Strab – Plek van seesand, bier, muskiete en kitare

In Snotstories deur Watkykertjie bydrae1 Eiertjies

Fotos & woorde: Katvrou
Dit is straks geriefliker om na ’n musiekfees te ry. Reis is ’n ander storie. Ry is om die hoek. Oppikoppi, Innibos, Aardklop, daai dinge. Reis beteken minstens nege ure op die pad, dooie boude, vaak capuccino’s by petrolstasies, blaasontsteking van al die knyp (sommige toilette lyk melaats), massiewe petrol- en tolhekskade en ’n stywe nek van slaap teen die motorvenster. Nugter weet hoe die bestuurder moet voel as die arme passasiers so ly.

Dan is daar nog die slapende donkies in die middel van Jozini se nagdonker hoofpaadjie, die beenvretende middernagkoue, die vragmotors wat van voor af donder en die sinkgat in jou beursie nadat jy vir jou bespreking betaal het.

Op pad na ’n plek wat al hierdie “trauma” die moeite werd maak. Ponta Malongane, skraps 15 km anderkant die Kosibaai-grens. Elke jaar aan die einde van Mei gebeur die saligste dinge daar vir vier hedonistiese dae.
In 2003 het 60 skubaduikers van die Ocean’s Ecstacy-klub besluit om musiek by hulle laatmiddagkuiers te voeg. Piet Botha met sy groep Jack Hammer was eerste op die speellys, en Piet doop toe die ding Strab – The Subterranean Rock and Blues Experience. Dis natuurlik ’n kopknik vir Bob Dylan se “Subterranean Homesick Blues”.

Dis nou 13 jaar en wavragte voortreflike musiekgroepe later – en Strab se plek vir 1 100 mense word binne ure uitverkoop. Want Ponta wink met wit (orraait, dis eintlik beige) sand, ’n blougroen see en 50 musiekoptredes wat duikers en kampeerders vir drie dae met kitare, tromme en kookwarm musiek besig hou.

Jy benodig ’n viertrekvoertuig om van die grens af by Ponta Malongane te kom, want daardie bulterige sandslang tot in die oord vreet motors wiele en al op. Los dus die sedan by die veilige parkeerplek langs die grenspos en laat die Strab-mense jou met tent, Peaceful Sleep, koelboks en al op ’n lorrie laai. Natuurlik eers nadat jou paspoort met ’n stempel geklap is.

Dan volg ’n rustige rit op die sandpad tussen verwaaide bome met groen pruike en Bob Marley se “Buffalo Soldier” wat by die venster uitgly. Irie, mon. Sodra jy by Ponta se klein ingang inry, is jy tuis. Jy word by jou kampeerterrein afgelaai en van daar af skrop jy naarstig nes totdat al die tente en kampstoeltjies staan en jou keel van die dors begin kraak.

Pak eers die muskietgoed uit sodat jy dit later in die donker kan kry. En moenie verbaas wees as die kamp met sy eie monsterspinnekop vier meter van jou tent af spog nie. “Aaa, kyk julle, ‘n golden orb,” sê iemand. ’n Mens vergeet moeilik van die ding terwyl sy elke dag windgat en agtpotig aan verlamde skoenlappers suig.
Strab lui die Woensdagaand in met ’n strandpartytjie. Elke jaar het sy eie tema en is eintlik al ’n kultusaand. Diegene wat dit oorleef, loop die volgende dag met slinkse flonkerogies en deurmekaar hare rond. Diep tevrede, nes die duikers wat elke dag juigend uit die branders spring omdat daar wéér dolfyne was.

Die boonste dekkroeg is die Donderdagoggend gereed om die R&R’s te skink en die eerste kitare word ingeprop. Ponta Malongane se rum n’ raspberriedrankies is berug en geliefd (met sy verpligte dubbelskoot rum), en ’n hele naweek se gekuier kleur die mond en tong borrelgompienk. Dis ’n Strab-ding, maar vreemd vir die hardebaarde en spiertiere.

Die bye drink die drankies se laaste druppels op uit die tientalle plastiekglase wat oopbek in die son sit en bak. Hulle hou die meeste van die R&R’s. Of dit die rum of rooi soetigheid is, niemand vra nie.

Die musiek is, soos die reggaegroep Tidal Waves sê: “Original music for original people”. Daar is donker folk, rock, blues, lekker parmantige jazz, dan ook Crimson House se gypsy jungle, Tidal Waves se rastarock en verskeie ander genres wat jy op geen ander plek sal kry nie.
Wanneer die boonste kroeg se verhogie teen sononder die kitare bêre, dan gaan die onderste verhoog se ligte aan. ’n Mens sit op die sand met jou bier en braaibrood terwyl die musiek vlak voor jou met oorgawe en suiwer talent gepleeg word.

Probeer stilsit wanneer Manouche (kontrabas, viool, drie lieflike gypsy-jazz-stemme), The Dandies (twee swetende manne uit Potch wat die kranse met kitaar en ‘n tromstel laat kraak) en Wolfgang Marrow (vier jonge bluesdissipels uit Bloemfontein), rock dat die sweet en spoeg spat. Dan is daar nog die veteraankitaarman Robin Auld, kitaardominee Albert Frost en die ander kitaarmasjien Mauritz Lotz. Anton Goosen slinger wyn, geelperskes en pampoene tussen die mense in en lag uit sy maag.
Strab is eintlik ’n slinkse heks wat jou toor om te dans. Sit maar net een keer by Albert Meintjies se voete terwyl hy oor die Namib sing en jy sal self die koors in jou tone voel groei. Die Wasgoedlyn se voortreflike werk is ook te hore, met Riku en Jackie Lätti, Bacchus Nel en die wilde blinde tromspeler, Jean (Tunes) Marais.
Daar sal lank gepraat word oor die eerste staande handeklapjuigery wat hierdie jaar op die boonste dek beleef is – vir Richard van der Westhuizen. Eers lyk hy verbaas dat amper almal “Tussen Treine” saamsing, dan grinnik hy en sê: “Fok, julle is oud”.
Kampeer is nie die enigste opsie nie. Daar is rondawels en chalets vir die mense wat gril vir sand en die apies se poef. Die houthutjies in die duikkamp is erg gewild, want jy kan net uit die bed by die trappe afrol en jy’s by die kroeg se trappe. Alles is kruipafstand van die Indiese Oseaan. Waar ook al die penne jou tent vashou, hoor jy die see.

By Ponta se restaurant kan jy jou etes bespreek lank voordat jy die sleepwa in Gauteng laai. Andersins sluk jy maar blikkieskos, broodrolletjies, bokswyn en Rennies.

Soggens werk goed om die 2M-bier en muskietlyke uit jou oksels te spoel deur in die bedeesde koel branders te gaan plas. Met die aanloop na die nat strand lyk dit soms asof die krappies vorentoe loop, maar dis blykbaar ’n newe-effek as jy na die Black Cat Bones kyk terwyl jy ’n caipirinha drink. Die ouens in die mediese kamp is gelukkig ook daar om te help met pleisters en pille as jy met die apies slaags raak omdat hulle jou broeke van die draad af probeer steel.
Baie feesgangers vat die pad na die gehuggie om die draai waar kuierhutte soos Suzy’s Bar hulle drank spotgoedkoop voorsit. Oral kan jy houtvisse, bloupers en geel fraiinglappe, M2M-bierhemde, gypsybroeke met psigedeliese neonpatrone koop en ’n sonbril kry wat jou soos ’n brommer laat lyk. Taaigebrande manne loop rond met broodsakkies vol kasjoeneute in alle geure. Koop gerus, dis goedkoperig.
Elke hond in Ponta is die kluts kwyt. Kom ewe oopbek en swaaistert nader, maar hap jou dan aan die pols net omdat hy kan. Vryf, hap, vryf, hap. Hulle swartbevlooide pense weerhou jou egter van enige verdere gekrappery.
Strab gee baie dinge weg. Duik, swem, dans, sing, drink, daai M2M-bier, snorkel, kuier, lag, krap (die muskiete land snags in eskaders) en musiek.

Wanneer jy die Sondag jouself terugsleep oor die grens huis toe, besef jy Strab vat net een ding by jou.

Jou hart.

Piet Botha sing in “Mozambique”:

Where blue water meets white sand
The ocean has a name, she is called India
And the tall trees dance in the wind
It’s a slow dance, can’t you see
Ah you beautiful, beautiful Mozambique

So, elke jaar moet jy op dieselfde dooie boude deur talle tolhekke terugreis om maar net weer jou hart te gaan haal.

Kuier hier vir meer inligting.

Deel met jou tjommies!

    Watkykertjie bydraeStrab – Plek van seesand, bier, muskiete en kitare

    Comments

    1. Skillie

      Wow! So mooi geskryf en beskryf. Dankie Katvrou.

    Gooi Comment