Mieliepop betower en belemmer

In Snotstories deur Watkykertjie bydraeRek jou bek

woorde, fotos deur Katvrou

“Lovey, ek mis hierdie fees vir niks. Beste is, niemand in Joburg weet daarvan nie.”

Jenny Bass lek haar lemmetjie-en-gemmer-yslollie en grinnik. Sy is 66 jaar oud en speel baskitaar vir haar kerkorkes. Die drukverband vir die slegte bloedsomloop om haar linkerenkel skeel haar min; sy het mos haar kierie.

“Flippit, hier’s baie goeie bands. Ken jy die Rolling Dandies? Ek wil die Hellcats sien, ook Gerald Clark, ek’s mal oor die blues, en die Lectric Monks, hulle het daai Mumford-vibe en o ja, my seun sê ek moet net eenvoudig vir Boargazm sien. Hy hou van aliens.”

Agter haar hardloop ‘n seuntjie kaalvoet verby om vir Jonas die feeshond te probeer vang. Jonas dra ‘n oranje Jägermeister-papierhalsband.
Mieliepop 2017, bykans 50 km buite Ermelo, Mpumalanga, in die kampeerplek gedoop Lothair, is pas uitgefees. Dié musiekfees roei astrant weg van die hoofstroom, maar net bykans 2 500 musiekgeesdriftiges kan dit bywoon aangesien die plek ‘n ongerepte kampeerarea is en die eienaar dit so wil hou.

Dié jaar se musiek van 17 tot 20 Maart begin ewe bedeesd op die Saterdagmiddag met die rustige, soet stem van Adele Nqeto. Vroue met hippierokke en meisies met blomkransies en neonpienk rompies dans en blaas soentjies. Kleuters trippel rond en kou spoegerig aan sponskoekies.

En dan, die woeste Maandagnag wat met die varksnorke en waansinnige gebrul van Boargazm se metal-hardebaarde afsluit. Stories loop steeds dat van die rotse op die heuwel gekraak en wilgers langs die klankversterkers by die verhoog se blare oornag verdor het …

Nietemin, soos elke jaar sedert 2011, kampeer feesmense op die welige grasperke teen die hellings weerskante van die meer en sweef behoorlik tussen hul tente en gazebo’s deur van vreugde oor die ruim, skoon storte en toilette. Daar word gebraai, musiek uit motors gespeel, kliphard gesing en dawerend gelag (klank trek mos ver oor die water) – dit als voor sewe-uur die oggend.
Tussenin swem joliges in die tamaai meer, dobber op hul bont opblaasmatrassies, brand bloedrooi in die son, maak ‘n stadige draai in die water op die feesboot waar komediante hulle laat skater en ‘n kunstenaar soms sy akoestiese kitaar speel en ‘n bietjie sing. Die passasiers raak egter effens gespanne wanneer die boot bietjie oorlaai word en dieper sak. Want tussen die bodemplanke deur klouter klein spinnekoppies wat glad nie tevrede is om so skielik nat te word nie.

Ander beklouter die massiewe rotse en kom vol klitsgras terug, verken die watervalletjies en die Rave Cave en gooi ‘n dansie op die Cool In The Pool-dek met sy verfrissende waterspuitjies. Gesonbrilde lywe drink bier in die swembad en die honger feesmense smul pal aan die panini’s van een van die talle kosstalletjies in die Food Village. Daarná dut hulle onder die koeltebome.
Saterdagoggend betrek die jogamense die groot grasperk voor die hoofverhoog met hul bont matjies, soepel lywe en stywe oefenklere. Die dames se downward dog-strek laat die verbygaande babelaas manne se bleek tonge soos gangmatte uitrol.

Die musiek se verskeidenheid trek almal heen en weer tussen die hoofverhoog en die kleiner Willow-verhoog. Hierdie jaar se spyskaart het name soos Tidal Waves, Naming James, Greg Georgiades and The Ultra Natives, Hot Water, Lectric Monks, die kitaarman Jonathan Peyper, Medicine Boy, Desmond and The Tutus, Shortstraw, Urban Village, Ben Day and The Concrete Lions, BCUC, die twee wilde rockers van Hellcats, die Dandies, FuziGish, Barbosa Experience en Vasco Bromada. Diegene wat nie van die groepe ken nie, luister sommer vinnig die gehalte van die groot verskeidenheid musiek raak.

Kyk byvoorbeeld hier na die voortreflike The Dandies. Sit eers jou valhelm op.

Hoogtepunte

  • Die reggae-groep Tidal Waves se lied vir Marikana. Daar word met respek gedans; eerder ‘n gewieg as die gebruiklike bons. Dan ook, die voorsanger Jacob Wulana se dierbare onvermoë om tydens die liedjie “Lekker lekker dans” se “fokof” in die refrein hardop te sê. Want daar’s ‘n blonde seuntjie in die voorste ry, grootoog aan’t luister en hy wil nie sy ore toemaak nie. Jacob gee oor en sê: “Mensê, mensê, dan moet julle dit maar sê so aan die bênnekant. Want Afrekhans isse mooi en pragtagge taal. Ha-la-la.”
  • Die toorkrag in die Kaapse duo Medicine Boy – diep sang, klawerbord en passievolle tromwerk deur Lucy Kruger en Andre Leo doen sang en maniese kitaar. Hulle noem dit “dream noise”. Dit is verstommend hoe hulle almal voor die verhoog met hul naatlose en onbeskroomd sensuele wisselwerking fassineer. Kyk hier na “Together”.

    Vergelyk dan hul dromerige akoestiese weergawe daarmee.
  • Die applous wat die naglug invlieg vir Soweto se BCUC op die hoofverhoog: “It’s not about the red T-shirt, the yellow T-shirt or the blue T-shirt. It’s about us.”
  • Xoliswa Tom, die sanger en tromslaner van HotWater Duo wat Saterdagaand in die yswind met haar somerklere soos ‘n nagtegaal sing en die groot trom klits asof die son net op haar skyn.
  • Warwick van the Hellcats wat ‘n vreemde soort motion sickness by die feesgangers ontketen met sy onvermoë om sy lyf, sy kuif en sy kitaar vir langer as twee sekondes stil te hou. Hier is hulle video “High Noon”.

    Kyk ook na hulle klipharde “Black Wolf”.
  • Tubatsi Moloi van Urban Village se raad aan feesgangers: “When things are tough, do this. Get up, dress up and show up.”
  • Boargazm, die metal-viertal uit Pretoria-Noord. Die bedonnerde diksnaarspeler en daardie grillerige varksnoetmaskers. Die ribkrakende vennootskap van Chris van der Walt se hoofkitaar en Jason Hinch se tromwerk. Danksy hulle sterf niemand van Maandagaand se yswind nie, want almal headbang totdat hul hare kroes en wange gloei.

Feespraatjies

“Check daai vliegtuig is bietjie laag.”
“Dude, dis ‘n drone.”

“Ek wonder of sy toe haar iPhone gekry het.”
“Nee bra, haar body language sê nee.”

Feesganger skreeu vir die bluessanger Gerald Clark: “Het jy gaan swot?”
Sy antwoord: “Hei ek is slim gebore.”

“Oh nee, ons het ge-outrun van onion rings.”

Feesganger toegeplak met sonroom langs die water: “Ek wil nou net soos in inwade.”

“Nee, ons ry nie vandag terug nie. Ons wag vir die groupies. Hê hê hê.”

“Pak julle al op?”
“Nee, net die kombuis.” (Dis ‘n pan, braaitang en braaibak.)

“Hierdie song maak my nou lui, hoor.” (Anneli van Rooyen se “Ek lewe” wat iewers uit ‘n motor speel.)

“Man ek shower eers later, ek stink nog nie.”
“Ja dit sal nie die chicks aan die begin pla nie, maar jy gaan al hoe grosser raak.”

“Ek gaan jou bliksem want jy kots op my skoene.”

“We played this necrophilia song at White Mountain. Never got invited back.” (Jay Bones, sanger van Rambling Bones.)

“Jy klink nou soos my ma, behalwe jy is lelik en meer fun.”

“Dude, kyk die die mis op die water.”
“Ek sien niks. My oë werk nie meer nie.” (Die oggend ná Boargazm.)

“All those muggies gave me some protein.”

“Ek’t nie meer geld vir die tollgates terug nie.”

“Vat jy jou trui huis toe? Maar daar’s Jägermeister op. En ‘n gat in die arm.”

“OMG, I want to live here.”

“Daar is twee soorte mense in die wêreld: dié wat bacon eet, en liegbekke.”

“Ek het dit gemis, maar gehóór.” (Deathrettes se metal-kitare wat vroegaand oor die feesterrein gebulder het.)

“Jy lyk vars soos ‘nblommetjie, bra.”
“Hurrgggh. ’n Hond is dood in my mond.”

Ma: “My kind, jy moet jou talente beter gebruik.”
Seun (45 jaar oud): “Ma, paartie is my talent.”

“Hoekom’s die paddas so stil?”
Iemand breek ‘n harde wind op.
“Seker besig om muskiete te vreet.”

“Ons het probeer vry, maar dit was soos stoei in die donker.”

“Julle gaan nie glo nie, daar’s ‘n lama by die boonste bungalow!”
“Dude, jy moet genuine nou stop met daai tequila.” (Daar was ‘n kampie met ‘n paar skugter alpakkas op die plaas langsaan.)

“Ek sal my eierstokke gee vir ‘n perfekte gat soos daai girl.”

“Ek was so moeg ek moes myself in die maag slaan om wakker te bly.”

Mieliepop is ‘n heerlike verslawing. Die mooi stilte van die meer, die watervalletjies, die kronkelpaadjies tussen die rotse, die algemene gemoedelikheid ten spyte van die lyfopeenhoping by die storte en die OTM wat net soms aanlyn is, die heuwels, die sagte grasperke en die puik musiek.

Al hierdie dinge belemmer die meeste feesgangers se wil om ooit weer kantoor toe te gaan. Vir ‘n collection van so 220 fotos van hierdie jaar se festvial, gaan check gerus die die Watkykjy Facebook album uit en join sommer die page.

Deel met jou tjommies!

    Watkykertjie bydraeMieliepop betower en belemmer

    Gooi Comment