Vat Vyf! Week 35 van 2017 – Stywe broeke, zak en Joel steen des aanstoots

In Wat is nuus? deur PK MalherbeRek jou bek

1) Praat met kenners en hulle sal jou vertel dit gaan met tye maar broekskeur in die Onderwys. Juis hierdie week het ‘n paar leerlinge van Hoërskool Pretoria-Wes hul rieme (amongst other things) lelik styfgeloop toe hulle daarop aangedring het hulle wil stywe kleefbroeke as deel van hul uniform hê in plaas van wyepypbroeke. Dis daai broeke wat minder aan die verbeelding oorlaat as ‘n Afrikaanse sitkom en van die broeke het blykbaar gekleef soos Jurie Els aan ‘n minderjarige orrelis. Jy kan ‘n toebroodjie wen as jy kan raai wat die hoofrede is vir die kinderlike ongelukkigheid onder die leerlinge. Hier’s ‘n leidraad: Dit rym met watartleid.

2) Daar hang ‘n swaard oor die veiligheid by Buckingham-paleis. Dit kom na ‘n man wie se naam hopeloos te veel konsonante in het, afgestorm het op polisiebeamptes buite Koningin Elizabeth II se amptelike woning met ‘n swaard in die hand. Hy het blykbaar ‘n paar keer hard geskree “Ek hou van kaas, bra!” voor hy vasgetrek is. Prins Charles het met die man gesimpatiseer aangesien hy self al ‘n paar keer aangekeer is in die paleis met ‘n mes in sy rug voordat wagte besef dit dis die mes wat sy mammie daar geplaas het deur hom die troon te ontneem.

3) Gehoor van die Oos-Londense student wat met stomheid geslaan is? In plaas van ‘n toelaag van R1 400 waarop sy geregtig was, word daar toe R14 miljoen in haar rekening gedeponeer deur ‘n maatskappy wat die betalings vir die Walter Sisulu Universiteit hanteer. Sy is toe stiller as die h in “honesty” en spandeer R818 000 voor die ou foutjie aan die lig gekom het. Jaloesie is ‘n lelike ding, mense. Toe van haar tjommies agterkom sy bestel gereeld ‘n KFC Bucket terwyl hulle die beentjies in ‘n Streetwise 2 moet kaal suig, toe gaan klik hulle op haar. Waarmee sy nie rekening gehou het nie is die feit dat daar nou van haar verwag gaan word om die geld terug te betaal. ‘n Geval van geen benul tot geen nul.

4) TV predikers… Joel Osteen des aanstoots. Veral as hulle tydens ‘n orkaan nie hul kerk se deure wil oopmaak vir vloedslagoffers wat alles verloor het nie. Soos Joel Osteen, die skatte-op-aarde-ryk dominee wat met die reuse skade en vloede wat Orkaan Harvey in Texas veroorsaak het, besluit het sy Lakewood Church met 16 800 sitplekke sal toebly, blykbaar omdat dit deur die waters beskadig is. En terwyl foto’s opduik van haaie en krokodille in die vloedwaters waar daar laasweek nog paaie en conspiracy theories was, wil dit lyk asof die groter probleem die drol in die drinkwater is.
5) As jy groot zak wil maak, moet jy duidelik nie buite die boks dink nie. Vra maar vir Floyd Mayweather en Conor McGregor wat hierdie week ten aanskoue van miljoene mense mekaar tydens pouse agter die fietsloods gekry het om gou ‘n sakie uit te sorteer. Dis anyways hoe dit gelyk het – soos ‘n skoolfight. Die hele fight of the century het meer staged voorgekom as ‘n Kinderkrans-konsert. En toe Mayweather in die 10de ronde met ‘n tegniese uitklophou wen en sy winning streak tot 50 uit 50 oorwinnings strek, was dit redelik duidelik dat die grootste verloorder die toeskouer of kyker was. Ek het al groter en beter fights by ‘n body corporate meeting gesien. En op Vuisboek. En by Kersetes. En by die Spur. Dieng-dieng!

Deel met jou tjommies!

    PK MalherbeVat Vyf! Week 35 van 2017 – Stywe broeke, zak en Joel steen des aanstoots

    Gooi Comment