Terminatryx – Shadow (2014) en Remyx v.2.0 (2017)

In Rolbees Reviews deur Rolbees1 Eiertjies

Hier is nou vir jou ‘n band wat so underground klank het (in Suid-Afrikaanse terme at least) dat meeste ander rock en metal erg mainstream voorkom in vergelyking met hulle. Dit geld ook wat hulle image aanbetref – dis ‘n baie niche mark – en ek het nie eens geweet van Terminatryx voor ek begin reviews doen het vir Watkykjy nie. Hulle het my heavy impress met hulle verwerking van die gedig Ontvlugting op die Ingrid Jonker 2015 tribute album, Die Kind is Nog Jonger, en Paul Andre Blom het daarna vir my ‘n klomp van hulle tunes gestuur om na te luister. As jy ‘n noël is, hy is ‘n lid van V.O.D. (Voice of Destruction) en was die drummer van K.O.B.U.S. gewees.  Paul speel nog al die jare die kitare en bass op Terminatryx se recordings en looi net bass live. Patrick Davidson het tot laas jaar vir hulle kitaar gejol maar het die band verlaat as gevolg van persoonlike redes en Ronnie Belcher slaan steeds tromme. Sonja Ruppersberg is die hoofsanger van die band. Mark Allnutt sou vir Patrick vervang het maar het onttrek, so hulle is nou ‘n three-piece band en Paul gaan kitaar live jol in die toekoms. Sonja en Paul is getroud en saam met die Flamedrop Productions team create hulle ook al jare lank die kiefste horror music videos. Hulle het ‘n shitload hooie op hulle vurk eintlik en ek het vinnig agtergekom die paartjie is nie net die core members van Terminatryx nie maar true partners in crime!

Ek het hulle selfgetitelde debuutalbum (2008), die Remyx v. 1.0 album (2011) wat remixes is van eersgenoemde album en hulle Shadow (2014) album nogal baie geluister die afgelope paar maande. Vir een of ander rede het ek ‘n liking gevang in daai eerste remix album. Nts-nts-nts!
*Blaas so fluitjie, dans en sweet so in ‘n dodgy gothic rave club terwyl ek ‘n orgasme kry tydens ‘n build-up*
Ja, laasgenoemde remixes het nogal ‘n moerse donker dans-rave sound op baie van die songs maar mens moenie vergeet dat Terminatryx ‘n rock and roll legacy opgebou het wat nou al oor sestien jaar strek nie. Hulle klank is niks minder as eklekties nie. Hulle was nog altyd Alternative, Hard Core, Punk, Electronic, Dark Wave en Gothic – dis immers geïnspireer deur sci-fi en horror rolprente – en hulle lirieke handel onder andere oor isssues soos die korrupsie van die mensdom en tegnologie, die tweeledigheid van homo sapiens, politiese en sosiale griewe, die media en die meedoënlose verbruikerswese (Consume, op hulle debut album, is ‘n goeie voorbeeld, en een van my gunsteling songs van die band). Hulle lirieke gaan ook oor seks, verhoudings, geweld en mitologiese wesens. Hulle skep so nou en dan ‘n Afrikaanse tune en voeg elke keer een by hulle albums. O ja, en hulle smaak vryheid van spraak en individualiteit en is lede van die EEF. Ok, nee hulle is nie. Ek fok net rond met julle! Ek gaan nie elke prestasie wat hulle bereik het lys nie. Gaan kyk maar self op hulle website. Hierdie is net wat my oog vinnig gevang het: Hulle het Sheep on Drugs support op hulle 2008 SA toer en ook vir Martin Degville van Sigue Sigue Sputnik op sy 2010 SA toer. Na hulle Shadow album uitgereik is het hulle vir Ministry ge-open tydens hulle SA show en Paul Riekert van Battery 9 was vir een song, Siek en Sat, ook op stage. Terminatryx het ook by Witchfest opgetree in 2015 waar bands soos Cannibal Corpse en Hatebreed op dieselfde bill was. Die band het ook al ge-feature in De Kat en Playboy SA en Sonja het ‘n fotosessie vir laasgenoemde tydskrif gedoen saam met die fotograaf Dr-Benway.

So, verlede jaar het hulle Remyx v 2.0 uitgereik wat ‘n elektroniese remix album is van die Shadow album. Ek wou al lankal bietjie meer in detail die twee offerings vergelyk maar kon nou eers daarby uitkom. Wat die Shadow album aanbetref is dit musiek wat ek beskou as soortgelyk aan Ministry, Battery 9, Sheep on Drugs, Pop Will Eat itself, My Life with the Thrill Kill Kult (The Crow OST), White Zombie en Rob Zombie. Dis die historiese brille waardeur ek na die band kyk en luister. Soos ek hierbo genoem het – daai eerste Remyx v 1.0 het my laat dink aan die donkerder dansmusiek van die nineties. Ja kinders, daar was ‘n tyd toe Battery 9 by die Mother raves in Joburg opgetree het (circa 1997) en dis werklik nie vir my so vreemd om dans remixes en vinnige metal riffs uit dieselfde band se Pandora’s box te hoor kom nie. Trent Reznor en NIN doen dit ook al jare lank. Die tweede Remyx v. 2.0 album het bietjie meer current dans en elektroniese musiek invloede op, though. Ek wil net byvoeg dat die Shadow album se produksie puik is (dit is co-produced deur Paul en Theo Crous, so go figure), sommige tunes is stadiger en ander het weer meer woema. Daar is ‘n paar instrumentals ook, maar vir my is Masjien en Purifire die hit singles van die album. Dis nou as ek die mag gehad het om oor so iets te besluit. Miskien die titelsnit en die song Medusa ook, maar beide in tweede plek. Sonja het ook van die songs geskryf op Shadow en daar is meer van ‘n emosionele element ingebring wat dit ‘n goeie balans gee. Nothing is die enigste song waarvan ek nie so baie hou nie.

Die Remyx v.2.0 album is deur Paul en Sonja produce maar dis vir my baie cool dat die songs op die remix album so anders as die oorspronklikes is. Ek het Paul bietjie uitgevra daaroor en hy het my vermoedens bevestig. Hulle het aspris al die remixers vrye teuels gegee om te doen met die songs net wat hulle wou. Dit verduidelik hoekom die Purifire (In Misery Remix) vir my meer flouer en mak klink en hoekom die Masjien track op Shadow vir my meer oorspronklik klink. Die Masjien-Machine (Battery 9 Sementkop Mix) is deur Paul Riekert met die classic song, Kiss the Machine ge-mashup. ‘n Befokte hat-tip na Battery 9 se kant toe nevertheless. Dit verduidelik ook hoekom ander songs op die Remyx v.2.0 album vir my meer sterker na vore kom. Holy (The Frixion Mix) met daai deurdringende (maar bekende) komper-dans vibes en evil gefluister is befok vir my! Gewoonlik haat ek Dubstep en ek het nie eers geweet wie Grimehouse is voor ek die album geluister het nie maar die Scars (Grimehouse Mix) staan ook nogal uit. Wys jou net wat ‘n lekker fusion colab remix kan doen aan jou persepsies. Die song Outkast (Mr Sakitumi remix) is nog ‘n lekker tune. Die mengsel van Sonja se vocal mixes en keuse van elektroniese klanke, beats en melodieë werk lekker saam. Medusa (Ironic Remix) is ironies genoeg on par met die original maar ek hou nog steeds nie van die song Nothing nie, maak nie saak hoe dit ge-remix word nie. Arme song, sit so in die hoekie en doen niks behalwe huil nie. Shame.
Kyk, Terminatryx is nie bang om te eksperimenteer nie, it can go either way en ek bewonder hulle, maar wat covers aanbetref was hulle cover/remix van Animotion se Obsession (Remyx v. 1.0) ligjare beter as die cover/remix van When Doves Cry op Remyx v.2.0. Miskien is ek net ‘n Prince en Blondie purist maar daai slight mash-up van die song saam met Atomic was minder lekkerder vir my. Daar is bietjie te veel musical en genre gimnastiek aan die gang en dit val nie so sag op my oor nie.

Anyways, as jy nog nie het nie, check bietjie hierdie band uit. They don’t bite…much. Hulle is tans glad nie bang om meer elektronies, simfonies en cinematic te draai met hulle musiek nie. Dis een van die SA bands wie se tunes ekself gereeld luister en hulle music videos is next level.

Check dit uit!



Deel met jou tjommies!

    RolbeesTerminatryx – Shadow (2014) en Remyx v.2.0 (2017)

    Comments

    Gooi Comment