‘n Dubbel dosis dokters (waarvan een ‘n dosis)

In Snotstories, Uncategorized deur Watkykertjie bydraeRek jou bek

Deur Melt Sieberhagen
Dalk het jy die updates op Facebook gemis. Daardie wonderlike brokkies nuus wat jou meedeel dat dit koud is. Die jaarlikse “Sop is nie regte kos nie” debatte wat opvlam. ‘n Herhaaldelike hunkering na die sonnige somersdae toe al die updates gegaan het oor hoe warm dit is.

Dis reg, Maats! Winter is hier. <Insert stupid Game of Thrones reference>

Behalwe vir al die foto’s van ryp wat wit op grasperke sit en kinders met musse, serpe en moffies, is daar ook ander winterverwante verrassings wat voorlê: Snotsiekte. Die kanse is uitstekend dat jy platgetrek gaan word met enigiets van ‘n ligte kopverkoue, tot ‘n meer serious longkwaal met ‘n fancy naam. Daar’s klaarblyklik ook nog vark- en voëlgriep daar buite, so die pryse wat jy in die hoes, hyg en snuffel-lotto kan wen, is legio. Nie dat enigiemand ‘n actual siekte toegewens word nie. Trouens, hopelik spring almal dit hierdie winter vry. Maar kom ons wees realisties. Jou kanse om dit te mis, is skraal.

Dalk is jy die presteerdertjie wat al in April jou griepinsuitings gekry het. Of jy het die gestel van ‘n os en word nooit siek nie (behalwe nou vir daardie infeksietjie, maar let’s face it – jy’t dit al in 2003 in Drop Zone gekry en tot dusver het niks afgeval nie). Dalk is jy net gelukkig. Die res van ons maak maar reg vir ten minste ‘n paar dae met Med-Lemon, paracetemol en alkohol-inname wat beperk word tot die 8,4% in jou gunsteling hoesstroop.

Daar is geen wenners in hierdie siekte-speletjie nie. Behalwe miskien die ouens wat gelukkig genoeg is om ‘n vroulike huismaat met sterk moederlike instinkte te hê wat hulle borsies met Vick’s insmeer. Of die regtig gelukkige ouens wat die kans kry om hulle huismaats se borste met Vick’s te smeer.

So, as jy klaar by die dokter was en jou eie vernuf gebruik het om die 11 op jou siekbriefie self te dokter om soos ‘n 17 te lyk, sak jy op die couch neer, pop jou pille, drink jou teetjie met gemmer, heuning en sonbesie (of whatever hierdie seisoen se wonerkuur is). Nou wat nou? Wat van nog ‘n bietjie dokter-dokter? (Nee, nie daai tipe nie, jou siek bliksem. Los nou jou huismaats uit).
Dr Frasier Crane
Vir ‘n sitcom uit 1993 uit, het Frasier ongelooflik goed verouder. Die jokes is nog steeds snaaks. Min dinge uit die 90’s uit is vandag nog genoeg om jou hardop te laat lag. Wel, min dinge wat bedoel was om snaaks te wees, anyway.

Frasier Crane is ‘n psigiater wat na ‘n klomp jare in Boston (en so 200 episodes op Cheers) terugtrek Seattle toe waar hy ‘n woonstel met sy pa (Martin), en die se hond, Eddie) deel. Ons praat nou nie hier van ‘n tweeslaapkamer Sunnyside setup met kakkerlakke wat drugs verkoop en Nigerians wat onder jou wasbak bly nie. Properse penthouse vibes. Die ou is immers ‘n kopdokter. Sommer op die radio ook.

Niemand sal hom maklik daarvan beskuldig dat hy al die geheime van goeie psigiatrie sommer net so op die lug weggee  en ander praktisyns se pasiënte afrokkel nie. Trouens, hy is effe van ‘n windgat met ‘n stewige dosis pretensie. Dit is juis sy neus-in-die-lug benadering tot alles wat dit soveel lekkerder maak as die producer van sy show (Ross) hom met ‘n lekker skop in die spreekwoordelike privaatpraktyk aarde toe bring.

Spin-offs van suksesvolle sitcoms kom nie maklik die mas op nie. Om een karakter uit ‘n ensemble te haal en op sy eie in ‘n nuwe wêreld te laat rondspartel, is amper so goed soos om vir Bekende Rugbyspeler (insert name of choice) te vat en hom op striker vir Orlando Pirates te laat speel. Maak nie saak hoe talentvol die ou is nie, dis nie meer sy game nie en hy lyk soos ‘n ou wat net heeltemal te hard probeer. Hoofsaaklik omdat hy besig is om te hard te probeer.

Frasier is een van die uitsonderings.

Een van die groot redes was beslis dat die show nie net om Frasier te laat draai nie. Sy pa, die hond en die producer is al klaar lekker karakters wat Frasier opdraande gee. Maar die twee wat almal verbaas het, was aanvanklik nie eers deel van die show nie. David Hyde Pierce het in die rol van Niles, Frasier se nog meer pretensieuse, angstige en all-round sosiaal wanaangepaste broer, ingestap en dit 100% sy eie gemaak. Frasier sou aanvanklik nie eers ‘n broer gehad het nie en Pierce het die rol gekry omdat hy baie na ‘n jong Kelsey Grammer gelyk het. Om rol te kry wat spesiaal vir jou geskryf is, is seker ‘n goei plek om te begin, maar ‘n mens moet die ou krediet gee: Hy’t dit ge-own. Sommer ‘n klomp goue beeldjie daarvoor gekry en alles. Die knaap is regtig snaaks. Check’it uit:

Niles raak ook sommer in die eerste episode verlief op sy pa se inwonende verpleegster, Daphne. Sy’s ‘n semi-psychic meise van Manchester af wat nie terugstaan vir die knorrige pa en sy twee stok-in-die-hol seuns nie. As Niles haar sien raak hy soos daai mediaprefek op laerskool wat sy eerste hormonale fluktuasies en die biblioteekjuffrou se netjiese stel ensiklopedieë gelyktydig opmerk en kombineer om in ‘n stamelende ploert te verander elke keer wat sy net in sy rigting kyk. En dan heeltemal te lank vat om die boekie in die agterste stoorkamer te gaan bêre. Die Niles-Daphne storielyn hou vir die hele reeks (11 Seasons) en raak net al hoe snaakser.
Dis die hele ding van Frasier. Dis 25 jaar oud en is nog steeds snaaks. Min sitcoms het ‘n rakleeftyd lank na hulle eerste uitsending. Frasier is een van daai. Soos Friends, Seinfeld en Orkney Snork Nie. Die karakters is funny en die jokes gaan oor hulle en hulle omgang (of tekort daaraan) met ander mense. Die ouens is funny, die girls is funny en nog sexy ook. Glad nie poppies nie. Meisie wat jou sal bliksem as jy nie die deur vir hulle oopmaak nie. O ja, en die hond. Die hond is die ster van die show. (Behalwe vir al hierdie klomp celebs wat ook daarin was:

Frasier was vir amper 300 episodes Kelsey Grammer se lekker vet meal ticket, so hy’t ‘n stewige rock’n’roll leefstyl aangevat (nie sleg vir ‘n bles ou in sy middel 40s nie). As jy iewers in season 4 die episode kyk waar Niles die radio show oorneem, moenie dink dit was ‘n slim storielyn nie. Dit was noodsaaklik. Die doktor self was net gou vir drie weke Betty Ford clinic toe nadat hy sy kar deur ‘n doringbos geflip het. ‘n Voorliefde vir cocaine en ‘n six-figure salaris is nooit ‘n goeie kombinasie nie.

Dr Gregory House. MD.
‘n Ander dokter met ‘n voorliefde vir verdowingsmiddels kry ons aan die ander kant van Amerika – New Jersey, by ‘n regte egte hospitaal. Met regte egte siek mense. En wow ‘siek’ is ‘n understatement. Mense kry vreemde siektes en House is die enigste ou in die wêreld wat kan uitfigure wat hulle eintlik makeer. Verkieslik sonder om self met hulle te werk. Hy verkies om nie sy pasiënte te ontmoet nie, want hy’s nie juis mal oor mense nie. Wat okay is, want mense is ook nie juis mal oor hom nie.

Hy’s nogal ‘n drol. Maar ‘n briljante een. Hy ondersoek en krap en delf en breek gewoonlik iewers in en ruk ‘n haas uit die hoed (of  lintwurm uit die galblaas) om alles op te los. Soos ‘n mediese Sherlock Holmes – waarop House ligtelik gebaseer is.  Sy huisnommer is 221B – Sherlock is 221B Baker Street. House se beste tjommie is Dr Wilson. Holmes s’n was Watson. Daar’s seker nog meer obvious hints, maar ek kan dit nie uitfigure nie, want ek’s nie House nie.

Die mediese stuff is ook nooit boring nie. Van die weird buitepasiënte wat as comic relief ingespan word, tot die hectic tranetrekker siektes wat mense op hulle knieë (en House op sy stukke) het. Dis ‘n hengse kick as jy ‘n vreemde siekte herken. Dalk omdat jy ‘n mediese student gedate het. Jy’t dalk glomerulonephritis geleer met laataand swotsessies toe jy nog gedink het dit sal haar help om haar graad te kry. Dan kan sy dalk ‘n werk kry en nie net die hele tyd op jou nek lê nie. Dalk. Maar tien teen een nie (Just saying). Of iemand in jou familie het dalk Strümpell-siekte. Maar nie Lupus nie. Dis nooit Lupus nie.

House is ‘n likeable asehole. Met ‘n unieke lewensfilosofie. Ek sou dit so opsom: Dis okay om ‘n drol te wees. Maar net met goeie rede. As dit die enigste manier is om ‘n situasie te hanteer, go for it. Waar rede, mooipraat en geduld vaal, span die osse van moerstrip, snedig, sarkasties en windgat voor daardie wa en trek hom teen die bult uit. Slaan die opponerende geraas stom met ‘n vertoning van absolute hardegat vasberadenheid. Met die geraas uit die pad kan jy dan die aandag vestig op dit wat belangrik is. Sodra jy deurdring en jou punt maak/teorie bewys/die tumor agter die oogkas raaksien en dit suksesvol teruglei na die oorsaak van ‘n 64-jarige man se konstante ereksie elke keer wanneer hy ‘n allergiese reaksie toon teen die eucalyptus ekstrak in sy toupee-gom, dan hou jy op om ‘n drol te wees en beweeg aan.

Dis okay om ‘n fout te maak. Hoe anders gaan jy leer? Dit beteken nie jy’t ‘n lisensie vir absolute onverskilligheid en bandelose immersion in kak aanjaag nie. Dit moet die verkeerde afdraaie van jou journey wees, nie die pitstops nie. (Wow, daar gebruik ek ‘journey’. Wat’s volgende – hartsvriende)? Erken dat jy ‘n fout gemaak het. Sê jammer – veral as jy ‘n dol was daaroor.

Die reeks is so goed dat jy nie eers tyd het om te dink aan hoe ongelooflik goed Hugh Laurie doen met sy vertolking nie. My moer, man! Hy was die pasty Britse offisier in Blackadder! Hy’s ‘n properse soutie, maar sy karakterisering is so spot-on en oortuigend, jy besef nie eers hy doen ‘n befokte aksent nie. O ja, en die drugs is hierdie keer die karakter en nie die akteur se probleem nie. Wel, House skiem nie dis ‘n probleem dat hy Vicodin soos Smarties pop nie. As hy so goed is óp drugs, wil ek hom nie sober sien nie.

Gryp ‘n tissue en trek jou teddiebeer nader. Binge jou gat af en verlang so snuif-snuif na die tyd toe jy hierdie shows die eerste keer gekyk het. Kry jouself ‘n bietjie jammer. Maar troos jouself aan die feit dat jy nie meer deur advertensies moet suffer soos die eerste keer toe jy hierdie twee classics gekyk het nie.

Jy kan verniet vir twee weke lank Showmax se trial tydperk ‘n shot gee en hierdie twee lekker reekse hard binge – doctor’s orders!

Watkykertjie bydrae‘n Dubbel dosis dokters (waarvan een ‘n dosis)

Gooi Comment