Die karoppas-kartel – Is Dit Net Ek Of Is Als Tos?

In Is Dit Net Ek Of Is Alles Tos? deur griffinRek jou bek

Ons (griffin & chopper) se boek, Is Dit Net Ek Of Is Als Tos? word hierdie jaar (2018) teen Augustus se kant 10 jaar oud. Om dit te celebrate het ons besluit om alfabeties met die lys af te gaan en ‘n paar topics uit die boek te kies om weekliks hier op Watkykjy te publish, seinde dat ons die regte besit. Dis lekker kort stukkies wat jy op die kakhuis kan lees. Dink daaraan as jou klein zef kakhuisbybeltjie met pitkos vir elke dag… Wel, elke dag tot ongeveer Augustus.

Die karoppas-kartel

Iets wat meeste van ons ons lappies lelik laat verloor is ongelukkig so alomteenwoordig dit kon net sowel vigs gewees het. Van die Kaap tot in Musina wemel die strate van glorified bedelaars wat onder die vaandel van karoppassers ‘n “diens lewer” en sodoende geld “verdien”.
Weet jy hoe gatvol ek daarvoor is om self ‘n parkering met my twee pragtige blou oë raak te sien en my flikker aan te sit, maar dan anker te moet gooi omdat ‘n lapswaaier oor die pad aangedraf kom om my in “sy” parkering, wat hy van oorkant die straat aangewys het, in te help? Dis syne, sien, want hy is werkloos en hy staan elke dag hier. Dus kom die huurgeld hom toe. Soms dra hy selfs ‘n verbleikte neon borslappie om dinge meer amptelik te maak.
Klim uit en jy word plegtig belowe dat jou nuwe Franssprekende vriend baie mooi na jou kar sal kyk. Dit, alhoewel jy ‘n alarm, immobiliseerders, Tracker, ratslot, Psalm 110 en versekering aan jou kant het. En voor die polisiestasie geparkeer is. En jou battery ontkoppel het.
Weier om te betaal (“My kar kyk na homself, los maar.”) en wees reg vir enigiets van ‘n vuil kyk tot ‘n binnesmondse dreigement oor die veiligheid van jou kar of spesifieke dele daarvan.
Kom ons dink nou mooi hieroor: iemand wat reeds moontlik die wet oortree, dreig jou met jou eiendom se veiligheid tensy jy hom betaal, met die stille ooreenkoms dat hy jou kar teen die ander karoppassers in die straat sal beskerm. Nee wat, klink maar vir my soos goeie ou afpersing.
Ek verstaan heeltemal dat die ouens ‘n harde tyd het – veral die gekwalifiseerde ingenieurs en wat nog uit Afrika was as vlugtelinge hiernatoe stroom en nie kan werk kry nie. Dis onregverdig. Maar net so verstaan ek ook dat niemand my kan dwing om te betaal vir iets wat nie syne is nie. En niemand kan my intimideer en dreig om my eiendom skade aan te doen nie. Fok dit. Dis nie Sisilië in die dertigs nie, pêl. Bat jou neon borslap en duik.
Ek sal my kanse met Santam vat.

Is Dit Net Ek Of Is Al Tos is in 2008 geskryf en uitgegee en daar was so baie copies verkoop dat ons dit in 2009 laat herdruk het. All-in-all is daar nog net so 10 onverkoopte copies oor op aarde en ons sal teen Augustus se kant besluit wat om met hulle te maak. Kort antwoord – dis nie tans te koop nie.
Place your ad here

griffinDie karoppas-kartel – Is Dit Net Ek Of Is Als Tos?

Gooi Comment