Vat Vyf! Week 24 van 2017 – Helen Zille moet in die hoekie staan en Hlaudi is werkloos

In Wat is nuus? deur PK MalherbeRek jou bek

1) Kyk, as aliens hierdie week op ons planeetjie sou land in die hoop om tekens van intelligente lewe te vind, sou hulle bakstene gekak het! Veral as hulle hier in Suid-Afrika sou crash-land. Wel, Suid-Afrika soos ons hom ken. Maar ons Kuns- en Kultuurminister, Nathi Mthethwa, het hierdie week aangekondig dat dit tyd is om ons land se naam te verander na meer as net ‘n geografiese beskrywing. Want ons het mos baie zak om rond te gooi. En sulke kolonialisme. Dis nou besides the fact dat as dit nie vir die land se naam was nie, sou einste minister Nathi fokken clue gehad het hoe om weer die plek te kry as hy oorsee was nie. Maar die kersie op die naamlose koek is ‘n aanhaling deur Nathi dat die ANC-regering tot nou toe te besig was om rêrig aandag te skenk aan ‘n moontlike naamsverandering. Fok. Sulke breinkrag. Mens kon actually die gloeilampie sien aangaan bokant Illumi-Nathi se kop. Maar toe gaan staan en outdo hy homself deur Absa en FNB daarvan te beskuldig dat hul R10 miljoen skenkings om die Knysna-brand slagoffers te help, rassisties is… dat dit net ryk wittes gaan baat. Jirre, Nathi! Fokken hou bietjie terug vir volgende week, jou ou slangkak.
2) Malusi Gigaba, hierdie week se Minister van Finansies (haha!), het besvestig dat hy, toe hy nog Minister van Binnelandse Sake was (haha!), sy mag gebruik het om Suid-Afrikaanse burgerskap aan die Guptas toe te staan. Dit nadat ‘n senior amptenaar van die department hul burgerskap geweier het omdat hul nie vir ten minste 5 jaar ‘n fisieke adres in die land gehad het nie. Dit het als aan die lig gekom toe Julius Malema foto’s van die amptelike dokumente op sosiale media versprei het. Daar’s baie dinge waarvan ou Julius beskuldig kan word, maar sy Baaspeurder Faber tendencies is nogals merkwaardig. Tans werk hy blykbaar daaraan om te bewys dat Amor Vittone nie elke week koerante toe draf nie. Sy fokken hardloop volspoed, hierdie week met jammerhartige stories oor hoe haar en Joost se kids by kerslig moet studeer want haar krag is gesny. Ten minste weet sy nou hoe voel die res van die land. Want ons het werklikwaar ook nie meer krag vir haar gesanik nie. Amor? A-less asseblief.
3) Een karakter wat nou waaragtig nie enige Dux-trofee gaan inpalm vir sy wilde insigte nie, is Andile Mngxitama, die leier van die BLF. BLF is natuurlik die Black First Land First beweging, maar kom ons kloof nou nie hare oor die feit dat die dwaas nie eers sy party se naam reg kan afkort nie. Waar’s die ekstra F, poephol? Die wyse heer reken toe mos hierdie week dat die onlangse woeste storms in die Wes-Kaap die gevolg is van “white-owned monopoly capital.” Ander gebiede waarin ons vriend ook blykbaar ‘n deskundige is, sluit in “Hoekom Woolies se yskaste goed kouer hou vir wittes,” “Hoe kan die spoed van wit lig korrek wees as die spoed van swart lig nog nooit getoets is nie,” en “Hoekom, as jy kak aanjaag, praat mense van ‘n swart merkie agter jou naam en nie ‘n wit merkie nie?” Wag tot die werfetter weer sy vullis gaan uitgooi en begin werk aan ‘n tesis oor swartsakke.

4) Die DA het hierdie week aangekondig dat Helen Zille getugtug is oor haar sosiale media wispelturigheid. Sy moes 300 keer uitskryf “Kolonialisme was hondtos,” is 15 keer op elke hand met ‘n liniaal gepiets en is deur Mmusi Maimane ge-wedgie. Sulke brutal. Maar steeds is die ANC nie gelukkig nie. Dis korrek, die politieke party wat geen interne issues het met lede wat rassistiese uitsprake maak of rassehaat aanhits nie, was verontwaardig dat sy kon aanbly as premier van die Wes-Kaap. Sy is egter verwyder van enige besluitnemingstrukture binne die DA, insluitende hul Secret Santa end-of-year funksie, die DA Scrapbooking Club en die Tweedehandse Outannie Panty Vending Machine Sub-komitee.
5) Ou Rooi-Oog, Hlaudi Motsoeneng het hierdie week sy gat gesien sonder ‘n spieël. Die aanbevelings deur die voorsitter van ‘n dissiplinêre verhoor wat bevind het hy het die Es-Eina-Bee-See se naam vergat deur sy optrede en wilde besluite, is aanvaar en Hlaudi is van sy godjietroon afgedonner. Die man wat gereken het niks van sy optrede sal ooit backfire nie, is gefire. Alhoewel hy klaar weer beswaar wil aanteken, wil dit lyk of dit die einde kan wees van die man wat meer comebacks het as ‘n garage pie.

Hierdie post is 42 keer in totaal gelees en 1 keer vandag gelees.

Watkykjy staan op 539,368 post views in totaal sedert 1 November, 2019.

Share dit faktap
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
PK MalherbeVat Vyf! Week 24 van 2017 – Helen Zille moet in die hoekie staan en Hlaudi is werkloos

Gooi Comment