STRAB – Fees van liefde, musiek en muskiete

In Snotstories deur Watkykertjie bydraeRek jou bek

Woorde deur Katvrou
(fotos deur Carina Laubscher en Sarel Cilliers)

Die gewaarwording begin met die tientalle enorme vragmotors wat by ’n mens verbydonder, maar dis eintlik die diere langs die pad wat vir jou wys jy’s amper daar. Hulle slof met stofhoewe deur die slaggate ­– knorrige beesgevrete, klein bokke met wippende boudvlaggies en narkoleptiese donkies.

Kosibaai se grenspos is naby.

Ná bykans tien ure se ry na ’n musiekfees wat jou aan die hare gryp, deur die Mosambiekse branders sleep, jou voete was met bier en met ’n konka vol kitare chroniese tinnitus in jou ore kom gooi. Soos Piet Botha die langpad tereg in sy mikrofoon gaan neerlê:

Hier’s ’n brief
Vir al my broers
En al die Buddhas
Wat daai langpad ry
Dwarsdeur die nag
Wees maar versigtig
Want jy weet nooit
Wat vir jou wag 

“Die brief” – Middernagtrein (2018)

Die begin
’n Groepie skubaduikers het in 2003 besluit om plaaslike musiek by hulle avonture te voeg. Piet Botha met sy groep, Jack Hammer, was die eerste kitaarmense daar en Piet doop dit toe Strab – The Subterranean Rock and Blues Experience. Sedertdien kuier die mengsel duikers, musieklikes en bluesrock (soms ook folk) onverpoosd voort.

Laat slegs hierdie merke agter. FOTO – CARINA LAUBSCHER

Jy benodig egter ’n viertrekvoertuig en jou paspoort om van die grens af by Ponta Malongane te kom, want daardie bulterige sandslang tot by die kettinghek vreet sedans spaarwiel en al op.

Gee hier daai kamera. FOTO – CARINA LAUBSCHER

Waar ook al die penne jou tent vashou, hoor jy hoe nooi die see jou om die dooie muskiete uit jou kieliebakke te kom spoel. Tussen die tentkampe deur loop talle klein paadjies deur die bome en oor krakerige blare af strand toe. Verskeie van die bykans 12 geel rondloperhonde sal jou straks by die see kom natslobber. Hulle kom ewe swaaistert nader, maar hap jou dan aan die voorarm net omdat dit daar is. Soms slaan hulle wydsbeen neer vir ’n pens-krap, maar die dansende kors swart vlooie laat jou vinnig herbesin.

Ander musieklikes sit vroegweek reeds op hul handdoeke vir die son en wag, glasie vonkelwyn in die hand. “Want ons is hiér. Ons vier die lewe.”

Vir talle ’n herdenking
Hierdie jaar is die 14de amptelike Strab en 1 300 gelukkige siele ry ver van oor die land heen om dit te beleef. Piet gaan ook vir die eerste keer kom speel. Verlede jaar het hy sy rug lelik seergemaak en kon vir die eerste keer sedert Strab se stigting nie optree nie.

“Ons is nogal senuweeagtig, hoor,” kom dit agter sy pyp uit waar hy op die boonste dek staan en die branders bespied. Die oggendbries vroetel aan sy lang grys hare. Sy oë skreef teen die son. “Ja’k. Die son sit reg. Ek gaan nou bietjie snorkel.”

Piet bekyk die snorkeltoestande. FOTO – SAREL CILLIERS

Woensdagaande lui Strab in met ’n ietwat ongeskikte strandpartytjie. Elke jaar het sy eie kultustema.

2018 is tyd vir Dirty Disney ­– Minnie Muis is in die tronk vir die dagga wat sy onder haar pruik versteek het en Alice het haar G-string in Andy se speelgoedboks vergeet. Louie die sjimpanseekoning spring weer tou met sy arms en selfs Tarzan loop kaaltoon met subtiel beblaarde lendene tussen die feesgangers rond.

Die Kaapse groep, Crimson House speel die strand aan die brand met 15 Disney-temaliedjies:  Jungle Book, Aladdin, Aristocats, Little Mermaid polka met Spongebob,  selfs Baloo die beer rook ’n vredespyp met Lion King se giggelende hiënas. Almal dans en skreeu die woorde die naglug in. Plastiektowerstaffies swaai, die 2M-bier spat, prinseskroontjies trek deur die lug en handevol neongeel glimstokkies verlig Ponta se strand.

Later loop die woord dit het Riaan Smit, die voorsanger, en sy groep ses weke geneem om al die lirieke te leer en ongeveer 30 ure se oefening om Disney so vernuftig te kon pleeg.

Die strandpartytjie eindig soos gewoonlik teen sonop en die eerste kroegmanspan struikel eers sewe-uur se kant huis toe. Bye suig lui aan halfleë satansousglase. Klam, sanderige wesens met slu gesigte en vuil tone slenter tussen die tente deur.

Hier kom die son. FOTO – SAREL CILLIERS

Agter die duikpakke
Laatmiddag by die duikplanvergadering hoor ek by Andries en Hanalie Burger, die organiseerders, dat elke Strab sy eie dinge het. Maar daar was nog nooit ’n aaklige Strab nie. Logistieke maak immer hul eie planne, mense kry nie hul paspoorte nie, iemand bliksem van die dek af en breek nie eens ’n vinger nie, apies steel swembroeke, leesbrille breek en sand beland in die slaai, maar niemand deel klappe uit of slinger neerslagtig die see in nie.

“Andries het wel daardie hartaanvalle gehad,” sê Hanalie.
“Stres?”
“Ai ja, eers die bike ongeluk, toe ’n hartaanval en stent, daarna nog ’n hartaanval en weer ’n stent. Toe besluit ons dinge moet nou stadig en ek hanteer vir ’n paar maande al die reëlings. Nou rus ons ses maande ná Strab, dan begin alles weer van voor af.”

Strab is hul musiekfamilie wat elke jaar terugkom uit onder meer Pretoria, Durban, Kaapstad, Johannesburg, Grabouw en Magoebaskloof. En dis dié duikpaartjie wat al die toorgoed laat gebeur.
“Ja,” sê Andries. Dis ons lewe. Wie weet hoe lank dit nog hier gaan wees. Dalk, eendag kom die regering hier aan, vee alles plat en bou ’n hotel.”

Daar is ‘n uitsig om elke hoek. FOTO – CARINA LAUBSCHER

Musiek as medisyne
Intussen begrawe feesgangers hul dan maar in die musiek en lewenskrag van die see. Piet Botha en die jong Jake Gunn herskep Middernagtrein op die boonste dek terwyl naaldekokers, bye en skoenlappers die luidsprekers inspekteer.
Daar is die twee manne van Bad Peter met hul akoestiese kitare en donker woorde: “I’m killing your trees, the birds and the bees, I’m sorry Mama, I’m your fatal disease.”

Dit raak stil tussen die sittendes op die boonste dek. “You’re begging me please, stay out of the seas, I’m sorry Mama, I’m your fatal disease.”

Fopsigarette stuur wit slierte in perske- en borrelgomgeur tussen die sittendes deur en ander feesmense gaan sit suutjies hul leë plastiekglase op die taai kroegtoonbank neer.

Dan is dit Jack Hammer op die onderste verhoog, trane en applous tussen die mense met die eerste optel van sy kitaar, sy skouers dun en steeds krom, maar die stem ’n kryger wat weier om te sterf.

Piet Botha as Jack Hammer op die onderste verhoog. FOTO – SAREL CILLIERS

Die feesmense kom sit vroeg voor die verhoog… FOTO – SAREL CILLIERS

Daar word mal gedans vir die Lectric Monks, Crimson House met hul derde dol album in hul kenmerkende gypsy cabaret rock, Greg Georgiades, Michael Canfield en daardie tromme, Gerald Clark, Taxi Violence, Bed on Bricks, Pedro Barbosa, Nibs vd Spuy en Die Wasgoedlyn se dissipels. Daar word weer geswymel oor Andra se stem:  “What am I supposed to eat if my hunger lives in my head?” Fokkit. Gian Groen skop sy bene lank uit. Dan Patlansky.

Dan, uit die niet, doem Wonderboom op en pak die boonste dek vol musieklikes. Mense dans op die vloer, op die tafels, gillend met vuiste in die lug, hul bonsende koppe teen die tent se dak. As kitaarbarbaar veroorsaak Martin Scofield algehele rockanargie en Cito swaai oudergewoonte sy heupe om balans te vind, maar dit veroorsaak gille wat sweerlik deur die branders tot teen elke walvishaai weergalm.

Vind dan weer die pad tent toe.

Trap net mooi tussen die lae verhoog en leë bierbottels, want soms bevind ’n verdwaalde moerige krap homself tussen jou en die strand. En ta wil glad nie in jou hemp stilsit op pad terug strand toe nie.

Raakgehoor tussen die tente en badkamers
“Ek soek jou lewe. Ek wil net musiekfeeste bywoon en dans.”
“Hartjie, jy sal eers moet aftree.”

Uit verskeie kele, in Nibs van der Spuy se speelbeurt op die boonste dek: “Kyk! Dolfyne!”

“Hoekom sit jy nog? Dis nou Tidal Waves.”
“Ag wat, ek dans sommer maar met my skouers.”

“Ek voel nou soos drie dae voor die skepping.”

”Hierdie R&R is pure satansous. Meer rum as raspberry. Galopsop. Nog ’n dubbel, asseblief.”

“Ek sweer iemand kom gooi bedags sand in ons tente. Dit was vanoggend nog skoon!”

Laaitie vir sy baskitaarpa: “Pappa, wanneer maak jy klaar? Ek wil gaan swem!”

“Jy’s niks nie as as jy niks het wat jy bemin nie.” – Riku Lätti

“Strab is my kerk en my gym.”

“Mense, tel julle plastiekglase en shit op. En kyk mooi na mekaar.”

“Weet jy enigiets van insekte?”
“My pa is ’n entomoloog.”
“So hierdie goed wat my vreet, is dit sandvlooie of muskiete?”
*stilte*

“Ek weet ek mag nie die blerrie apies voer nie. Hulle’t self die brood kom haal.”

“Gebruik hierdie toilet, dis skoon.”
“Daar’s ’n stokgogga op die deur.”
“Haal dit af met ’n takkie, man.”
*stilte*
“O vrek hy’t agt pote. Dis ’n . . . hurrrrgggg . . .  dis ’n spinnekop.”
“ ’Raait. Vat die ander deur.”

Een van Strab se vele inwoners. FOTO – CARINA LAUBSCHER

“Honey, without you I’m just way too plain.” – Bad Peter

“Ek skop my bene lank uit – hoe lekker kry ek nou.” – Gian Groen

Kasjoeneutverkoper: “If the turtles are gone, Mozambique is dead”.

“Was daai streep op jou maag ’n mes?”
“Nee, het my bike teen ’n muur vasgejaag. 180 k’s.”

“Die see is die grootste exfoliator op aarde.”

Die laaste woord
Ek vra ’n week later of Piet sy Strab van 2018 kan opsom.
Sekondes later bliep die boodskap deur.
“Liefde.”

Dinge loop altyd stadig by Strab. FOTO – CARINA LAUBSCHER

Watkykertjie bydraeSTRAB – Fees van liefde, musiek en muskiete

Gooi Comment