Ons chat met Beer Adriaanse oor Hotel (‘n fokken snaakse Afrikaanse TV-reeks)

In Snotstories, Watkykjy Interviews deur griffinRek jou bek

Hotel is ‘n mokumentêr oor wat aangaan in ‘n fiktiewe plattelandse boutique hotel, iewers in Mpumalanga. Ferdie Kruger is bestuurder van ‘n boutique hotel in Fransenburg. Die Lourier hotelgroep koop hierdie rowwe diamant en stuur vir Thomas (Beer Adriaanse) van hoofkantoor, om die oorgang te monitor. Ek het toevallig op hierdie reeks afgekom terwyl ek na iets anders gesoek het en was dadelik ingetrek. Aanvanklik sou ek iets review-erig hieroor skryf, maar ek was so impressed gewees met die acting, skryfwerk en die feit dat ek gereeld hardop gelag het, dat ek besluit het om so bietjie meer behind-the-scenes info te kry by Beer Adriaanse, wat die tol van Thomas vertolk.

So ek het hom toe met so paar vrae ge-peper.
Die draaiboekskrywers is Stiaan Smith en Bennie Fourie – wie is hierdie ouens en wat is hulle agtergrond? Die skyfwerk is fantasties.
Stiaan en Bennie is twee turke wat albei al naam gemaak het as akteurs, skrywers en regisseurs. Bennie kom uit die donker Potchefstroom improv-underground en Stiaan het sy tande geslyp as ‘n drama student by AFDA. Ek het vir Bennie ontmoet by die Silwerskerms toe hy daar was met sy kortfilm, Vuil Wasgoed, en vir Stiaan het ek ontmoet via ons albei se betrokkenheid met die film, Vir Altyd. (Ek was die trou DJ en hy was die man wat by die altaar gelos word.) Hulle twee het die eerste seisoen geskryf en toe van die 2de seisoen af het hulle vir Ryan Metcalfe en myself betrek as mede draaiboekskrywers. Slegs hulle sal weet of dit ‘n goeie idee was.
Vat die directors input van die akteur ook?
Ja. Gelukkig verstaan almal dat komedie ‘n spansport is en ons werk en verwerk die tonele en grappe op stel en selfs vooraf in sessies wat ons “punchline pimping” noem. Dan kom ons mede akteurs soos Schalk Bezuidenhout, Mila Guy, Barbara Brasington en Simoné Nortmann ook by om te help skaaf aan die tekste. Die algemene reël is dat as jou voorstel die toneel snaakser maak en eg bly aan die karakter sal dit gebruik word.
Hoeveel improv is daar?
Ons probeer om met die skryfslag die tekste so te kry dat ons reeds al die improv-moontlikhede ingewerk het in die komedie. En kyk, ons werk steeds met plaaslike bevondsing en komedie is mos maar die stiefkind van die televisiewêreld hier in Suid-Afrika, so ons skiet teen ligspoed en moet gemiddeld 14 bladsye per dag skiet. Dit gesê maak ons altyd ruimte in die laaste takes om bietjie rond te speel en veral Schalk floreer dan. Bennie het ook hierdie jaar vir twee maande in Chicago gaan swot by The Second City, die grootste improv skool in die wêreld, so hy het allerhande nuwe toertjies vir ons kom leer en ons het weeklikse improv-sessies waar ‘n klomp van ons (insluitend ‘n klomp van die rolverdeling) bymekaar kom om vir ‘n paar ure te improviseer. Hoewel mens so baie opdonner en jou improv-pogings platval, help dit baie en hou dit daai spiere fiks.
Ek is so fokken bly dat die dialoog bietjie natuurlik is. Even met ‘n vloekwoord hier en daar wat ge-bleep en ge-blur word. Dit maak die reeks heelwat meer geloofwaardig en actually kykbaar. Is KykNet besig om bietjie wakker te word of wat is aan’t die gebeur?
Ek vermoed die wêreldwye inhoudsontploffing het gemaak dat selfs kykNET se ouer kykers nou ál meer alternatiewe oorsese programme en reekse sien en dit van hulle plaaslike reekse ook begin verwag. Ons kry meestal terugvoer van jonger kykers, wat bv. op hulle ouers se DSTV Hotel ontdek het, en jonger kykers val nie meer vir daai oordrewe en hoogdrawende Afrikaans nie. As die mense op jou skerm soos jy praat trek dit jou eenvoudig makliker in die storiewêreld in. Dit help ook dat dit ‘n mokumentêr is, so ons moet vir die genre se onthalwe so realisties as moontlik probeer bly, al vang die karakters belaglike dinge ook aan.  Dit help ook dat ons produksiemaatskappy, Nouvanaand, honderd persent ingekoop het in die visie en die vibe op stel so bestuur dat dit ‘n baie gesonde en lekker komedieskeppende plek is. Hulle staan so half bekend as die young guns wast inhoud vervaardig en volgens my is hulle op die voorfront van buite die boks produksies wat veral jonger kykers ook betrek.
Ek het so drie complaints (of konstruktiewe raad of vrae, as jy so daarna wil kyk), so kom ons kry dit gou uit die pad uit.
1
)  Ek raai Graham Weir wat Oom Dirk se karakter vertolk is eintlik engels. Hier en daar slaan die soutie aksent ongelukkig deur. Hoekom is daar nie ‘n Afrikaanse akteur vir die rol gekry nie? Of hoekom kan hy nie maar net Engels gooi nie?
Graham Weir is inderdaad een van die land se voorste Engelse teaterakteurs. Ek het hom onlangs in ‘n stuk gesien wat hy self geskryf en in gespeel het, Dead Yellow Sands. Dit was ongelooflik. Hoewel ek nie betrokke was met die casting-proses nie dink ek die karakter was van die begin af bedoel om ‘n wild card te wees, so hoe meer onplaasbaar hy is, hoe beter. Sy geskiedenis is duister en sy logika en motivering nog meer so. Sover ek verstaan is dit wat hy na die oudisies gebring het en het dit lekker gesit met hoe die res van die rolverdeling uitgespeel het.
2.)    Hierdie is meer van ‘n “I would have done it this way” tipe van wish list item – ek dink julle het ‘n groot kans gemis in season 1 met Ferdie se obsessie om ‘n swembad te grawe. Oom Dirk en Brenda (daai wille vrou) het hulleself  toegesluit in die stoor en het uitgekom deur ‘n hoek met dinamiet faktap te skiet. Ek het seriously vooruit met die storielyn gehardloop en gedink: “Aah, dis fokken slim! Dis hoe die hotel se swembad gaan begin!” Toe gebeur dit nie. Why not? Het jy nie ook gedink dit sou gebeur nie?
Ek het twee antwoorde vir jou. Eerstens, jy moes duidelik in die writers room gewees het vir seisoen 1, want daai is ‘n great idee. Tweedens, moenie dink die sage van die swembad is verby nie… Ook: In komedie is dit nie gesond om vir jou karakters te gee wat hulle wil hê nie. Selfs nie met ‘n dinamietontploffing nie.
3.)    Die kamerawerk en lyk of dit losweg op The Office gebasseer is meeste van die tyd. En dan hier en daar is daar mooier cinemtice-tipe shots. Daar was byvoorbeeld ‘n shot van die kant van oom Dirk wat oor sy gras gesels. Dit het uit plek gevoel. Was The Office ‘n inspirasie gewees? Indien wel, tot in watter mate?
Ek dink die hele tsunami van mokumentêre soos The Office, Parks & Rec, Modern Family en ander het as inspirasie gedien. Ons almal, insluitende James Borthwick, wat Ferdie speel en byna 70 is, is groot aanhangers van die groot pappa van mokumentêre, Spinal Tap, sowel as al Christopher Guest se flieks, soos Best In Show, A Mighty Wind en For Your Consideration. ‘n Belangrike deel van seisoen 1 was om egter ons eie visuele taal te skep vir Hotel, so ek dink ons het ge-eksperimenteer tussen genres en om nou en dan beter kamerawerk in te span. Jy sal sien ons het met seisoene 2 en 3 nog verder gegaan met die eksperimente. Dis vir ons belangrik om onsself te geniet en as ons wonder of ons iets moet probeer, dan beteken dit gewoonlik ons moet dit JUIS probeer. Dis nie asof ons bang is ons gaan nie ‘n Golden Globe wen nie… Tydens die eerste seisoen het ons wel geweldig baie klagtes oor die swak kamerawerk gekry, maar dit was meestal mense wat nie verstaan het dat die kamera moet ‘n dokumentêre span naboots nie en dat dit doelbewys heeltyd in en uit “crash”. Van seisoen 2 af het die klagtes basies opgehou. Dit wys jou net as mense net eers gewoond raak aan iets sal hulle eintlik enige ding kan geniet. Die lekker ding van die bewegende kamera is dat dit ‘n ongelooflike stuk komediese gereedskap is. Jy beklemtoon sekere dinge en die lens word as ter ware nog ‘n karakter in die storie.
Soos ek reeds genoem het – die reeks is genuine fokken snaaks. Watter scene het die meeste re-takes geverg omdat julle heeltyd van die lag uitgebars het.
Daai is ‘n moeilike vraag, want ons corpse nogals gereeld. Veral as die tonele wilde wendings neem wat nie die skrywers, akteurs of regisseurs voorspel het nie. Daar’s ‘n “hof”-episode in Seisoen 2 waar ons basies vir die hele episode in een location was, en daar het ons bitter gereeld uitgebars. Veral vir Danny se gedaanteverwisselings deur die episode.
Hierdie reeks het nie net die potensiaal om die beste Afrikaanse sitcom te wees nie, want dis reeds heel bo on top of the pile. Vir hoeveel seisoene lank dink jy gaan hierdie outjie nog bene hê?
Ons het aanvanklik gesê net 3 seisoen, maar ons begin binnekort aan seisoen 4 skryf, so ek is nie seker nie. Dit gebeur baie gereeld dat reekse hulself oor die afgrond laat gaan tot by die punt waar niemand dit meer geniet nie en dit basies net ‘n skadu van die oorspronklike konsep is. Ewenwel is dit nogals algemeen bekend in die industrie dat ‘n komediereeks dikwels eers met seisoen 3 sy voete vind en dan is daar gewoonlik ‘n goue periode van ‘n paar seisoene waar die sneeubal lekker rol. Dit het te doen met karakter en dat jou gehoor en jou skrywers die karakters ewe goed verstaan. Iets soos Always Sunny in Philadelphia bewys egter dat mens selfs vir 12 seisoene briljant en  mal kan wees sonder om muf te word.
Ek het verwag dat Schalk Bezuidenhout die favourite onder almal sou wees, maar die cast het my heltemal omkant gevang. Almal bring hulle deel. Die nerdy Melanie is (vir nou) my gunsteling karakter as ek regtig een moet kies. Dan is daar ook Ferdie en wat ek like van sy karakter is dat daar net genoeg cringe is om hom nie ‘n complete asshole te maak nie. Hy is nogal likable, al moet hy met soms met pepper spray in toom gehou word. Ek vermoed daar gaan baie karakterontwilleling wees in die opvolgreeks ook. Enige kommentaar? Wie is jou favourite?
Dis die lekker ding van ‘n ensemble is dat almal soortvan nodig is om dit te maak werk. Met Ferdie wat dien as ons spilpunt en die Jony wat soortvan dien as ons “straight (wo)man” kan die res van ons die gekheid werklik indrink en uitbou. Die karakterontwikkeling is vir ons baie belangrik, maar wat nog lekkerder is, is dat ons eintlik net die karakters self beter leer verstaan. Dit kom op ‘n punt waar in die skryfkamer en op stel kan almal redelike akkurate opinies hê oor wat ‘n karakter sal doen en wat hulle nie sal doen nie. En ons probeer baie streng by daai reëls bly. Ons komedie kom obviously uit die karakters uit en hulle reaksies in vreemde situasies en om nie vervelig te raak nie moet ons toenemend dieper grawe om ons karakter met vreemde shit te gooi sonder om OTT te gaan. Dis vir ons baie belangrik om snaaks te probeer wees en nie net pittig nie. Pittigheid dui op ‘n skrywer wat ietsie slim kon uitdink en neem mens amper uit die storie uit. Jy kan die onsigbare hand voel. Snaaksheid trek jou juis dieper in die storie in, want as dit werk vloei dit direk uit die karakter uit. Pittig is nie gelyk aan snaaks nie, hoewel ek dink baie mense in die plaaslike toneel maak daai fout.
Bobby Van Jaarsveld se ‘karakter’ van homself het my nogal verbaas. How did that come about? Die ou kan actually nogal act. Kom ons wees eerlik, die segment Suid-Afrikaners wat sy musiek ernstig opvat se lilo’s is nie altyd al die pad opgeblaas nie. Ook, Afrikaanse mense veral, is mense wat nogal geneig is om die lyn tussen karakters en akteurs heeltemal mis te lees. Ons het dit op varsity geleer oor Egoli. Fan-briewe is vir ons in die klas gelees van tannies wat die fok in is vir Walt Vorster en Niek. Is hy nie bang sy fans fok bietjie uit nie?
Ek meet al ons plaaslike “sterre” aan of hulle vir hulself kan lag en tot watter mate hulle hulself ernstig opneem. Iemand wat bekommerd is oor hoe hulle gaan lyk of wat hulle aanhangers gaan dink, gaan nie ons styl van komedie wil doen nie – veral nie as hulle letterlik ‘n verhoogde weergawe van hulself moet speel nie. Bobby het daai toets dubbel en dwars geslaag. Hy was so bereid en lus om juis met homself te spot en aan die grappe te commit met als. Dit dui op ‘n tipe bevryde selfbewustheid wat so vars is. Veral as jy in ag neem hy’s werklik baie bekend. Dis okay vir die res van ons om ons name met ‘n plank te slaan, maar vir hom is daar dalk meer stakes aan verbonde. Ek was self skepties, maar kon nie blyer wees met die eindresultaat nie. Wanneer ons gassterre kry is dit soos ‘n adrenalieninspuiting op stel want dit gee ons almal iets nuuts om vanaf te bons. Dis ook gewoonlike blerrie moeilik om sommer net in ‘n gevestigde ensemble komedie in te stap en nie soos ‘n buitestander te voel nie. Sover het ons gassterre dit gerook!

Oor die gehoor wat die lyne mislees tussen akteur en karakter, dink ek die sepie-akteurs kry meer daarmee te doen. Ons het daai vreemde tipe bekendheid waar mense ons dikwels herken, maar hulle het geen idee hoekom nie. Dit vat hulle altyd ‘n tydjie en gewoonlik is hulle oortuig hulle het ons by hulle nefie se troue ontmoet of by Jacques se braai. Dis byna altyd ‘n Jacques.
Hoe gaan dit met die verfilming van season 3? Enige secrets wat jy kan uitlap?
Sover gaan dit moer goed! Met elke seisoen maak ons die harnas ‘n bietjie losser sodat die perd (karakters) vinniger en wilder kan hardloop. So hierdie perd hol op die oomblik teen ‘n snelle spoed. Ons het ‘n paar mal cameos hierdie seisoen en ons gaan verder uit die Fransen as ooit tevore. Ons het ook een episode wat moontlik ons, ons hele gehoor gaan kos, of ‘n nuwe gehoor gaan oorwen. Ons dig daai stakes.

Ons beplan om die op die set van Hotel te gaan kuier een of ander tyd en so bietjie met die ander mense ook te chat en so paar video clips te neem, juis omdat hulle op die oomblik besig is om aan seison 3 te skiet en aan seisoen 4 te werk. Hopelik kan ons julle met cool info klap hier in Januarie se kan in terme van ‘n tipe opvolgstorie.

Intussen kan jy solank na die eerste twee seisoene van Hotel op Showmax kyk. Die maklikste is om vir die 14 dae free trial op te sign as jy nog nie het nie.  Kry  net vir jouself so stukkie free Showmax

Jy kan vir 14 dae lank verniet kokkenodge en deur ure se kykgenot trawl en besluit of jy wil aansluit teen R99 per maand. Kanse is goed dat jy jou subscription sal wil hou. Ek vermoed Showmax het moontlik ‘n rekordmaand met nuwe releases vir September, so gaan krap rond. Ons het nog baie om met julle te deel oor die volgende paar weke.

griffinOns chat met Beer Adriaanse oor Hotel (‘n fokken snaakse Afrikaanse TV-reeks)

Gooi Comment