As jy niks goeds het om oor iemand te sê nie… kom sit hier langs my…

In Snotstories deur griffinRek jou bek

deur Melt Sieberhagen

Van kleins af leer jou ouers jou om nie lelike dinge van ander mense te sê nie. ‘n Ongevraagde opmerkings oor die omtrek van ‘n tannie se agteraansig of ‘n oom se skewe tande wat soos skaam, geel spokies onders sy besemsnor uitloer, sou jou sommer vinnig ‘n stewige teregwysing (en dreigement rakende herhaling) besorg.

Soos jy ouer word besef jy dat die instruksie nie ewe van toepassing is op jou ouers self nie en dat jy dit eintlik net nie voor die betrokke mense moet sê nie. Een of twee oordeelsfoute later leer jy dat jy ook versigtig moet wees vir wie jy dit sê. Dit kan steeds by die persoon ter sprake uitkom, selfs met ‘n bietjie meer om die lyf, te danke aan die persoon in die middel wat die geleentheid gebruik om sy eie opinie ook in die mix te gooi. Jy is mos reeds daar om die punch te vat. So jy leer baie goed hoe om seker te maak jou eerlike opnies kry darem lugtyd, maar met die nodige bepalings en voorwaardes van die sosiale kontrak.

Gelukkig is ons deel van ‘n ewig aanpasbare spesie.
Partykeer kry jy die geleenteid om ‘n verdoeselde belediging iewers in te werk.  Soms as deel van ‘n kompliment, maar een met ‘n voetnota wat almal herinner dat niemand ooit so wonderlik is as wat almal wens hulle was nie. Dis daai heildronk vol eufemismes wat in ordentlike geselskap van jou verwag word, maar met die enkele druppel waarheid wat die wyn so ‘n lekker gal nasmaak gee. Gelukkig is daar nog wyn, so dis eintlik alles in die haak.

Die ‘roast’ kultuur vat hierdie beginsel en pimp die negentien duim powdercoated mags uit hom uit.
Die Friar’s Club in New York het ‘n lang en trotse tradisie van roasts waar lede met ‘n deeglke skrobbering vereer word. Die klub het in 1904 begin toe teatermense in name uitgeruil het van mense wat verneuk en konkel met gratis kaartjies na teatershows. Bietjie soos ‘n ou in Eldoraigne met ‘n bodybuidling-blog wat probeer om free tickets Oppikoppi toe te score as ‘n blogger. Blykbaar was dit ‘n lang lysie, want die word toe sommer ‘n fancy affêre met hulle eerste huldigingsete vir Oscar Hammarstein. ‘n Lekker party met ‘n verskoning om n glasie te lig en iemand te ‘toast’.

Deesdae bestaan die klub hoofsaaklik uit komediante en ‘n paar ander bekendes. Die grapjasse het 1950 vir die eerste keer die lekker woordspeling tussen ‘toast’ en ‘roast’ ontdek en Sam Levinson en Joe E Lewis was die eerste ouens om te luister hoe hulle beuel geblaas word terwyl dieselfde beuel tergelykertyd sonder vaseline in ‘n donker plek opgedruk word ook.

Dean Martin het met sy televisiereeks “The Dean Martin Celebrity Roast” in die 70’s die konsep deeglik laat posvat by die publiek, maar eintlik was dit nog altyd veronderstel om ‘n intieme affêre te wees. Daar’s legendes oor van die dinge wat al gesê is by van hierdie aande, maar bewyse is min. Hier en daar kan jy dalk ‘n lekker stukkie soos hierdie uitkrap:

Maar dis eintlik nog ordentlik (VHS kwaliteit taal op die beste.) Deesdae se roasts is ‘n ernstige R18 besigheid. In 1998 het Comedy Central begin om die Friar’s Club se roasts uit te saai en toe hulle dit sommer self begin reël, toe skop dinge in ‘n hoë rat in. Die Comedy Central Roasts van die afgelope twintig jaar het al ‘n paar juweeltjies opgelewer. Daar’s ouens soos Jeff Ross – ook bekend as The Roastmaster General) wat hulleself daarmee ingegrawe het die jaarlikse roasts het ‘n groot besigheid geword. Dis dalk kinderagtig, dis dalk bietjie gemeen, dis amper gewaarborg om kru te wees, maar dis snaaks. Verloor ‘n paar minute van jou lewe hier

en hier

Dan skop jy terug en skakel in vir ‘n bietjie plaaslike punches bo, onder en hard op die belt. Met Comedy Central wat die plaaslike bedryf ‘n moerse boost gee in terme van blootstelling en werk vir plaaslike komediante (insert swak verdoeselde skimp emotikontjie hier), het hulle ook een van hulle mees suksesvolle Amerikaanse konsepte gebring en dit ‘n Suid-Afrikaanse geur gegee. Nie boerewors en bobotie nie, meer brannas-briekmerke en brandende tyres.

Die eerste slagoffer was Neil Diamond, met ‘n ou van Pretoria in ‘n uitgewaste blou suit wat sy body double vir die aand was. Die gehoor het uitsluitlik uit sy eie kinders bestaan. Een van die beste lines uit daardie roast was met komplimente van Casper de Vries: “They were talking of making Steve Hofmeyr’s book Mense van my asem a prescribed book at the Avril Elizabeth Home, to which the kids replied ‘We are mentally handicapped, not fucking braindead!’

Toe is dit Kenny Kunene se beurt met die vuilgat Brit Jimmy Carr as die roastmaster. Persoonlike gunsteling: “PJ Powers is here. She famously sang at the opening ceremony… of the Boer War.”

Nou is dit die beurt van Somizi. Met ‘n paneel wat bestaan uit mense soos ons. Gewone mense wat jy langs mekaar by ‘n braai sal kry. Jy weet, soos Kurt Darren en Fikile Mbalula. As roastmaster moet Gareth Cliff probeer om die toutjies bymekaar hou. Soos sy loopbaan. (Hey, ek like hierdie roast besigheid!) En dan is daar Somzi. Nataniël vir die nuwe millenium. Behalwe, meeste wit mense weet actually wie Nataniël is. Hierdie bra is nie bang om punches te vat nie, want hy deel hulle al lankal uit. Die shots vlieg hoog en hard en dit lyk asof Schalk Bezuidenhout dit own met ‘n vraag oor Somizi se bitter jong aanstaande: “Dit you pay lobola in Zoo Biscuits?”

As jy klaar die koffie van jou keyboard afgevee het, kan jy selfs kyk of jy die klappe sou kon vat met die “burn generator”.
Gee dit ‘n spin en kyk of jy dit kan vat.

En kry vir jou so stukkie free Showmax as jy nog nie het nie… Jy kan vir 14 dae verniet deur ure en ure se kykgenot trawl en besluit of jy wil aansluit teen R99 per maand. Kanse is goed dat jy jou subscription sal wil hou…

griffinAs jy niks goeds het om oor iemand te sê nie… kom sit hier langs my…

Gooi Comment