Mumford and Sons se Wilder Mind– wasie fokken banjo?

In Rolbees Reviews deur RolbeesRek jou bek

Die van julle wat gedink het Mumford and Sons is ‘n nostalgiese multi-generasie folk rock band, die pa-en-seun tipe, sal vir eens en vir altyd verlos wees van daai wanpersepsie as Wilder Mind jou ore vul. Maar ons moet seker eers praat oor die obvious wit olifant in die kamer wat almal pla. Ek luister weer na Babel en vergelyk dit met Wilder Mind. My eerste indrukke? Wat de fok het geword van Mumford en Sons? Wie is hierdie band? Jirre, ek moes eers seker maak dat ek nie die verkeerde CD in die verkeerde kassie gesit het nie. Na ‘n deeglike deurluister het dit vir my soos ‘n kruis tussen Coldplay en The National geklink. Nie een enkele banjo of mandolien wat getokkel word nie. Geen warrelende folk kitaar verweef met Marcus Mumford se semi-hees folk rock vocals nie. Geen rock volksliedere wat stadig opbou en ontplof in ‘n banjo orgasme nie. Nada. Mmmmm… miskien het hulle ophou craft bier drink. Hulle trek ook anders aan. Soos New Yorkers amper. Swart baadjies en kak. Hulle het definitief te veel tyd in New York spandeer die afgelope paar jaar.
mumford and sons new york style watkykjyMy gevoelens oor die album is in twee verdeel. Ek kan nie in die geval “sell-out” skree nie en veroordeel soos gewoonlik nie. Babel was kommersieël suksesvol. Dis onbetwyfeld so. Dink ook nie hulle het rêrig die geld nodig nie. My beste raaiskoot sou wees dat hulle besef het hulle gaan nie nog ‘n Babel kan optower nie en moes noodgedwonde ‘n hele ander rigting inslaan. Babel was ‘n monster van ‘n folk rock album. Aan die een kant mis ek die folk musiek se vryer gees – dit klink nie so ingeperk nie – maar aan die ander kant is Wilder Mind met sy elektroniese klanke en pop dromme so reg uit die die tagtigs nogal sag op die oor. Tompkins Square Park en Wilder Mind is goeie voorbeelde. Dis iets helemaal anders. Marcus Mumford klink soos ‘n hele ander mens ook. Hy dra sy stem oor met die sagte selfbeheersing van ‘n gesoute rock voorman. Hy trek jou siel in met van die meer intieme liedjies en dan is jy gevange vir ‘n paar minute. So ja, jy kan maar kerm en teef oor die groot ommeswaai in hulle musiek, maar dis onmiskenbaar ‘n briljante album dié.

Die lirieke is steeds redelik somber maar Wilder Mind se boodskappe klink bietjie meer kompleks, dubbelsinnig en selfs sinister partykeer – wat dit baie meer interresant maak vir my. Luister na Cold Arms. Is dit ‘n liefdeslied? Dis baie meer gekompliseerd as ‘n happy ending love song. Only Love is ook nie jou gemiddelde Hollywood fliektreffertjie nie:
“And you saw me low, alone again, didn’t they say that only love will win in the end. ”
Moeilike vraag selfs vir mense wat reeds liefde gevind het. Snake Eyes het eenvoudige lirieke oor gevaarlike vrouens. Goeie lirieke kan boekdele vertel – al is dit slim, kort en eenvoudig geskryf. My enigste vraag is seker net of hulle die banjos en mandoliene by die huis gaan los as hulle volgende jaar Januarie en Februarie in Suid-Afrika kom optree? Hoogswaarskynlik nie. Dink net hoe gaan I Will Wait klink met net elektriese komper begeleiding? Eeeeeuuuuw. Ek dink Suid-Afrikaners gaan die beste van beide wêrelde kry! So moenie jou kruisbande weggooi nie Hipstertjie!
8 uit 10 in my beskeie opinie.

Deel met jou tjommies!

    RolbeesMumford and Sons se Wilder Mind– wasie fokken banjo?

    Gooi Comment