Jy kan kakbaie oor die music scene leer by die ouens van Chaos Doctrine

In Rolbees Reviews, Watkykjy Interviews deur griffin1 Eiertjies

Proper old school metal is ‘n pragtige ding en dis altyd lekker om ‘n goeie ou Satie-orkes raak te rol, nie waar nie? Old school thrash metal bands, alhoewel meeste millennial metalheads hulle respekteer, is vir die vreemde, jonger generasie meer soos wasbeelde in ‘n museum, wat beide die underground en commercial scene aanbetref. Ek kan aan geen goeie redes dink hoekom dit so moet bly nie. Ek sien baie meer death metal op die live circuits, though. ‘n Kombinasie van die twee is so fokken raar soos hoendertanne in ‘n Dodo se poephol. Wie onthou die bands wat Metallica en Megadeth (voor ons gewoond geraak het daaraan) na sondagskoolgroepies laat klink het? Bands soos Slayer, Sepultura, Coroner, Kreator, Cannibal Corpse en Morbid Angel? Meeste van hulle doen nog steeds hulle ding, obviously met ‘n paar aanpassings hier en daar wat lede (of heupvervangings) aanbetref. Slayer gaan nou binnekort aftree en ek het hulle nooit live gesien nie. Fok my lewe! Daar is wel nou en dan local bands wat probeer om die old school sounds te herskep maar dit val vir my vinnig uit die bus uit as dit nie 100% real maar terselfde tyd uniek gedoen word nie. Ek kan nie onthou wanneer laas ek sulke lekker hybrid metal gehoor het waar die band beide live en op hulle album ewe befok klink vir my nie. Chaos Doctrine bring ook ‘n lekker Fear Factory-tipe industrial sound in die mix in met sulke Rob Zombie sound bites en samples en loops all over the place.
“So wie is hierdie brasse?”, het ek gewonder. Hulle moet veterane wees, dis vir seker. Ek het die review van hulle eerste album begin, nie veel van hulle geweet nie en uiteindelik besluit om ‘n paar vrae na hulle kant toe te gooi. Die eindresultaat was so befok ons het sommer besluit om die hele Q&A met Dr D te publish as ‘n interview:

Fokken lekker album hierdie van julle! Gee my net eers so bietjie info oor die recording proses, asseblief. Die how, en how long, wie het julle record? Wie het gemaster? Waar? Wat het julle try bereik met die sound?
Hi Rolbees, dankie vir die geleentheid om met julle te gesels! Dis definitief vir ons ‘n voorreg – ons geniet Watkykjy!

Ons is gelukkig genoeg om ons eie studio te hê, Subhuman Studios, wat ons in 2011 gevestig het; eksklusief vir ons musiek. Wat dit beteken is ons kan heelwat meer tyd spandeer op die opnames, eerder as om te sit en dink oor hoeveel dit gaan kos! So ons kan meer kreatief en pedanties wees, idees probeer, en dinge oor en oor doen totdat dit goed genoeg is vir ons standaarde.

Om terug te kom by jou vraag. Dit het ‘n paar jaar gevat om hierdie album klaar te kry – meestal as gevolg van ons obsessie om iets te doen waarop ons kan trots wees, maar ook omdat ons ‘n paar keer van lede (veral drummers) verander het. Ons begin gewoonlik met die kitare bo-op ‘n metronoom en dan kom die vocals en die dromme by. Laaste word die samples en loops bygesit vir daai unieke Chaos Doctrine-gevoel. Partykeer doen ons dit effe anders maar dis ons default posisie.

Toe ons klaar was met die opname van die album is ons reguit B Sharp Studios toe. JP de Stefani is ‘n legende in Suid-Afrika – hy het al almal opgeneem van Johnny Clegg tot Prime Circle. Hy het ‘n uitstekende oor vir metal. Na so paar dae in sy studio en heelwat heen-en-weer is die album Swede toe vir “mastering” deur Jocke Skog. Alec Surridge (kitaarslaner in ons band) ken hom en hy het daai laaste “polish” opgesit!

Ons teikenklank vir hierdie album was baie rou. Ons wou ‘n aggressie vasvang soortgelyk aan wat jy in ons naam, lirieke en albumkuns sien. Daai “old school” gevoel wat ouens soos ek en jy ken – maar met ‘n lekker verrassing in die industriële elemente en die meer moderne metal in ons algehele klank en benadering.

Befok! Wat het julle laat besluit om Chaos Doctrine te begin in die eerste plek?
Hahahaha! Hoeveel tyd het jy? Die kort storie lank: In 2009 en 2010 het ek, Ray Pendlebury (ons ander kitaarslaner) en Phil Carstens (ons baskitaarslaner en backing vocalist) in DedX gespeel saam met my ou vriend Rex (drommer vir Destrage in die mid 90s). Na dit wou ek ‘n band begin wat die aggressie van thrash en death metal meng met industriële elemente. Ek is ‘n moerse White Zombie fan so dit was my verwysingsraamwerk… ek wou swaarder as dit gaan, maar met so bietjie meer moderne metal elemente ook ingewerk.

Ek en Ray ken mekaar al jare en hy was dadelik in op my idee. Phil het ons hoor praat en dadelik in die boot gespring. Daarna het ek my ou vriende Hugo Pelzer (van C4) op kitaar en Ralph Margo (Beast of Eden, Sacrifist, Tyburn, Misericord) op dromme ingetrek.

Hugo het so rukkie later geïmmigreer Nieu-Seeland toe. Ons het bietjie rondgevra en almal wat ons ken het dadelik vir Alec verwys. Alec se styl en agtergrond is effens anders as ons s’n, so hy bring ‘n unieke element na ons musiek toe. Op amper dieselfde tyd as Hugo is Ralph weg Suidkus toe. Keer op keer het ons hom sonder sukses probeer vervang… so toe hy laat weet hy kom terug verlede jaar het ons sy troon met mening en waardering afgestof!
Hoe sien julle die huidige metal mark en scene? Dis meestal DIY deesdae soos ek dit check. Die groot promoters sukkel maar lyk dit my.
Jong ja, DIY is definitief die beste manier om dit te beskryf. Daar is geen “groot promoters” in metal nie. Die groot ouens stel nie belang nie en die plekke waar ons kan speel is bitter min. Ons het fantastiese venues in plekke soos Rumours Rock City, maar ons het nog sulkes nodig om die “scene” weer te groei.

Ons as bands werk saam met ons promoter-konneksies om shows op te stel, bemarking te doen en dan hoop ons vir die beste. Ons werk ook saam met ‘n fantastiese agent, Warren Gibson van Plug Music Agency, wat help om ons musiek daarbuite te kry. Ek sal hom voorstel vir enige band wat bietjie dekking soek – oor die hele wêreld. En ouens soos julle help meer as wat julle weet!

Die gevaar is dat van die bands, veral die jonger ouens, kan neig om moed te verloor om gereeld vir ‘n handjievol mense te speel. Natuurlik waardeer ons die “die hard fans” – maar, mens geniet ‘n vol vloer darem veel meer. Ons vyf is almal meer as 20 jaar op die scene so ons weet die getye kom en gaan – en ons is toegewyd daaraan om te help om die scene weer te ontwikkel na hoe dit was in die mid 90s!

OK, kom ons raak bietjie meer spesifiek of “granular” so to speak. Hoe het julle by so hybrid old school thrash en death metal sound uitgekom? Soos jy sê, die tunes het ook ‘n industrial sound met al daai samples en stuff. Mens hoor nie meer so mengsel van thrash en death metal in die scene rêrig nie. Deesdae is daar maybe meer hardcore death metal of grindcore met extreme growling as wat daar byvoorbeeld van daai Max Cavalera tipe vocals is met classic thrash kitare by. Julle klink vir my so naastenby na early Sepultura en Kreator met ‘n bietjie Fear Factory so nou en dan ook; maar met julle eie unique sound of course. Gee bietjie input oor hoe julle dit sien?
Ons al vyf het grootgeword op die old school metal – Sabbath, die 80s thrash, en so aan – met ‘n baie harde klap van die 90s bands se klanke soos Sepultura en Pantera. Dit was vir seker my oorspronklike visie om daardie klank te meng met goeie industriële klanke soos die classic White Zombie en Ministry, asook nuwer groepe soos Psyclon Nine. Die laaste element in die mengsel is so bietjie Machine Head, Meshuggah, Gojira, en so paar ander.

Dis vir my onsettend interessant om mense se opinies te hoor. Almal hoor iets anders – jy is definitief die eerste om Kreator en vroeë Sepultura te noem (behalwe as jy bedoel Beneath the Remains, Arise, Chaos AD!). Dit beteken vir my ons doen iets reg maar ons wil klink soos Chaos Doctrine – nie soos X of Y of Z nie.

Vir seker ja! Iemand het getune julle kom van Roodepoort af maar julle is seker bietjie meer versprei in Joburg? Vir ons Pretorianers is alles na Midrand mos Joburg.
Hahaha! Vier van ons bly in die wyer Wesrand, ek in Roodepoort en Alec, Ralph en Phil in die Wes-Randburg area. Ray is in Alberton.

Ek wil vir die rekord net al die lede se instrumente, wat julle jol, en julle vorige bands, mooi regkry. Gooi!
Daarsy, dis ‘n gekombineerde geskiedenis van amper 100 jaar!
Dr D (Bedlam, Malachi, DedX) – lead vocals
Ray Pendlebury (SuperClown, Stone the Free, Malachi, DedX)- kitaar (lead en rhythm!)
Alec Surridge (Sacraphyx, Warinsane ) – kitaar (lead en rhythm!)
Phil Carstens (DedX) – baskitaar en vocals.
Ralph Margo (Beast of Eden, Sacrifist, Tyburn, Misericord) – Tromme

Wie het die artwork gedoen en wie het daai bose mikrofoonstand gemaak?
Phil is ons visuele meester. Oor die jare het ek en hy ‘n fantastiese kreatiewe vennootskap ontwikkel – partykeer is die idee syne, partykeer myne, maar hy voer altyd uit. Hy doen nie net die kuns nie, maar ook ons amptelike en verhoog videos, wat op ons lirieke gebaseer is en saam met die musiek tempo varieër.

Die micstand is deur Luke Langford gemaak (www.facebook.com/steelpunkdesigns). Die man is ‘n meester van sy kuns. Ek het een van sy lampe gesien en hom gevra of hy al ‘n micstand gebou het. So twee of drie e-mails later en daar staan die ding in sy volle glorie. Hy het presies vasgevang wat ek wou gehad het – en dit lyk soos Chaos Doctrine klink! Daai micstand word meer gefotografeer as enige van ons in die band!

Ek het gesien julle verkoop some digital pack CD offering wat fisiese musiek aanbetref? Gee bietjie info oor waar dit beskikbaar is? Ek het die album deur Spotify geluister.
Digitaal is ons album op al die groot platforms soos Spotify, Deezer en iTunes – Google hom en jy sal hom kry. En, as jy weet waar om te soek, kan jy hom “pirate” ook!

Fisies is die CD beskikbaar in ‘n digibox vir R100 en ‘n slipbox vir R80. Ons verkoop dit by ons optredes, maar ons het ook pas in ‘n vennootskap ingegaan met Burning Groove (wat ook ons CDs se produksie doen, soek hulle op Facebook) vir distribusie in verskeie klein alternatiewe handelaars. Hierdie ouens is awesome – weereens stel ek hulle voor vir enige band wat registrasies, produksie en distribusie wil doen. Ons kyk ook na groot stede soos Kaapstad, Durban en Bloem. Ons sal meer inligting gee sodra ons dit het.

Vir tyd en wyl, as jy buite Johannesburg is en gelukkig is om die shipping van R100 te betaal, stuur ons met graagte met Aramex Couriers of Postnet!
Ek en Griffin was by julle album launch gewees einde Junie. Het julle so marabs gesien wat soos Jim Carrey sonder sy Ritalin dans en gesigte trek? Dit was ‘n moerse entertaining show. Julle brasse kan lekker Satan. Vertel ons bietjie van daai jas waarmee jy opgetree het? Verduidelik ook sommer wat julle naam beteken.
Kom ons begin by die jas! Ons werk baie hard op konsekwente temas regoor ons musiek van beide ‘n ouditêre en visuele hoek. Ek wou iets spesiaal doen vir ons album launch en gedink aan ‘n uitrusting wat die boodskap van ‘doctrine’ sou uitsit. As jy bietjie met die woord speel kry jy vir Moses op ons album, en uiteindelik die Katolieke Kerk, maar die priester boordjie is nie vir my nie. Toe dink ek bietjie wyer en die Russiese en Griekse Ortodokse Kerk het so paar keer opgekom. Doctrine: check.

Ds Rolbees verstaan. En die “chaos” in die naam?
Wel, watter kerkfiguur kom op wanneer jy aan chaos dink? Een naam: Rasputin. Ek is so bietjie obsessief oor die ou vandat ek op skool was. Chaos: check.

My vriendin, Jess, is ‘n “seamstress” (Skeleton Key Couture op Facebook) – sy fokus op korsette en ander goth klere. Ek het gevra of sy belangstel en so paar weke later staan ek in my mooiste Sondagjas op die verhoog. Haar werk is fantasties!

So, die naam. As jy Chaos en Doctrine langs mekaar sit, kry jy wat die Britte ‘n oxymoron noem. Teenoorgesteldes. Paradoks. Want die essence van chaos is die afwesigheid van die reëls en die “jy mag nie” wat doctrine is. Maar, terselfdetyd nie. Wat van die chaos wat volg as mens soos skape blindelings die doctrine volg? Wat as wat jy preek juis chaos is – of ten minste, dink vir jouself? Dis waaruit ons album kuns gebore is – asook die lirieke van FTG en Cult. Maar ons kan heeldag hieroor aangaan – next question! Hahahahahaha.

Piele, wie doen julle industrial loops en hoe werk dit? Ek het nie ‘n keyboard op julle verhoog gesien nie?
Die meeste van die loops, samples en keyboards is my werk – ons spandeer ure op “sound bites” versamel wat ons dan digitaal by die tracks invoeg. Ons sit dan en hoor hoe pas die klanke tussen, onder of bo-op die instrumente en my stem, want ons is steeds primêr ‘n metal band. Ons wil ook seker maak elke track kry sy eie identiteit, so ons wil nie dieselfde ding oor en oor doen nie!

Wanneer ons optree hardloop die loops en samples deur ‘n laptop. Ralph speel tromme teen ‘n metronoom wat seker maak alles sit waar dit moet!

Het julle enige Afrikaanse musiek in julle arsenaal?
Ja, pappie! Die tweede “single” van ons album af was The Genocide Number. So rukkie terug het ons gedink dit sal lekker wees om iets spesiaal vir ons optrede in Bloemfontein te doen, toe herskryf ek en Phil die lirieke in Afrikaans en neem dit op. Jy kan ‘n lirieke video hierso beloer!

Goeie idee want vir die mense in Bloem is Engels nie net ‘n second language nie maar ‘n foreign language ook.  Waar sien ons julle volgende?
Ons speel op die 25ste Augustus saam met Deadline, State Dependency, Nerve Zero en Doomed Since Birth by Mechanical Voodoo. Dit gaan ‘n fantastiese event wees – 5 bands, belly dancers, ‘n freak show, ‘n mini mark en dit alles in een van die oudste en coolste venues in Gauteng – The Good Luck Bar! Ons hoop om baie mense daar te sien om die venue te wys metal is besig om te groei in Johannesburg – meer detail hierso!
https://www.facebook.com/events/183482925677819/?ti=as

Shot, gaan check bietjie hierdie band uit, die enigste kritiek wat ek het is die album is veels te kort. Vir julle straf dink ek julle moet ‘n double album release volgende.
HAHAHA! Of remixes van alles!
Weereens dankie vir die geleentheid om die onderhoud te doen.

Deel met jou tjommies!

    griffinJy kan kakbaie oor die music scene leer by die ouens van Chaos Doctrine

    Comments

    Gooi Comment