Radio Kalahari Orkes, hoed in die hand. Gee ‘n geldie, ou swaer.

In Briewe deur Watkykertjie bydraeRek jou bek

Maats, Radio Kalahari Orkes is besig met ‘n baie unieke Indiegogo campaign en het julle hulp nodig. Daar is net 5 dae oor. Ons stel hulle nou aan die woord:

Dagsê!

Luister, ons sukkel hier in Slangfontein. Dit het laas jaar glad nie gereën nie en die vee kla aanhoudend, maar dis nie hoekom ons mismoedig is nie.

Ons is mismoedig omdat die Radio Kalahari Orkes al vir jare elke Saterdagaand hier op die stoep sit en werk aan nuwe liedjies wat ons graag wil hê julle moet hoor. Van hulle is vastrap, ander is trane-trekkers, meeste van hulle is nogal kwaai. Ons kan egter nie die deuntjies uitgee nie, want die platebedryf, soos ons dit ken, het verdwyn soos ‘n reënwolk in die hemel bo ons dorre ou plasie.

Onlangs het ons Upington toe gery en wat vind ons daar? Die gebou wat eens ons platemaatskappy gehuisves het staan leeg. Al wat oorgebly het is stof en stukkende vensters en ’n dronkie wie seg “Gaan huis toe!” Die musiekbedryf het sy gat gesien! Het julle takhare nog nie van free downloads gehoor nie?

Met ‘n stukkende boerehart en knop in die keel klim ons in ons ou bakkie en ry huistoe. Op die stoep vat ons ’n sluk mampoer. Ek vra: “Boys, kan julle dit glo?” en die ouens sug. In die verte staan ‘n maer tollie, stert innie lug, kou stof en klippies met ‘n befoeterde gesig.

Ewe skielik veskyn ou Kleinboet, skoolbaadjie en al, mooi gejelde hare en ’n broek wat te knap is om af te val. Hy staan en idle, opgewonde, soos ’n ou Ford kar. Hy wil weet waarom almal so mismoedig lyk. Ons verduidelik en Kleinboet lag. “Nee wat Oom Boet,” seg hy. “No need to be sad. Ek ken ’n nuwe nommer, iets nogal baie rad. Ons laaities noem dit “crowd funding”.

Soos ek die storie verstaan werk hierdie “crowd funding” so. Ons sê vir ons fans: “Broers en susters, ons het julle verskriklik lief. Julle het by ons gestaan en ons CD’s gekoop en as die kar se petrol klaar was, het julle tot by ons shows geloop. Dis vir julle wat ons hierdie nuwe liedjies geskryf het, maar die platemaatskappy is in sy moer en ons het skaars ’n geldjie om die maer tollies te voer. Hoe maak ons nou?”
Radio-kalahari-orkesHier’s die plan: Julle gee vir ons ’n ietsie, en ons gebruik dit om julle hêppie te maak. Boonop kry jy lekker presente – goed wat jy en slegs JY in die hande kan kry. Niemand anders nie. Nooit ooit.

Maar dit is nie net ’n nuwe CD wat ons belplan nie, ons wil veel meer aanpak. RKO wil met ’n “drie-fase” aanslag vorendag kom. ’n Driepootpot, so te sê. Natuurlik sal ons eerstens die nuwe CD opneem, maar dié moet dan aan die wêreld bekendgestel word.

Beleggers sal wil weet wat is ons bemarkingsplan. (Dit is noemenswaardig dat in Amerika die bemarkingsbegroting gewoonlik veel hoër is as die produksiekoste: Sowat 60-40)

Dit bring ons by die tweede fase, naamlik die produksie van drie films – ‘n dokumentêre film van die hele proses, en twee musiek videos. Nie net movies nie – spesiale flieks wat mense sal laat KYK en geniet!

Laastens die derde fase oftewel die koeksuster op die koek.: Die opstal op R.K.O se plaas was nog altyd die musiek, daarom het ons al klaar vir een van Afrikaans se grootste dramaturgte, Harry Kalmer, gevra om vir ons ’n splinternuwe verhoogstuk te skryf. Dit sal ons in staat stel om in die nabye toekoms iets oorspronklik en asemrowend vir gehore op te voer.

Om seker te maak dat die geld vir die doeleindes gebruik word, het R.K.O. die ouditeursmaatskappy Middel en Vennote aangestel om die hele projek offisieël te hanteer en al die boontjies tel, van begin tot einde.

Ons wil dit doen. Ons gaan dit doen. As ons saamwerk kan ons die RKO ossewa bo-oor die donker bult sleep tot in ‘n vrolike vallei waar daar ‘n bier in elke hand is en ‘n braai onder elke boom en lekker RKO noveau-vastrap wat uit elke ghetto blaster bulder.

Maar sonder julle kan ons niks verrig nie, so asseblief, staan ons by. Word ‘n RKO-venoot. Eendrag sal ons magtig maak. Gaan loer gerus na ons Indiegogo veldtog hierso.

Radio Kalahari Orkes – honderd jaar agter die tye, maar steeds op die spoor!


Deel met jou tjommies!

    Watkykertjie bydraeRadio Kalahari Orkes, hoed in die hand. Gee ‘n geldie, ou swaer.

    Gooi Comment