Dik fokken dubbel metal Donderdag! Overhex en Chaos Doctrine!

In Rolbees Reviews deur RolbeesRek jou bek

Chaos Doctrine het ons reeds twee maande gelede laat weet dat dié offerhande uit die vlamme van verdoemenis gaan ontsnap. Ons kon nie die naweek van die launch verby die boereworsgordyn kom en die Jukskei oorsteek na Johannesburg nie. So ek het maar gewag vir die regte geleentheid om daaroor te skryf.  Chaos Doctrine het verlede jaar Watkkykjy se ore laat tuit met hulle bose, sataniese musiek. Sies, ons was geskok en kon nie slaap vir weke nie. Ons het die album vir Rodney Seale ook gestuur maar geen terugvoering ontvang nie. Dink julle hy het dit dalk te veel geniet? Swart katte het ook oral in my buurt verdwyn. Net soos in die tagtigerjare. Daar was baie beloningsplakkate oral. Toe ek die antie by die SPCA bel en my bekommernisse breedvoerig vir haar verduidelik het sy gevra of ek besimpeld is en net die foon doodgedruk. Baie ongeskik, as jy my vra.

Die songs op hierdie EP is alternatiewe mixes van bestaande songs wat op hulle debuutalbum uitgereik is. Ek verneem ook hulle is besig om ‘n nuwe album op te neem. Mmm, kom ons hoop dis so befok soos die eerste een. Ons het hulle verlede jaar daaroor ge-interview. In hierdie week het ‘n jong band genaamd Overhex ook hulle selfgetitelde debuutalbum vir ons gestuur en wragtag, daar kom die posters van verlore swart katte weer op hier in my buurt. Vreemd nê? Dink julle ek moet maar weer die SPCA probeer waarsku?
Ok, so ek het gedink om vandag bietjie iets anders te doen. Die idee is nou nie eintlik om die twee albums hier te vergelyk nie. Die lede van Chaos Doctrine is veterane wat al dekades lank in die game is en dit lyk of Overhex onlangs in 2015 of 2016 begin is. Ek dink meeste van julle wil hê hierdie harde negatiewe musiek moet aanhou groei, nie waar nie? So kom ons betrek bietjie die jonger bands wat genoeg guts het om hulle musiek so lekker rond te stuur.  Daar was iets van die tunes wat my aandag getrek het. Ek moet nou net uitfigure wat dit was. Ek het gedink dit sal interressant wees om gesamentlik en afsonderlik my indrukke te gee van hierdie twee verskillende do-it-yourself bands. Wie weet? Dalk leer iemand iets uit die hele oefening? Meestal ek, vir seker!

Wat mixing en mastering aanbetref kan nie Jocke Skog, of JP Stefani, of wie ookal, ongeslypte musiek regtoor nie. Dit wat die band aan die begin vir hulle gegee het moes alreeds van top gehalte gewees het. Selfs met vandag se cut and paste/quick fix digitale opnames. As dit kak klink voor die mixing en mastering towenaars begin toor, dan gaan dit nog steeds kak klink na hulle klaar is ook. So wees bewus daarvan dat hierdie donker perde meesters is van old school thrash metal, death metal en industrial. Hulle sukses lê waarskynlik meer in die regte vermenging van al hierdie genres sonder dat dit verouderd klink of in die verlede verstik raak. Ek hou baie van soundbites in musiek wat soos movie soundtracks klink. Mens hoor dit minder deesdae. Ek hoor wel bietjie meer industrial elemente op dié version van FTG (4000 Years of Lies remix) en weer minder industrial elemente op Incubator (Primal Demix). The Genocide Number, wat een van my gunsteling metal songs geword het, het hulle ook nou in Afrikaans opgeneem en hulle roep hom The Patriot Mix. Fokkit, die woord ‘massamoord’ klink net soveel gevaarliker as ‘genocide’ wanneer dit deur ‘n maniese takhaar geskrou word in ‘n klipharde metal song. Die song Cult is ook meer vereenvoudig op hierdie EP en alhoewel hulle presser beweer die finale produk is nie ‘n filler voor die volgende album nie, dink ek weer dit is presies wat dit is. But who cares?

Almal betrokke het lekker rondgespeel en die eindresultaat is meer musiek vir fans. Nie baie bands gee so baie musiek uit in vandag se afgewaterde musiek-streaming-bedryf nie. Ek het al paar keer geskryf oor hoe Trent Reznor (en onse eie Terminatryx) wonderlike tegnologiese kuns saam met ander kunstenaars/platejoggies pleeg. Chaos Doctrine se harde, vinnige en pynvolle loesings word met kwaliteit uitgedeel vir almal wat dit wil hoor. Dit moet verkieslik kakhard gespeel word! O ja, Dr D (oftewel die maniese takhaar) het ook vir my ‘n digitale cover van Motorhead se Ace of Spades gestuur en ek vermoed dit sal seker ook op die CD wees as jy dit by die band koop. Hulle speel dit baiekeer live. Lekker version. Lemmy sou dit smaak!

Ok, kom ons kyk na Overhex. Die laaities het meer van ‘n The Exploited punk-rock gevoel. Dis waarskynlik hoekom hulle my aandag getrek het. Maar nie soos in die late-seventies en early eighties toe hulle nog nie vir ‘n fok hulle instrumente kon speel nie. Meer soos The Exploited van die mid-nineties met die Beat the Bastards album – net nog rowwer. Hierdie laaities is ongeslypte diamante. Ok, wag. Overhex is ook thrash metal? Klink hulle miskien dalk ook soos Suicidal Tendencies ook? Laat ek gou eers weer gaan luister.
(Intermission – raak verdwaald vir ure in ou thrash metal albums)

Yebo! Nou weet ek hoekom ek dit gelike het toe Griffin dit vir my gestuur het. Ek het net so vinnig van my selfoon af geluister, but I can smell good shit from far away. Ek hoor nou hierdie dudes volg nie die normale geskiedkundige grondpaadjies of teersnelweë nie – dit klink of hulle deur die bos wil fok met sulke kitare wat soos pangas lyk.

(Intermission: luister gou eers die hele album op Bandcamp https://overhex.bandcamp.com/releases  via Bluetooth op my Soundbar.)

Ek kan nog nie mooi hoor hoe die recording kwaliteit is nie, maar met hierdie hardcore punk-metal vibes maak dit seker nie so erg saak nie? Overhex het ‘n lekker sound so ek dink hulle moet net aanhou kap met hulle panga-kitare. As mens met so baie genres eksperimenteer dan is daar nog soveel meer onontdekte plekke in die veelal waarnatoe jy kan groei. Tussen envoudiger punk en ingewikkelde tegniese thrash metal is daar jare se planete. Hoe hulle dit ookal wil doen, dis hulle energie wat die dryfveer gaan wees!

RolbeesDik fokken dubbel metal Donderdag! Overhex en Chaos Doctrine!

Gooi Comment