Vat vyf! Week 14 van 2017 – Suid-Afrika se junk hang by sy onderbroek uit

In Wat is nuus? deur PK MalherbeRek jou bek

1) Suid-Afrika het hierdie week sy Facebook-status na ROMMEL verander. Dis lank reeds verwag, maar Zoom-zoom se onverskillige kabinetskommeling laas week was blykbaar die laaste strooi. Wat beteken dit vir die man in die straat? Wel, vir hom beteken dit hy is gatvol en daarom is hy in die straat met sulke oulike plakkate wat goed sê soos “Gaan weg Zuma!” of “Angus vervloek jou, jou belhamel!” en dan marsjeer hulle na allerhande plekke om te wys hulle is keelvol. Die laaste keer wat soveel blankes in so groot groep opgeruk het was by ‘n grootdoop op Delmas. Vir die man in die straat beteken dit ook hy is dalk binnekort die man op straat. Want die slim mense oorsee is nou so half versigtig vir wie hulle hul geldjies gaan leen. En Suid-Afrika staan nie voor in daai ry nie. 2) Maandagoggend het mense van Potch, Orkney, Klerksdorp, Joburg en Pretoria wakker geword van ‘n aardskudding van 5,2. Toe tref ‘n aardbewing Botswana en dit lei tot verdere aardskuddings wat so ver as Limpopo, Vrystaat, Mpumalanga en Namibië gevoel kon word. Bespiegelings oor die oorsaak van die skuddings sluit in dat die NG Kerk nou besluit het hulle sal gay mense trou en ten minste vier Adele-fans was oortuig hul diva het die land stil-stil ingesluip vir ‘n konsert of twee, maar die Amerikaanse Geologiese Opname het bevestig hierdie was die genuine ding.
3) Dit wil voorkom of die regerende party dankie-sê-week gevier het met ‘n hele paar bedankings. Eers het Dipuo Pieters, voormalige minister van vervoer haar bedanking as ANC-LP ingedien. Toe bedank Mcebisi Jonas, voormalige adjunk-minister van finansies. Toe volg Tina Joemat-Pettersson, voormalige minister van energie. Die redes is nog onduidelik, maar die word “voormalige” het moontlik ‘n moerse rol gespeel in hul no-strings-attached besluite. Wens net meer van die “strings-attached” bliksems wil hul voorbeeld volg, maar hul marionette-heerser en die manne wat die poppekas beheer, die Guptas, se houvas is nog te stewig.
4) Die verkoop van renosterhoring is nou wettig in Suid-Afrika. Dis ‘n harde slag vir die land se omgewingsbewustes, maar die nuus daaroor is half verswelg deur ander nuus soos dat die verkoop van jou gewete ook wettig is – vra maar vir Gwede Mantashe, Cyril Ramaphosa en Zweli Mkhize wat moes terugkrabbel op hul kritiek teen Zoom-zoom se kabinetskommeling en geforseer is om omverskoning te vra. Ek hoop die drie gesiene ANC-figure slaap lekker saans. Sulke lensiesop-jammerte.

5) Die DA strike my nou nie juis as mense met oorlogintensies nie. Maar tog toe hulle aankondig hulle beplan ‘n optog na Luthuli-huis om hul ontevredenheid met Zoom-zoom se kabinetskommeling te wys, het die ANC blykbaar so groot geskrik dat lede van hul veteranevereniging, Umkhonto weSizwe met busse aangery is van so ver as KwaZulu-Natal. Soveel as 200 lede in camo (kan nie te fokken goed wees nie aangesien 200 getel kon word) het paraat wag gestaan en struggle-liedjies gesing. Dis nie duidelik watter struggle-liedjies nie, maar my geld is op iets van Snotkop en moontlik daai “I’m blue da ba dee da ba daa Da ba dee da ba daa, da ba dee da ba daa, da ba dee da ba daa Da ba dee da ba daa, da ba dee da ba daa, da ba dee da ba daa” oets-oets-treffer uit die negentigs.

PK MalherbeVat vyf! Week 14 van 2017 – Suid-Afrika se junk hang by sy onderbroek uit

Gooi Comment