Jack Hammer Band & Friends Fundraiser en Piet Botha se 62ste verjaarsdag

In Rolbees Reviews deur Rolbees2 Eiertjies

(woorde: Rolbees)
(foto’s: Katvrou)

Dit was moerse lekker om al die ou bekendes weer te sien en om nuwe vriende te maak verlede Dinsdagaand by Jack Hammer Band & Friends se fundraiser vir Piet Botha (aka The Hammer). Die doel was om The Hammer te help met mediese onkostes na sy ongeluk bykans drie maande gelede. Dit was ook the Hammer se 62ste verjaarsdag party en tussen die twee sets het Kobus de Kock Jnr hom gebel en ons kon hom almal geluk gewens on screen. Dit was net een van daai magic aande. Die Jack Hammer band is nie net ‘n band nie, dis ‘n beweging. Meeste van julle weet dit. Dit het al ‘n draai in die Verenigde State gemaak, dis die vlagskip en hoeksteen van die wyer Wolmer rock and roll beweging en soos ZZ Top sing, dit het “bad en nationwide” geraak oor die jare, van die Noorde tot die Suide.

In die middel-negentigs het ons al gepraat van Jack Hammer en Piet Botha wat SA rock begin het. Ek dink net nie die presiese geskiedenis van waar alles begin het, hoe alles bymekaar inpas, en hoe dit chronologies ontvou het is al in detail van alle kante af bekyk en vir die wêreld mooi verpak en met ‘n paplepel gevoer nie. But have no fear, Vickus Strijdom en Willem Louw is besig om dit reg te stel met ‘n dokumentêr waarmee hulle amper klaar is. Check hierdie trailer wat hulle ook Dinsdagaand aand op die big screen gewys het:

Soos ek dit sien, het Piet Botha hom nog altyd omring met ‘n hele aantal meestal jonger musikante wat hy aanvanklik geskool het, maar ook sekere dinge by geleer het. Dit het bygedra daartoe dat die Jack Hammer-beweging se old school rock and folk sound relevant gebly het vir die ouer en jonger generasies en ek dink dit het selfs gehelp om die oorlewing van die beweging te verseker. Dit en natuurlik die fans se lojaliteit.

Jis, ek het gewens The Hammer kon dit beleef Dinsdagaand want hy sou damn trots gewees het! More or less 22 songs van die Jack Hammer Band, The Lyzyrd Kyngs en Piet Botha se solo musiek is opgevoer deur die vyftien musikante, soms met ‘n lekker nuwe twist ook by. Julle weet almal The Hammer het geval daar in Margate, ek verstaan van system shut downs en moes ook al die zen van neerbliksem leer. So vir The Hammer wil ek net tune: moenie weer val nie, asseblief, maar as jy doen moet jy mooi mik, bra! Die kreupelgemeenskap is seker een van die min bewegings wat nie graag nuwe lede in rystoele wil aanmoedig om te join nie.

Dinge het gelukkig nie daai kant toe gedraai nie. Phew! Om terug te kom na die show – man, it was a beautiful thing to watch! Ja, daar was klein foutjies met so groot ensemble show. Met waar daar met tye vyf, ses of sewe kitare op stage mee gebesig word, is dit te verstane. Wat my meer intrigue het is die manier hoe al hierdie gesoute musikante dit alles kan wing en mekaar ondersteun en bystaan. Ek wil nie eintlik enkeles uitsonder nie maar Johnathan Martin met die core Jack Hammer band (Duke, Bean en Jake Gunn) agter hom, het die hele show consistently op die pad gebly. Jonno is ‘n incredible frontman en sy leadership skills on stage was duidelik sigbaar, maar hy was nie die enigste een wat geshine het nie.

Kobus de Kock Jnr op vocals met sy larger than life presence stel nooit teleur nie. Mozambique was een van die hoogtepunte van die aand vir my. Dit sou ook nie dieselfde gewees het sonder die Dennis-broers wat daai Kaapse ding so goed kan doen nie (wille waters, goeie stront, orals draai die duiwel rond). Sien Jou Weer met Arthur Dennis op vocals was nog ‘n hoogtepunt vir my en Suitcase vol Winter met Stean van der Walt op vocals was ook net so lekker gewees. Hey, en die ander Van der Walt broers was ook daar: Lani en Anthonie met hulle slick licks en party tricks, Greg Georgiades wat enige ding met ‘n snaar uitstekend kan laat klink, Gareth Wilson (daai dodgy club-eienaar) het ook soos ‘n nagtegaal gesing op Sarajevo, Leon van Zweel op die sax, Gerry Robinson en Hugo de Waal op kitaar.

Almal het hulself uitstekend van hulle taak gekwyt en die hele spul was op stage met die laaste encore vir Goeienag Generaal – Marius Marais het ook gejoin op klavier vir daai een. Eish, daar was verskeie hoenderlveisoomblikke. Nee wat, die Jack Hammer-beweging is nie net ‘n one man show nie – dit was Dinsdagaand in veilige hande gewees. My wens is dat hierdie musiek en gees oorgedra kan word van geslag tot geslag sodat dit kan voortleef wanneer ons almal nie meer op die planeet is nie. Can you imagine that?

 

 

Deel met jou tjommies!

    RolbeesJack Hammer Band & Friends Fundraiser en Piet Botha se 62ste verjaarsdag

    Comments

    Gooi Comment