Vat Vyf! Week 40 van 2018 – Selfiesterftes is die nuwe swart!

In Wat is nuus? deur PK MalherbeRek jou bek

1) Die Universiteit van Pretoria het aangekondig dat daar besluit is om verskeie van sy koshuise se name te verander om ‘n meer multikulturele, inklusiewe leefomgewing vir student te skep. Daar is blykbaar wyd met HK’s gekonsulteer voor die besluit geneem is en gesprekke is ook met alumni gevoer. Dis alles fine en well wanneer mens na van die naamsveranderinge kyk – so word Kiaat bv. Tirisano en Jasmyn word bv. House Khutso. Maar daar word duidelik ‘n skrikbewind teen die letter “k” gevoer wanneer mens sien dat Erika verander na Erica en Kollege word College. Goeie foc! Geen geldvercwisting hier nie. En iewers het iemand ‘n ekstra “e” gehad – Curlitzia word Curelitzia. Taaibos word The Tower – “Watter koshuis is jy Raoul?” “Tannie, ek is in… verdoemende musiek begin speel… The Tower.” En nee, Katjiepiering word nie Catjiepiering nie. Dit word sommer Azalea, want foccen sinneloosheid blom by Tucs.

2) Meeste radio deejays is maar vol aapstreke, maar Sasha Martinengo, die Brekfis-aanbieder op “community” radiostasie, Hot 91.9FM, het hierdie week sy rieme styf geloop toe hy na Julius Malema as ‘n “monkey” op die lug verwys het. Hoewel Martinengo volhou dit was in response op Malema se minagting van vroue, het die radiostasie die aap uit die mou gelaat en aangekondig dat hy summier afgedank is. Sy uitlating is veroordeel deur die EFF, die Mensregtekommissie, die Ahmed Kathrada-stigting, die Suid-Angolese Pynappelraad, die huiscomitee van die Erica en College coshuise op Tucs, die ouderlinge van die NG-kerk op Volksrust en die voorsitster van die LRSIMTA-beweging (Lesbiese Rofstoeiers In Modder Teen Akronieme.)

3) Daar is hierdie week aangekondig dat die getal sterftes wat direk gekoppel kan word aan die neem van selfies die onrusbarende totaal van 259 bereik het vir die tydperk 2011 – 2017. En dis oor die hele wêreld. Nou wil ‘n klomp wetenskaplikes hê dat daar spesifieke “geen-selfie-sones” ingestel moet word, want die mensdom is mos besig om fokken uit te sterf. Dankie julle slimjanne. My logika sê as jy ‘n selfie wil neem op die randjie van ‘n afgrond, is dit miskien maar jou tyd om te gaan. En 259 mense oor 7 jaar? Daar is meer mense dood met die aankondiging van die mees onlangse petrolprys.
4) ‘n Vrouereeksmoordenaar wat in 1995 tot lewenslange tronkstraf in Engeland gevonnis is, het ‘n koekbakkompetisie gewen in die tronk waar sy aangehou word. Sy is destyds skuldig bevind aan die moord op 10 vroue en meisies, insluitende haar eie tienerdogter en agtjarige stiefdogter. Mens kan maar net aanneem dat die kranige bakster wat duidelik ‘n ding vir koek het, besig is met ‘n rehabilitasieproses waarvan die onlangse oorwinning as die kersie op die koek beskryf kan word.

5) Dit blyk die Engelse royal family het meer as een queen. Dit kom nadat ‘n neef van Koningin Elizabeth II die eerste koninklike geword het om met iemand van dieselfde geslag te trou. Maar as mens kyk na die kommentaar op sosiale media en die interwebs, is dit duidelik dat daar al vir jare mense is wat met iemand van dieselfde geslag trou en wat dink hulle is koninklik verhewe bo ander. En met dieselfde geslag bedoel ons die geslag van agterlike, onopgevoede, veroordelende, voor-in-die-kerk-sittende onberispelikes wat al vir leeftye met mekaar trou. Dis okei Tannie, meer plek in die hemel vir jou.
Place your ad here

PK MalherbeVat Vyf! Week 40 van 2018 – Selfiesterftes is die nuwe swart!

Gooi Comment