Vat Vyf! Week 25 van 2017 – Bloem brand, Ford brand en Steve Hofmeyr brand te veel

In Wat is nuus? deur PK MalherbeRek jou bek

1) Bring die water! Bring die sand. Die hele fokken land is aan die brand. Wanneer daar eendag teruggekyk gaan word op hoe ons geskille en issues in hierdie land opgelos het, gaan brandstigting kop-en-skouers uitstaan as NIE DIE FOKKEN OPLOSSING NIE! Terwyl ons (ver)agbare president hierdie week ‘n uitspraak deur ‘n opposisie-partylid verwerp het dat Rome besig is om te brand, terwyl hy sloer om ‘n ondersoek na bewerings oor staatskaping te las, het stakende lede van die munisipalewerkersvakbond Samwu (wat duidelik staan vir Sulke Addergeslag Maak Uiterstekak) die Bloemfonteinse stadsaal aan die brand gesteek en miljoene rande se skade aangerig. Want mos nou sal almal na hulle griewe luister. Goeie werk, ouens. Julle is geniaal. Blykbaar is julle salarisse onmiddellik aangepas. Laat ons weet met hoeveel asseblief. Ek brand om te weet.
2) Kan die eienaars van die volgende Fords net vir ons rustig raak asb: BD 96 HK GP en DF 20 GV GP. Julle Fords is veilig. Of so dink ons. Die res van julle wat Fords ry, ek weet nou nie hoe om die nuus aan julle te breek nie, maar Ford Suid-Afrika het ‘n moerse lot Ford Figo en Ikon-modelle teruggeroep want, fok, hulle kan aan die brand slaan. Om te dink die oermens het sy knaters afgesukkel om vuur te maak en vandag hoef jy net ‘n Ford te ry.

3) Op die beste van tye, lyk speaker Baleka Mbete asof iemand haar (swart) poedel raakgery het of sopas opgedaag het by ‘n funksie met dieselfde kopdoek as sy. Maar daai pisgesig van haar moes seker nog verder aan’t bewe gegaan het met die nuus dat Hoofregter Mogoeng x2 deur middel van die konstitusionele hof uitspraak gelewer het dat die mosie van wantroue teen Zoom-zoom met ‘n geheime stemming moet plaasvind. Sulke realiteits-TV moontlikhede. Neem in ag dat die woord Baleka “vlug”of “weghardloop” beteken en dalkies net kan Mbete vervang word met Verbete soos wat sy nou sal moet baklei om die man wat wiskundiges nagmerries gee te beskerm.
4) Die polisie het ‘n waarskuwing uitgereik aan mense wat aanlyn verhoudings aanknoop aangesien misdadigers daarop uit is om niksvermoedende slagoffers uit hul geld te bedrieg. Dit wil voorkom of meer en meer mense so met hul broek op hul knieë gevang word. Letterlik. Die slagoffer word op ‘n stadium oortuig om ‘n naakfoto aan die misdadiger te stuur en voor jy kan sê “Hiert jou lekker ding,” word die arme slagoffer geblackmail, geblackfemale, gewhitemale en gewhitefemale. Daar word dan aangedring op ‘n ou fooitjie om te verhoed dat die kiekies op sosiale media versprei word. Sulke doosdoeners. Van die slagoffers wat bereid was om na vore te kom (giggel onbeheersd) is blykbaar kaalgat uitgetrek. Finansieel bedoel ek. Julle is gewaarsku. Moenie ‘n selfie van jou moemfie vir onbekendes stuur nie. Bekendes ja, dis fine. Mense soos Bobby en die een ou van Prime Circle en Ruda Landman. Wag, dalk verstaan ek die “bekendes” verkeerd. O fok. Ek het sopas SEND gedruk.

5) Hier’s nou iets wat jy nie elke dag raaklees nie (drup met sarkasme): “Steve word pa.” Dis reg, Dan Roodt se digtervriend (soos in hy skryf goed wat rym… Steve is beslis nie digter as Dan nie), se sesde kind is hierdie week gebore. Die kindjie is pragtig. Romy-Lee. Mooi naampie. Afgelei uit die Noorweegs vir “Asseblief, dis nou genoeg.”

Deel met jou tjommies!

    PK MalherbeVat Vyf! Week 25 van 2017 – Bloem brand, Ford brand en Steve Hofmeyr brand te veel

    Gooi Comment