Fit For A King klap die metalkerk kakhard in Snortoria!

In Rolbees Reviews deur RolbeesRek jou bek

Verlede Vrydagmiddag het ek aan die slaap geraak op my bed. Ek droom toe ek spring so rond tussen deur die wolke en ek hoor ‘n stem uit die hemele bulder. Ek sweer daar was ‘n helder lig ook en toe vra die stem vir my: “Rolbees, hoekom gaan jy nie bietjie kerk toe nie?” Ek probeer my agnostiese neigings nog so verdedig, maar al wat ek kon uitkry was: “Die musiek…dis…te tos!” Toe ek wakker word met ‘n kolletjie drool op my kussing check ek op Facebook daar is ‘n metal show by Arcade Empire later die aand. Ek het net Facing the Gallows op die line-up herken maar ek besluit toe maar dis bietjie tyd vir ‘n aand van “bose” musiek, or so I thought. Bryan Binneman, die hoofsanger van Facing the Gallows, gaan mos die band verlaat, so ek wou my laaste gig met daai line-up beleef en so reinig ek myself toe, eet iets vinnig en skedaddle.

Daar aangekom tune Big H my die headlining band van Dallas, Texas is Christian vibes. “O Poes, ek het my Slayer t-shirt onder my Misfits sweater aangetrek”, tune ek hom. Ek was redelik seker ek gaan aan die brand slaan in daai “metal kerk” maar op die ou einde was die hele affêre nie wat ek verwag het nie en ‘n interressante kombinasie van jou run-of-the-mill metalheads en peeps wat ek geskiem het eerder by ‘n SKJA kamp sal tuis voel en nie in ‘n dodgy, rokerige, boozy rock and roll club nie. Die eerste band was ‘n progressiewe metalcore band van Joburg genaamd Riddlebreak en hulle energie was onmiddelik aansteeklik. Metal het vir seker verander van toe ek ‘n laaitie was en ek leer maar nog van al die verskillende vertakkinge en scenes. Daar was about ewe veel mans as vrouens in die gehoor en miskien net hier en daar bietjie Kinderkrans dogters en seuns. Riddlebreak het ‘n vroulike baskitaarspeler en vioolspeler wat die aggressie ‘n meer gebalanseerde gevoel gegee het.
One Day Sky (ook van Joburg) was tweede op en een van daai hibriede metal bands wat ek sukkel om te plaas. Hulle noem hulleself post-hardcore en daar is duidelik hoorbare elektroniese elemente in hulle tunes wat dit baie meer accessible maak vir die kids wat nie so into die donkerder kant van metal is nie. Amper soos Killswitch Engaged gemeng met electronicore soos I See Stars of Issues, maybe. Hulle klap ‘n fun show though en speel sulke offbeat songs op die draadloos tussen-in (soos weird covers van Rick Astley se Never Gonna Give you Up).

Facing the Gallows (fok, ek dink al hierdie local bands is van Joburg af) was die tightste band van die aand en ook die band wat die crowd ten volle in opstand laat kom het met hulle solid brand metal. Dis ‘n jammerte Bryan Binneman gaan die band verlaat. Dis moerse skoene om te vul, daai. Ek sou hulle die headliners van die aand gemaak het, but that’s just me. Dis ook waar ek begin vrees het vir my fokken lewe. Ek weet nie of dit die kinders van die lig of van dié van die duisternis was nie, maar die mosh het begin rof raak en stage dives en crowd surfing was nou ook meer prominent. Een lang girl en een ‘n groot seun het hulleself amper moertoe geval want die crowd kon nie lekker vatplek kry aan hulle nie, en toe weet ek daar kom groot kak. Jissus Pretoria, julle moet vashou, man! Sorrie ek bedoel: Jistumpies, Pretoria!
Ek was ook vasgevang voor by die stage net so op die fringe van die circle pit mosh en die mense het begin erg stamperig en stoterig raak. Ek was so nugter soos ‘n onheilige spook besig om my balans op my rystoel te stabiliseer en my brille het teen daai tyd nou al begin opwasem. Ek het ook daai oorbeskermers in my ore gehad – die wat ek spesiaal laat maak het sodat my tinnitus nie nog erger word nie. So as mense met my gepraat het, om te hoor of ek nog OK is, kon ek nie ‘n fok hoor wat hulle sê nie. Ek het maar net ge-smile vir Big H en ‘n thumbs up gegooi want hy self het gesukkel om regop te bly in die mosh terwyl hy probeer fotos neem het.

Die volgende band was bietjie meer rustiger maar nie met baie decibels nie.  Truth and its Burden.  Die bras het ‘n lekker show gegooi maar dis nie heeltemaal my koppie tee nie. Kief powercords, ‘n paar lepels te veel kermpunk en die lead singer is bietjie prekerig. Julle millennials smaak dit mos stukkend. Ja, ek besit nog die kopiereg op daai term.

A Fate Like Yours was tweedelaaste en hierdie bras was weer full-on metalcore. Heavy shit, toit-as-a-toiger geesvangers maar ook klein bietjie te prekerig vir ‘n heiden soos ek. Die lead singer het so ‘n Faith Can Move Mountains T-shirt aangehad en hy het my en van hulle fans persoonlik gegroet en bedank voor hy opstage gegaan het. Such a nice young Christian man…tot hy begin sing het. Jislaaik, bra! Dis nogal ‘n teenstrydigheid: hierdie tipe Christelike musiek met daai “demoniese” growling vocals en “duiwelse” tegniese metal kitare. Die boodskap is baie positief maar die musiek klink of Satan self dit komponeer het. Geen mens kan hoor wat een van hierdie bands sing anyway nie, so jy moet maar die lirieke eerder gaan bestudeer soos ‘n papegaai of jy mag dalk dink dis van die bose. Die een kitaarspeler het sulke lang maer bene met stovepipe jeanpante en hy gooi sulke old school metal licks met ‘n wydsbeen stance soos Rudolf Schenker van Scorpions altyd gemaak het. Die lead singer het baie spasie nodig gehad want hy was dan op sy knieë, dan besig om rond te hol en dan weer spring die mal hoender in die crowd in. Ek het net elke keer my oë toe gemaak met groot verwagting dat sleutelbene gebreek gaan word. Ek dink almal het gedink ek is baie religious met my oë wat so baie toe was. Twee chicks het mekaar ook amper hard gebliksem terwyl ek actually gebid het aan al die gode waaraan ek nie glo nie sodat my lewe gespaar kon word tydens die circle pit mosh ritueel.

Hierdie “metal kerk” is nie vir pissies nie, glo my, maar ek kan getuig dat dit die lekkerste kerk was waar ek my nog ooit bevind het. Fit for a King uit ‘Murica was glad nie prekerig nie, hulle het wel connect met die crowd, maar ek dink hulle was net so verbaas soos ek dat ‘n moerse klomp van hulle SA fans die woorde van al hulle songs ken. Selfs die wat hulle nog nooit live gedoen het nie. Hulle het ‘n moerse following hier, lyk dit my. Ek was baie trots dat alhoewel hierdie Amerikaners se moerse heavy metalcore musiek en professionele stage presence van hoë gehalte was hulle nie een van die local bands voor hulle oorskadu het nie.

Hey, Jam Packed Productions, julle kan ‘n lekker kerk reël, hoor. O ja, en van die geld wat gemaak gaan word op die landwye toer gaan ter ondersteuning van Rocking for Rhinos aangewend word. Ek sal weer na hierdie kerk toe gaan vir seker!
#Metal4Life

RolbeesFit For A King klap die metalkerk kakhard in Snortoria!

Gooi Comment