique Hotel in Centurion. Hulle het my toegelaat om so bietjie behind the scenes footage ook af te neem asook om met so paar van die cast members en die twee creators te gesels tydens hule lunch break. Dit was ‘n moerse lekker dag gewees en dit was befok om met genuine down-to-earth akteurs piele te vleg. Check die video!
Artikel gaan voort na die interview clip:


Toevallig is daar juis gister aangekondig dat Hotel vir ‘n vierde seisoen hernu is! Ek het sommer dadelik vir Schalk Bezuidenhout gebel en hy het sommer dadelik nie sy foon geantwoord nie want hy is tans in Edinburgh met sy show, Schalk Bezuidenhout: South African White Boy. So toe bel ek maar weer vir old faithful, Beer Adriaanse. Die nuus van die nuwe reeks was nog so vars dat hy nie eers geweet het wat mag sê of nie mag sê nie:

“Seisoen 4 bevat ‘n aansienlike meer emosionele storieboog waar die Fransen se personeel met allerhande eksistensiële krisisse gekonfronteer word. Ferdie, wat nog nie heeltemal van sy kortstondige politieke loopbaan herstel het nie, stoei met sy nalatenskap terwyl Thomas en Jony se nuutgevonde vriendskap ‘n onverwagse draai vat en ‘n splinternuwe karakter aan Fransenburg bekendstel. Daar is allerhande veranderinge in die lug en selfs Danny en Malanie se verhouding moet ‘n paar wilde bollemakiesies maak om te probeer oorleef. Boer Jaap begeef hom aan ‘n interessante 19-stap program om oor sy liefdeskwale te kom, Brenda se kindertydtrauma kom na vore en ‘n beroemde Afrikaanse kunstenaar kom lewer ‘n opspraakwekkende praatjie by die hotel.

Die vierde seisoen ontrafel teen ‘n vinniger spoed as ons vorige seisoene. Ons kon dit in die skryf al voel en met die skiet het dit net meer duidelik geword. Daar is meer tonele, meer grappe en meer belaglike situasies as ooit tevore. Verwag stakende pensioenarisse, koeëlwonde, stootskrapers,begrafnisse, laerskoolrugbyspanne en die gewildste spesiale muffins wat Fransenburg al ooit gesien het.”

Jirre, die man praat mooier Afrikaans as Breyten Breytenbach wat op André P. Brink se skoot sit en druiwe gevoer word deur Antjie Krog…

Ek kan nie wag vir seisoen 4 nie en ek het reeds gevra of ek weer op stel mag gaan kuier. Ek wonder wat vir lunch is… Jy kan solank die eerste drie seisone van Hotel op Showmax gaan kokkenodge. Dis ‘n totaal van 39 episodes wat jou vir rukkie lank uit die moeilikheid sal hou. Daarna kan jy bietjie gaan rondkrap en ander movies, kortfilms en reekse kyk waarin so paar van Hotel se akteurs ook speel en dan sal jy besef dat hulle moerse versatile is en nie net one trick ponies is nie. Schalk is byboorbeeld te sien in Die Ware Naarheid, Die kliek, Skerpskerts, Beloofde Land en Die Spreeus. Vir Beer sal jy teëkom in Vir Onbyt, Wonderlus en Kanarie (waarin Schalk die lead speel). Mila (ook Beer se girlfriend in regte lewe) is ook te sien in Wonderlus.  Mila se movie en TV score op die Watkykjy Showmax-meter is die hoogste tussen haar en haar kollegas (dit sluit bae in – Bae Adriaanse). Sy vertolk ook rolle in Vlugtig, Vuil Wasgoed, Liewe Kersvader, Ballade Vir ‘n Enkeling en Binnelanders.

Het ek al vir jou gesê dat sy op die cover van Rooi Rose is hierdie maand?
#SulkeTrots

Click ook sommer hier of op Mila se cover om jou deur te vat na Showmax se 14-dae free trial om Hotel season een tot tot drie te chain smoke soos ‘n standerd sewe laitie agter die fietsloods tydens tweede pouse. Hotel seisoen 4 begin January 2020 op kykNET wys,en sal tergelyke tyd beskikbaar wees op Showmax.

 

 

 

griffinWatkykjy interview die cast van die TV-reeks, Hotel!

Gooi Comment