Geldjie, asseblief…

In Snotstories deur Watkykertjie bydraeRek jou bek

Deur Veronica
Ons is almal al so bietjie moeg vir gee. Elkeen met ‘n hand hou hoedjie uit.
“Geldjie, asseblief, dan kyk ek mooi na jou kar, mevrou.”
“Geldjie asseblief vir my buurvrou se niggie se dogter se vriendin, die arme vrou het vier nalatige lammetjies en geen geld vir sigrets, neppies, en ‘lektrisity nie.” “Geldjie asseblief vir klein Japie se blokfluittoer in Praag.”
“Geldjie asseblief vir ons nuwe tune.”

Die derde planeet van die groot warm ster in die melkweg af kreun van ellende. Die mense suffer, Bruce… Hulle suffer. Sommige suffer van versukkeldheid wat of in hulle ingebore of ingedonner is. Dikwels beide. Sommige het nooit die tiet kon los nie en ander nooit die bottel nie. Daar is die wat hou van hulle chips in plastiek op groen tafels terwyl een of ander verdoemde kind patrone teken op die casino se mat en wonder of ma vanaand die huur gaan terugwen. Dan is daar die slagoffers van nog ‘n herstruktureringsinisiatief sodat dié wat het nog kan kry. Eggenote roei mekaar in die hof uit as die liefde by die agterdeur uitvlug. Mediese fondse is geneig om jou brandarm te maak voor jy nog ‘n voet in die hospitaal gesit het. En wanneer jy wel moet behandel word, moet jy maar hoop jou plan betaal darem vir jou bed, want dit gaan not ‘n sokkie jou operasie ten volle dek nie. Skooluitrusters is die nuwe mafia waarheen jy jou bankbestuurder moet saamneem om vir Stefnie se skoolbaadjie borg te staan.

Nou wat nou? Ons kan tog nie die hele versuipende skip red nie? Ek werk tog vir my geld. Mag ek nie net sonder skuldgevoel my hare laat vertroetel, my kinders bederf en my huis mooi maak nie? Kan ek nie net uiteindelik my blerrie vakansie gaan hou nie? Ja jy kan… Maar jy kan ook hier en daar ‘n reddingsboei uitgooi. Laat jou hart besluit vir wie en wanneer. Mens weet nooit wanneer die ekonomie of siekte of tragedie of depressie of omstandighede jou wind uitslaan nie, wanneer ander hulle hare so bietjie minder laat knip om jou kind se skoolfonds te help betaal nie, wanneer iemand se beenmurg jou pa of vrou of sussie se lewe red nie.

Karen Zoid sing “En as jy ooit voel die lewe is net een groot gesuffer, reik jou hande uit en help ‘n ander met minder as jy”. Kies ‘n cause. Help ‘n kat, ‘n eksotiese vis in Venezuela, weeskinders in Romania, jou huishulp, ‘n random tannie in die woonstel langsaam, jou mislike kollega, soms sommer jouself as jy moet.

Maar help. It takes a village, deesdae meer as ooit.

Watkykertjie bydraeGeldjie, asseblief…

Gooi Comment