Arno Carstens se Aandblom 13 is ‘n unieke stukkie werk

In Rolbees Reviews deur RolbeesRek jou bek

Arno Carstens – Die Aandblom 13
‘n Album is ‘n wêreld op sy eie, of soms ’n heelal, geskep deur die kunstenaar. Partymaal bewonder jy die artistieke konstruksie van ‘n afstand af, ander kere dans jy saam met die karakters wat in die selfgemaakte wêreld leef, absorbeer jy die idees en klanke in jou onderbewussyn; soms sluk die heelal jou summier in. Jy bevind jouself deel daarvan, lanseer en vir net onder ‘n uur sweef jy rond deur ‘n vreemde plek in ‘n veranderde toestand. Jou klanksisteem, jou huis se mure, jou bure se huise en die res van die buurt waarin jy woon; jou hele bestaan. Dit verdwyn net.

Jy kan meeste van daai boksies afmerk as jy Die Aandblom 13 beleef. Ek wil nie vandag skryf oor hoekom daar nie meer van ‘n fanfare oor hierdie album gemaak is nie, of hoekom ek ‘n briljante album oorgeslaan het toe dit uitgereik is verlede jaar nie. Ek wil ook nie tob oor Griffin en Riaan Grobler al die tyd reg was oor die musiek nie. Dankie Riaan, dat jy my weer herinner het om die tyd te vat en dit te luister. Ek wil veral nie Arno Carstens se eerste Afrikaanse solo album vergelyk met sy vele Engelse solo albums nie. Dié waarvan ek gehou het of dié waarvan ek nie gehou het nie. Ek sal ‘n boek skryf. Ek wil dit ook nie probeer vergelyk met Springbok Nude Girls of selfs met my gunsteling industrial of alternative electro pop bands van die negentigs nie.

Dis ‘n unieke stukkie werk hierdie. Aandblom 13 is genomineer vir twee SAMA toekennings: Best Alternative Album of the Year en Best Engineered Album of the Year en Team Arno Carstens het weggestap met slegs die laasgenoemde toekenning. Ek begin al hoe meer dink die nuwe Afrikaanse musiekrewolusie prut net stadig sonder dat mense dit agterkom en ontvlam so nou en dan. Sien genoeg mense dit ooit raak? Gil Scott-Heron het in 1970 gesing dat die black consciousness revolution nooit op televisie sal verskyn nie. Insgelyks mag die rewolusie vir befokte Afrikaanse musiek wel nooit die internet breek in 2017 nie – terwyl dit sukkel om deur die warboel van informasie oor ander befokte (en kak) musiek, internasionale bands, local bands en gig guides op sosiale media te baklei om soveel as moontlik mense te bereik. Luister mense ooit nog radio? As jy gelukkig is ontdek jy die fragmente van befokte Afrikaanse musiek so nou en dan per ongeluk, of as ‘n mede-musiekverslaafde jou daarop attent maak.

So baie siele loop sielloos. Hoogs waarskynlik gaan die sielloses nooit hierdie album verstaan nie, wat nog van download of stream nie. Dis ironies want dis juis diegene wat hierdie musiek broodnodig het. Arno Carstens dra sy stem oor met die gemaklike vertroue wat ‘n mens van hom verwag, maar dis die absolute simbiose met sy moedertaal en die verwekking van nuwe unieke klanke wat my oorweldig – dis die tipe gebalanseerde “weird” waarna ek smag in Afrikaanse indie rock – en die ervaringe waaroor hy sing is dit waarmee ek kan identifiseer op hierdie stadium van die geveg. Donker alternatiewe akoestiese eenvoud word met die “weird” elektroniese klanke vermeng. Voeg by ‘n verdere mengsel van moderne sestigers tipe digkuns en afgekoelde klassieke Arno Carstens, soos ek dit leer ken het, en my aandag word vasgevang op elke liewe song.
As ek na Die Anderkant luister, dink ek my in hoe al die aaklige kommersiële Afrikaanse albums spontaan verbrand. Tjoepstil. Wanneer laas het ek ‘n real goed uitgevoerde love song in Afrikaans gehoor? Nie dat ek al vergeet het van Toe Vind ek Jou nie.Ek moet bieg die melankoliese love songs is meer aangrypend vir my. Meer interressant. Dis glad nie ‘n smartvraat konsepalbum nie. Arno Carstens vat ‘n wandeling deur sy verlede en vertel stories oor wie hy is en hoe hy grootgeword het. Dit kom wel donker oor maar dit klink vir my net reg. Meeste van die album is op die bed in sy kamer in Die Aandblom nommer 13, Worcester geskryf – waar hy leer kitaar speel het en alhoewel dit ‘n baie persoonlike album is reflekteer dit ons moderne samelewing en hedendaagse verhoudinge in die stories met al die probleme en kompleksiteit wat mens kan verwag. What is most personal is most common.

Ek het nie ‘n gunsteling song om te punt nie, maar ek luister nou weer die laaste drie songs en ek hoor net elke keer weer iets wat my mind blow. Ceres, Intensie en Fantasie. Hierdie is ‘n must have album as jy van befokte Afrikaanse musiek hou. Eerder laat as nooit.

Wanneer word dit op vinyl gedruk Arno?

Deel met jou tjommies!

    RolbeesArno Carstens se Aandblom 13 is ‘n unieke stukkie werk

    Gooi Comment