Infomercials – Is Dit Net Ek Of Is Als Tos?

In Is Dit Net Ek Of Is Alles Tos? deur griffin en Chopper CharlieRek jou bek

Ons (griffin & chopper) se boek, Is Dit Net Ek Of Is Als Tos? word hierdie jaar (2018) teen Augustus se kant 10 jaar oud. Om dit te celebrate het ons besluit om alfabeties met die lys af te gaan en ‘n paar topics uit die boek te kies om weekliks hier op Watkykjy te publish, seinde dat ons die regte besit. Dis lekker kort stukkies wat jy op die kakhuis kan lees. Dink daaraan as jou klein zef kakhuisbybeltjie met pitkos vir elke dag… Wel, elke dag tot ongeveer Augustus.

Infomercials

Dit maak regtig seer om vir die akteurs te kyk. Die oorreaksies is vreesaanjaend. Mense wat tot die dood toe met alledaagse produkte sukkel. Stupid goed, man. Soos stofsuig, karwas of oefening. Hulle gaan soos method actors tekere. ‘n Onbeholpe tannie sny haar vingers af die stomp bottermes waarmee sy die geur probeer regmaak. ‘n Snaar propper ‘n stortkop installeer en verdrink sy hele buurt. Vet mense probeer draf en val in die straat om terwyl toeskouers in die straat hulle mae vashou soos hulle lag en melk so by hulle neuse uitspuit.

Enter die peperduur infomercial-produk wat wat nie anders kan as om jou lewe onherroepelik te verander nie. Alle loop honky dory, voëltjies fluit en jou geld kry voete.
Ek wed jou R100 dat hierdie wonderprodukte nou in jou garage staan en stof opgaar en dat spinnekoppe en gestremde katjies daarin uitbroei. Bewys my verkeerd, ou grote.
Daai opblaasmatrasse wat kan double as ‘n lilo vir jou swembad:
Hiper-tos advertensie wat ‘n wondermatras adverteer. Mense wat kwansuissleg slaap op hulle gewone beddens gemaak van gewone materiaal kan nou op plastiek dos. Hulle ry dan met ‘n swaar industriële voertuig oor die matras, so asof dit enige oomblik regtig kan gebeur. Hoeveel swaar industriële voertuie het jy al bed toe gesleep?
Die wondermatras het sy eie pomp wat binne 45 sekondes vir jou ‘n bed aanmekaarflans. Die ding kan pomp of suig (ek stem vir suig). Maar wag, daar is meer! Jy kan ook ander goed vakuum-verpak met die gratis sakkies en die pompie wat jy score. Hoera! Verbeel jou ‘n laitie se gevreet as hy eerste pouse se vacuum-packed toeba wil eet en ma het per ongeluk ouboet Fransie se vacuum-packed onna ingepak. Heavy sad.

Big Green Clean Machine:
Seker dié kakste naam wat mens vir ‘n elektriese toestel kan uitdink. Dit rym so en alles. Sal my nie verbaas as Rikki Lake die naam uitgedink het nie. Sy kan ook mos rym. Wat hierdie toestelletjie so merkwaardig maak, is die feit dat hy begin werk voordat die onskuldige koper daarvan bewus is. Dit lyk vir my of hy jou beursie leeg suig voor jy die kans kry om jou matte one-shot van die vloer af te suig saam met ouma se bal-en-klou stel wat jy geërf het. In die infomercial suig hulle ‘n bowling ball vas en laat dit in die lug hang. Relevance, your Honour?

Powerwash
Hierdie outjie wat uit die Bedazzler-era dateer is een van my persoonlike gunstelinge, juis omdat dit een van die eerste infomercials was – eb ons een besit het. Die ad was ook net tien minute lank, na Loving op M-Net se oopkyktyd.
Skroef hom net vas aan die punt van die tuinslang, tesame met een bottel chemikalië (gratis ingegooi as jy in die eerste uur gebel het) en was dan jou kar, die hond, die bure kinders, jou vuilbek mond en jou gewete.
Die ding werk goed vir twee jaar lank totdat die hond die nozzle opvreet of die bottel met die wonder-chemikalië wat ek nêrens kan opspoor nie. Lekker fast-moving consumer goods. Vinnig van die rak af sodra genoeg verkoop is en die oorblywende plastiek in die fabriek word gebruik om daai simpel kak te press wat jou aartappel en komkommers so oulik laat lyk in slaaie.

Dial-a-bed
‘n Tolvrye nommer wat 24 uur beman word. Om beddens en matrasse te bestel. Waar in jou lewe het jy gesien dat iemand drie-uur die oggend regtig so dringend ‘n bliksemse bed nodig het?

“Oe ek is nou regtig stukkend ouens, hieso is my kredietkaart details. Laai asseblief ‘n queensize bed met ‘n Superman duvet by die Fonteine sirkel af. Ek kan nie verder bestuur nie. Julle is die enigste ouens wat die foon hierdie tyd van die oggend antwoord. Dank Vader!”

“Sekerlik meneer, ons Dial-a-Bed trokkie is daar binne 45 minute, of jy kry jou matras verniet!”

Beta Learning Kit
Jy koop ‘n spul CD’s wat kak tunes speel en dit enhance glo sekere golwe in jou brein versterk sodat jy kan konsentreer, herlaai en beter onthou. Die arme outjie met die puisiegevreet (waarvoor daar ook toevallig ‘n oplossing is) kan skaars sy  woorde vir die advertensie onthou.

Bauer potte en panne
Fair enough, niks klou aan die bodem vas nie en jy kan letterlik ‘n pannekoek van die pan afblaas maar traai die kos eet wat jy in die blerrie goed kook. Alles proe so fokken heilsaam, jy moet omtrent ‘n half lieter kookolie en ‘n eetlepel sout in die kos vou net sodat dit darem na iets smaak. En dan hou die pan sy hitte so donners lank dat jy hom eers volgende Dinsdag kan uitspoel.

Prolong
Die ultimate olie vir jou ryding. Konstrukiewerkers, neem kennis. ‘n Halfliter van hierdie olie in jou engine en jy hoe nooit weer oor iets te worry nie. Jy kan kan nou twee-ton sand rondkarwy, een agterop die bakkie en een voor in die enjin, komplimente van Prolong.


Is Dit Net Ek Of Is Al Tos is in 2008 geskryf en uitgegee en daar was so baie copies verkoop dat ons dit in 2009 laat herdruk het. All-in-all is daar nog net so 10 onverkoopte copies oor op aarde en ons sal teen Augustus se kant besluit wat om met hulle te maak. Kort antwoord – dis nie tans te koop nie.

Hierdie post is 2 keer in totaal gelees en 1 keer vandag gelees.

Watkykjy staan op 37,207 post views in totaal sedert 1 November, 2019.

Share dit faktap
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
griffin en Chopper CharlieInfomercials – Is Dit Net Ek Of Is Als Tos?

Gooi Comment