Vat Vyf! Week 29 van 2018 – Elon Musk is ‘n tietkop

In Wat is nuus? deur PK MalherbeRek jou bek

1) Donald fokken Trump. Goedige donner, die man is dommer as leemgrond. Vat nou maar sy ontmoeting met sy bestie Vlad Putin van Rusland hierdie afgelope week. Hy reken toe mos hy dink nie Rusland was betrokke by enige ongeruimdhede tydens die Amerikaanse verkiesing nie. En toe hy daaroor uitgehaal word, toe beweer hy hy het presies die teenoorgestelde bedoel. So, Rusland het ingemeng. Ek dink. ‘n “Double Negative” noem hy dit toe. Die man laat ons vorige president soos die Voorsitter van Mensa lyk. Boonop het die vorige president van Amerika, ene Obama, hierdie week in Suid-Afrika gespeech ter ere van Madiba se 100ste verjaarsdagvieringe en net weer bewys in watter anderste liga hy is. Ons lag nie vir julle nie, Amerika. Maar eintlik bedoel ek ‘n Double Positive.

2) As jy lus is om jou bietjie te verlekker in die feit dat ‘n bekende persoon van rassisme beskuldig word, I Noah guy. Trevor Noah is bitter ongewild in Frankryk tans. Dit kom nadat hy op The Daily Show, Afrika geluk gewens het met die oorwinning in die Sokker Wêreldbeker. Want die Franse span is mos swarter as wroeging. Die Franse ambassadeur in die VSA het toe sommer vir Trev ‘n briefie gestuur en gesê hy is verskriklik geaffronteerd. Ek is ‘n groot Trevor Noah fan, maar moet bieg die onderliggende rassisme-deuntjie in sy werk het begin eentonig raak.

3) Daar is ‘n nuwe woord vir wank. Vir draadtrek. Vir apiestreel. Die woord is muskerbeer. Vernoem na Elon Musk wat hierdie week moes jammer sê oor ‘n twiet waarin hy Vernon Unsworth, die Brit wat 12 Thai seuns uit ‘n genotgrot moes red, ‘n pedofiel genoem het. Hoekom? Want Musk was seergemaak omdat hulle nie sy mini-submarine wou gebruik het om die seuns te probeer red nie. Ja. Mini-submarine. Muskerbeer. Natuurlik muskerbeer hy nogals gereeld op Twitter met heelwat mense wat al deurgeloop het. Unsworth voel hy gaan steeds vir Musk dagvaar vir naamskending en het voorgestel dat Musk sy mini-submarine moet druk waar dit seermaak. Ek hoop net hy het genoeg KY en dat hy nie als op sy redelik in-die-openbare-oog muskerbasie gebruik nie.
4) Anneli van Rooyen se groot treffer van toentertyd, “Seemeeu,”blyk ‘n hit te wees in Engeland waar dronk seemeeue tans ‘n redelike probleem vir die Dierebesekermingsvereniging is. Hoe dan anders met lirieke soos: “Sheemeeu neem my shaam, na waar – hik – jou reissshhhe ook – hik – heen mag gaan.” Eers het die DBV gedink die outjies het een of ander infeksie, maar meeste van die voëls het herstel nadat hulle gebraak het. Jip. Dronk. Boonop het die spulletjie ook na bier geruik en daar word vermoed dat dit die gevolg is van verskeie plaaslike brouerye wat van hul alkoholiese afval in die natuur ontslae raak. In ander nuus, Engeland se Toerisme-raad rapporteer skielike belangstelling vir kort vakansietjies vanuit Suid-Afrika.

5) En in KwaZulu-Natal stres al die Woolies winkels nadat die hoeveelste ploftoestel in ‘n Woolies gevind is. Kyk, ek wou ook al ontplof as ek die pryse van ‘n blaar of een of ander groentetjie wat bloedjonk wreed uit hul ma se sorg geruk is, gesien het. Maar duidelik is iemand nie gelukkig met die prys van hul free range hoendereiers nie. Woolies werk nou saam met die polisie om die skuldiges aan die pen te laat ry. Dankie Woolies. Julle is die duurste. Ek bedoel beste. Julle is die beste.

PK MalherbeVat Vyf! Week 29 van 2018 – Elon Musk is ‘n tietkop

Gooi Comment