Mr Cat & the Jackal se kakste gig ooit

In Snotstories deur Watkykertjie bydrae3 Eiertjies

deur JC Visser (bassist van Mr Cat & the Jackal)

Mr cat and the jackal 2

foto deur Greg Maxwell

Mr Cat & the Jackal is ‘n multi-instrumentele musiekgroep. Baie van hul tyd word spandeer in ‘n toerbussie op pad na vreemde dorpies met non-compos-mentos oomblikke.
Die volgende staaltjie kom van die heel eerste solo-toer. En van toe af eet die ouens sjampoe. Vir die hare op hul tande. Hierdie is ‘n Ware verhaal.
Julie, 2009. “Fokkenpassop!” Ons stamp met ‘n trailer vol instrumente deur ‘n pad gevreet deur slaggate. Blindelings steek klein lorries ons verby, volspoed. Ons giggel senuagtig terwyl die kraterpad ons lei na ons eie slagting. In ‘n pragtige dorp om ‘n dam – Hartbeespoortdam. Ons eerste keer Gauteng toe.

Sopas ‘n debuut-album uitgereik met fanfare in Stellenbosch en Durbanville, maar die geraas trek nie baie vêr nie en dinge is maar koud vir ons in die Noorde. Die enigste manier hoe jy oor provinsiale grense bekend kan raak, is wanneer jy een of ander nommer op die radio het. En dit het ons defnitief nie. Jy sien, ons maak redelike vreemde musiek. Soos ‘n bejaarde hanswors is ons nie seker of gehore ons geniet omdat ons talentvol nie is nie, en of hulle net hande klap uit respek en simpatie het vir die self-martellende situasie nie.

Dis die einde van ‘n 2-week toer en ons word per toeval geboek om in restaurant te speel op in die hoof toeriste-aar van ‘Harties’. Daar word ‘n gehoor, klein bietjie geld en selfs blykplek vir die aand belowe. Pierre het as kind na Hartbeespoortdam gegaan en het allerande stories vertel van ‘n watersport Utopia. Ons is almal vreeslik opgewonde om hierdie diamant van ons land te verken. Dinge lyk goed! Uiteindelik iets om na uit te sien!

Soos ons daar aankom, bel Jannie “Bull-in-a-China-shop”. Hy stel ons in kennis dat die hele dam nou giftig is en dat ons nie die water moet drink nie. Net soos die woorde deur die selfoon kom, sien ons ‘n ou langs die pad stap. Hy stop en kyk ons stip in die oë. Hy buig oor. En kots. Dit was ‘n teken.

Die venue is ‘n lekker 300-stoel buitelig restaurant. Groot hout bar, 2 dobbelmasjiene en ‘n pool tafel. Langsaan is ‘n soortgelyke plek. Jy kan ‘n ou hoor wat backtrack liedjies sing. By die kinder speel-area is daar ‘n moerse opblaas krokodil. Sy bek gaan die heeltyd oop en toe. Die lawaaierige lugpomp vibreer op B-mol. Soos ‘n enorme meganiese vuvuzela. Sonder fokken ophou. Die mense wat vir ons die vertoning georganiseer het (en ook die klank sou doen), bel om ons te sê dat hulle hul bakkie se as gebreek het op ‘n pothole. Hulle kan nie meer deurkom nie. O, en um… “Good luck!”.foto deur Greg Maxwell

foto deur Greg Maxwell

Die eienaar van die plek is baie entoesiasties. Hy dink ons is beroemd. Ons dink weer hy is net baie vreindelik. Daar word oor die verbale kontrak gegaan. Gelukkig toer ons altyd met spaar klanktoerusting so ons pak uit en maak reg met groot opgewondenheid. Maar die restaurant bly leeg. Dis 2 namiddag op ‘n Sondag. Gewoonlik sou daar ten minste ‘n paar tafels vol mense wees om te kom eet, maar nou is daar absoluut niemand nie. Meneer Eienaar is nog steeds oor-entoesiasties en hy vra ons of ons rook-rook soos in ‘rook’. Na ‘n klomp grappies staan ons almal in ‘n sirkel agter die boom en teug aan sy slowboat. Na net die helfte van dit is ons almal so gaar dat ons saam besluit om die ding or die muur te smyt. Dit was defnitief meer as net Jamaican slaaiblare gewees.

Nog steeds niemand nie. Nou wag ons maar. Senuagtig. Kleure meng oor mekaar. Maag swem. Meneer Eienaar raak net vreemder en vreemder. Die lug is dik met ongemak. Ewe skielik marsjeer die eienaar sy kombuiswerkers uit. Hulle word voor ons gesit. Nou het ons ‘n crowd, so nou moet ons speel. Ons begin toe maar met ‘n instrumental wat groei in ‘n ballade en dan terug val in ‘n existensiële wals wat ons eindig met ‘n oerwoudagtige soundscape.

Meneer Eienaar en sy kombuiswerkers weet nie hoe om te reageer nie. Hulle herken amper geen van ons instrumente nie. Dis te vreemd. Ons is te vreemd. So ons is dalk duiwels. Na elke liedjie is dit tjoepstil, behalwe vir die meganiese krokodil-vuvuzela. Later word dit ook afgesit. Die atmosfeer is nou so ongemaklik, dat jy in die dikte daarvan kan verdrink. Anne Frank met gastro…

‘n Vrou loop in. Miskien sesvoet-twee met ‘n massiewe 80’s blonde haarstyl. Sy bestel 2 dubbel brandy en Cokes. Alpha Vrou. Meneer Eienaar ken haar. Hulle staar na ons deur skrefies-oë. Ons speel onskuldig ‘Kallimba Lullaby’. Alpha Vrou staan op en skree: “Speel Juanita du Plessis!” Gertjie kyk net af en begin “We’re all gonna have to die one day, Hurrah” te strum. Sommige van die kombuiswerkers lag. Uiteindelik is ons klaar na 9 liedjies. Ons het 4 uitgesny maar dit het nog steeds gevoel soos 10 jaar by die tandarts. Die laaste liedjie wat ons opvoer is “Walk the Plank” – ‘n over-the-top seerower song.
“Ooooooo!”, skree Alpha Vrou, “Nou DIS lekker!” En sy begin te dans. Ons vang bietjie gees en so vir ‘n hele 2 minute is daar ‘n lekker vibe.

Dan stop dit.

“Speel nog!” Eis sy. Maar ons is klaar. Daar is nie nog dans-tempo liedjies in ons repertoire nie. “Ag nee man!”, snou die vrou ons toe nou.

Daar word blitsvinning toerusting opgepak. Sy is by die bar saam met Meneer Eienaar. Tyd vir kortetjies. Hulle koop vir hulleself tequila en vir ons groen sours. Meneer Eienaar sit met sy voete op sy bar en voer die dobbelmasjiene R100-note. Die knoppies word vasgepen met vuurhoudjies. Moet seker ‘n werksding wees.
“Onthou…um… onthou die kontrak…” noem ek met ‘n heserige stemmetjie aan Meneer Eienaar.
“Wat?”
“Die geld wat jy gesê het…”
“Wat?”
“Ons moet… waai. Kan jy ons nou betaal, asseblief?”
“Sit. Koop vir jou ‘n dop!”

Ons kan niks doen nie. Watookal ons gerook het is definitief nog steeds in ons are en spoel met paranoia deur die brein. Niemand weet waar ons gaan slaap vanaand nie. Kry nie die pothole-gestrande organiseerders in die hande nie. Tussen die 5 van ons is daar ook nie rêrig geld nie en nog niks is daai dag geëet nie. Almal maak beursies leeg, deel saam 2 biere, gaan sit om ‘n tafel en staar die verte in.

“Wil julle my tiete sien?” – Alpha Vrou het al ‘n paar doppe gehad.
“Julle is mos famous. Was jy al op TV?” Sy sit omtrent op my skoot.
“Hoekom wil julle nie my tiete sien nie?”
Ons is te dom om te antwoord en sy loop weg – die moer in.
Vyf minute later is sy terug, maar met ‘n ou. Breë skouers in ‘n motorfiets leerbaadjie.
“Hulle wou my tiete sien!”
Gelukkig lyk dit asof hierdie ou weet van haar, so hy rol net sy oë. Ek sluk hard. Hy leun met sy kneukels op die tafel: “Is julle van die Kaap?”
Ons knik.
“Die Kaap is lekker” Ons knik entoesiasties, glimlag selfs.
“Lekker KAK!” Hy draai om en stap weg met sy stert in die lug.

Soos ‘n boodskap van die engele kry ons ‘n oproep van die organiseerders af. ‘n Vriend van ‘n vriend van hulle het ingestem om ons te huisves vir die aand. Meneer Eienaar kom daarna na ons toe en gee bietjie geld. Dis duidelik tyd om te fokof. Toe almal in die amper petrol-lose kar klim bars ons uit van die lag oor die hele situasie. Die tipe gegiggel van ongeloof, asof jy nounet van ‘n haai af weggeswem het. Maar toe stap leerbaadjie uit. Ons sluk ons smiles en jaag onmiddelik weg.

Die son het sopas gaan sak. So honger is ons dat daar oorweeg word om ons maagklanke vir die volgende album op te neem as ‘n nuwe instrument. Petroluum en pizza word erg benodig. By ‘n ‘Italiaanse’ resaturant word daar roekeloos parkeer. Lekker groot vuur buite. Vinnig 5 Black Labels bestel. Cheers! Menu lees soos ‘n heilige geskrif. Hoekom is die restaurant so stil? Daar is kinders en dis redelik vol maar ‘n vreemde klankdemp oorheers. Pierre gaan badkamer toe om sy vleisdas leeg te tap.
Hy kom met ‘n wit gesig en ‘n benoude lopie vinnig terug. “Ons waai NOU!” Soos ‘n geoefende span, staan ons gelyk op, los ‘n R100 en vat weer die pad.

In die badkamer het daar ‘n ou in Camo langs Pierre kom pee.
“Waar kom jy vandaan?” Vra die man.
“Stellenbosch”
“Hoekom dra jy kafferskoene?”
“W-wat?”
“Weet jy wat ek doen vir ‘n lewe?”
“N-n-nee…”
“Ek skiet kaffers.”
Net soos dit. Toe lig hy sy hemp op om sy moerse mes en AWB tattoo te wys. Hy was nie besig om Pierre te intimideer nie – hy was besig om te brag.

Met pieringoë ry ons verdwaald deur Harties en kry op die ou eind Sjinese kos. Voel veiliger tussen ander vreemdelinge. Daar kom tel die vriend van ‘n vriend van die organiseerders ons op. Ons volg hom na die verblyf. Buite die huis is ‘n karavaan waaraan die man werk. Hulle het 5 honde en ‘n bababrakkie. Almal in die huis is
baie oorgewig, insluitend die honde en die brakkie. Dis soos twee families waar die een die ander geëet het. Die man en sy vrou is baie gaaf maar duidelik bietjie geirriteerd dat hierdie band op nommer 99 op hulle gedompel is. Hulle gee ons ‘n 5L bottel water en verduidelik hoekom die dam nou giftig is. Iets vrot diep in die onderkant. Moenie die kraanwater drink nie, en moenie te lank stort nie.

Die 5 van ons deel ‘n klein kamertjie met 3 matrasse. Pierre het een van daai miniature 11” skootrekenaars wat mens saam met ‘n Blackberry selfoonkontrak kon kry in 2008. So ons maak gereed om die enigste movie te kyk wat hy het – ‘Pirates of the Carribean’. Net na die openingstitel gaan die battery dood. Die charger maak nie
kontak met die kragpunt nie en ons weier om die vriendelike oorgewig mense wakker te maak vir ‘n ander dubbelpunt plug. So net voor ons aan die slaap raak begin ons weer te lag. Daai tipe emosie wat jy as kind gekry het as jy huil terwyl jy roomys eet.

En dan wonder mense hoekom ons musiek so donker is…

Hartebeespoortdam sal ons nooit weer sien nie.

Mr Cat & the Jackal se derde album, SET is nou uit en beskikbaar op iTunes. Gaan besoek gerus hul Facebook-blad vir verdere inligting.

foto deur Iggy Bester

foto deur Iggy Bester

Deel met jou tjommies!

    Watkykertjie bydraeMr Cat & the Jackal se kakste gig ooit

    Comments

    1. hippiegoth

      Sjoe, maar Harties klink na ‘n kak plek… Sal verbyhou. Dankie vir die storie, though – het lekker gelag. En moenie worry nie: hier in die Kaap is ons lief vir julle.

    Gooi Comment