The Steezies – Snorting Lines of Turmeric

In Rolbees Reviews deur RolbeesRek jou bek

In die sewentiger en -tagtigerjare het multi-kulturele Suid-Afrikaanse musiek die sosiale en politieke realiteite van die tyd uitgebeeld. Juluka was die eerste politieke crossover band waarvan ek geweet het. As jy daai tipe musiek (‘n mengsel van maskandi, mbaqanga, westerse folk, pop en rock) gemaak het in die tagtigerjare was jy geteiken en meeste van jou tunes was verban op radio en TV. Crossover bands in SA het die verantwoordelikheid aangeneem om verskillende mense bymekaar te bring met live shows en die wette van die tyd is konstant getoets. Dit was maar net deel van die pakket gewees. Die regering kon nie al daai lekker musiek van ons whiteys af weghou nie, though.
PJ Powers se Jabulani en Juluka se Kilimanjaro en Fever is vir ewig deel van my laerskool memories en alhoewel die songs nie ‘n direkte politieke boodskap gehad het nie, het dit wel ‘n onderliggende boodskap tuisgebring: die onnatuurlike illusie van geforseerde homogeniteit en segregasie. As ek reg onthou was Ladysmith Black Mambazo se Homeless nie oorspronklik geskryf met armoede in mind nie, maar gooi Paul Simon saam met Zulu Isicathimiya musiek en verkoop dit in Apartheid SA en ewe skielik verander die hele boodskap! Ek weet dit het deel geword van mense wat dit geluister het se psiges tot vandag toe nog. No doubt. Ek was nog nie eens elf jaar jaar oud nie en ek kon die fyner nuanses in die musiek aanvoel. Alhoewel ek die Concert in the Park (live at Ellis Park, Johannesburg) opname eers onlangs behoorlik geluister en gesien het, was ek nog steeds verbaas hoe wit Suid-Afrikaners in 1985 al die swart en crossover musiek van daai tyd in die publiek omhels het. Hierdie was nog voor die Voëlvrybeweging en Brenda Fassie, Steve Kekana, Via Afrika, éVoid, Petit Cheval en Sipho ‘Hotstix’ Mabuse-hulle was almal daar op Ellis Park. Hier is my favourite clip. Check hoe kakbaie mense was daar!

Maar in hindsight was daar glad nie genoeg crossover artists wat kommersiële sukses behaal het die afgelope paar dekades nie en behalwe vir die musiekindustrie wat redelik traag was in die vroeë jare het dit ook te make gehad met die verdeling wat in ons samelewing voorgekom het en nou nog oral te sien is. Verder affekteer die verwysingsraamwerk waarbinne jy grootword en die musiek wat jy geluister het toe jy jonger was, vir seker jou musieksmaak later in jou lewe.

Is crossover musiek net suksesvol as dit polities is? Nee, glad nie. Ek dink dit gaan meer daaroor om die regte klanke te vermeng en die regte attitude in die musiek uit te beeld. Mango Groove en Freshly Ground het wel heel later op die scene verskyn en was/is nie politiese bands nie. Maak geen fout nie, dis nie ‘n maklike genre om sukses mee te behaal nie. Dis nog moeiliker om daai sweet spot te kry wat, across the board, in verskillende Suid-Afrikaners se musieksmaak val. Dan moet mens ook onthou dat baie van die SA musiek wat deesdae populêr is nog meer apart onder wit en swartmense in verskillende rigtings ontwikkel het sedert die tagtigerjare. Ek moet self erken – ek is seker out of date met al die nuutste style wat swartmense luister vandag en alles val nie noodwendig in my persoonlike smaak nie. However, as kunstenaars dit reg doen kry ek fokken hoendervleis.

Wat my dadelik opgeval het van The Steezies se tipe crossover musiek is dat, alhoewel van die tunes se inherente boodskap in ons land se swaarkry en sosiale probleme gegrond is, dit nie net om rasseversoening draai nie. Dis ook gefokus op die viering van individuele vryheid. Hulle songs Mina en Khululeka is vir my die beste voorbeelde. Dis pret musiek vir enige mens maar met ‘n kief boodskap. Luister bietjie na Tshisa Nyama en try om nie jou voet te tap nie, Fanie. Ja, swartmense word gestereotipeer as non-individualiste, en word oor die algemeen gesien as te kultureel kollektief. Witmense word weer gesien as individualiste wat in groepies laertrek teen swartmense. In sekere opsigte is die stereotipes waar, maar dis nie ‘n absolute waarheid nie en kunstenaars wat raakpunte kan gebruik en deel maak van hulle musiek sonder om dit te direk uit te wys, kan berge versit. The Steezies kry dit goed reg. Ek dink hulle het die potensiaal om met musiek verskillende kulture en mense nader aan mekaar te bring. Het ons almal vergeet van empatie of wat de fok, huh? Jirre, ek is ook al gatvol vir al die vervreemding en beledigings wat mense (wat mekaar nie eens ken nie) op social media mekaar toesnou. In die regte lewe fok ons almal net voort in ons eie rigtings in. The Steezies het nie net tunes nie maar ‘n plan van aksie en is besig om ‘n musiekfees te beplan wat daarop gerig is om mense van townships in Kaapstad met die ander klomp privileged Kapenaars bymekaar te bring. Check bietjie hierso. Hulle noem dit die We Are One Festival en dit gaan in hierdie jaar sometime plaasvind.

Musiek is een van die mees effektiefste maniere om mure af te breek en kulturele en sosiale samehorigheid te bewerkstellig, so hoekom was daar so min concerts soos die Concert in the Park in 1985 oor die dekades? Antwoord jy maar daai een self…

Ok, ek het die musikale analise vir heel laaste gelos want dis nie maklik om hierdie band te pigeonhole nie. Ek probeer mos maar altyd. Ek kan ‘n klein bietjie van die ou Mascandi kitaar en Mbaqanqa invloed hoor. Daar is hip hop, African jazz met Latynse invloede (daai lekker funky ska trompette), funk, pop en rock musiek. The Steezies het ‘n groot verskeidenheid bestanddele in hulle resep en hulle het iets beet wat ek hoop hulle gaan aanhou ontwikkel. Of dit ‘n breër groep Suid-Afrikaners, dwars oor die land, se aandag gaan trek… well that remains to be seen…

Deel met jou tjommies!

    RolbeesThe Steezies – Snorting Lines of Turmeric

    Gooi Comment