vrees fokol

Vrees Fokol. Hoofstuk 1: Die Honda Ballade van Jackie en Jackie

In Snotstories deur griffin14 Eiertjies

“Vrees Fokol” is Watkykjy se nuwe weeklikse interweb vervolgverhaal – ‘n Epiese soeke na die hart van die Suid-Afrikaanse droom, waarskynlik ten koste van die lewer en longe van die Suid-Afrikaanse droom..

Alle persone in die roman se name is verander om hul identiteite te beskerm. Dit het egter ietwat kak geklink, toe word dit maar terugverander.

Julle kan hom hier for free dowload in PDF format…


Hoofstuk 1: Die Honda Ballade van Jackie en Jackie

Die agtermiddagson spoel ‘n gemoedelikheid oor Vanderbijlpark. Hoewel dit hoogsomer is, is daar nie ‘n enkele donderwolk in sig nie. Inteendeel, die vrees fokolwoonbuurt is ‘n poskaartprentjie, die soort waarop ‘n mens nie eens die woorde “Wens jy was hier!” hoef te skryf nie, aangesien die ontvanger reeds sal wens dat hy of sy dáár is. Die gekwetter van voëltjies hang soos ‘n kombers oor die strate, die kinders met hul fietse, die vroeë reuk van braaivleis wat die lug in dwarrel.

“Poes,” sê Jackie Sieberhagen.

Sy meisie, Jackie van Onselen, verskyn in die voordeur, tuur na waar haar kêrel in die oprit staan. Haar hande is verrimpeld van die skottelgoedwater, haar hare vasgemaak in ‘n donker bandana met die handelsmerk “Bad Boy” wat daarop pryk. “Wat is dit, my lief?”

“God, vrou!” roep Jackie Sieberhagen terug, sonder om oogkontak te maak. “Kan jy nie sien ek konsentreer nie? Jy is ‘n fokken hindernis!”

Sy laat sak haar kop in skaamte. Jackie is altyd so as hy aan die kar werk. Sy moes van beter geweet het.

“Ek is jammer, my lief,” sê sy sag. “Is daar iets fout met die motor? Kan ek vir jou iets bring?”

“Goeie fokken bloeiende hoer van Thor, Jackie! Daar is fokol fout met die kar nie. Lyk dit of daar iets fout is? Ek het ‘n krisis in my gemoed en jy vra my oor die poeslike kar!” roep hy en slinger ‘n draaitang in haar rigting. Dit mis haar nouliks, maar reduseer die kombuisvenster tot ‘n blote mooi herinnering.

“Ek is jammer, my lief,” sê sy weer. “Ek het nie besef jy is besig om diep te wees nie.”

Jackie Sieberhagen tuur die verte in. Die son is besig om te daal – nie net oor die buurt nie, maar ook oor sy sekerheid in die betekenis van die lewe, die liefde en alles.

“Ek is fokken diep,” mymer hy sag. “Ek is fokken poes diep.”

‘n Ongemaklike stilte heers tussen die paartjie. Jackie sluk ‘n traan weg en draai weer by die huis in.

Jackie Sieberhagen lê sy rug neer op sy vintage Island Style-skaatsplank en gly onder die motor in. Sweet tap by sy oë in, onder die motor ruik dit na ‘n mengsel van olie, petrol en verlore hoop. Hy sug en kap aan die gedeelte van die uitlaatpyp wat om een of ander onverstaanbare rede aanhou uitglip uit die ander. Hy kap en stoot en trek en pluk, maar niks help nie. Oplaas gee hy op, vee met sy palm oor sy voorkop. Hy maak sy oë toe, en met die veraf geroep van ‘n hadeda raak hy aan die slaap.

“Meisiekind!”

Jackie Sieberhagen voel ‘n liggiese gepluk aan sy mou. Dit wil sê, sy frokkie. Jackie Sieberhagen dra nie hemde met moue nie.

“Meisiekind,” weer.

Hy maak sy oë oop. Dis Tyler van af in die straat. Goeie ou Tyler, die eenvoudige donner, dink Jackie Sieberhagen. Daar staan hy, die dikketjie, met sy groen kosblik wat sy ma elke dag vir hom inpak, onder die linkerarm en ‘n kaas-en-tamatiesous-toebroodjie in die regterhand. Die betreklike bietjie wat daarvan oor is, in elk geval.

Jackie Sieberhagen trek homself onder die kar uit en sit regop op sy vintage Island Style-skaatsplank met die groen wiele. “Jissis, Tyler, ek wens jy wil ophou om my Meisiekind te noem.”

“Maar jy’t ‘n meisienaam,” sê Tyler, met stukkies kaas-en-tamatiesous-toebroodjie wat tussen sy tande deurskiet. “Dis fucked-up.”

“Dis ‘n fokken mansnaam, okay,” sê Jackie. “Hoeveel keer moet ek nog vir jou verduidelik? My pa het my dertig jaar gelede Jack gedoop, maar nadat hy voor die trein ingedonner het, het my ma my Jackie begin noem. Hy kon haar nou nie juis vanuit die graf poes nie, kon hy?”

Tyler dink ‘n oomblik hieroor na en neem nog ‘n hap. “Wat rêrig fucked-up is,” sê hy kou-kou, “is dat jy nie net ‘n meisie-naam het nie, maar dat jy en jou goose dieselfde naam het.” Hy stamp met sy voet teen die sement van die oprit, verloor amper sy balans, maar herwin dit en gooi sy kop agteroor. “DIT is fucked-up,” asof hy pas ‘n politieke debat gewen het.

Jackie Sieberhagen sug. Hy kan nie weer hierdie gesprek hê nie. Nie nou nie. Daar is belangriker dinge om te doen – ‘n epiese tog van onvoorafgegaande proporsies – ‘n soektog na die ware betekenis van die Suid-Afrikaanse droom.

“Het jy ‘n dertien-spanner?” vra hy vir Tyler.

“Of course, dude,” antwoord Tyler. Hy maak sy kosblik oop en krap daarin. Oomblikke later kom ‘n tamatiebesmeerde nommer dertien-draaitang te voorskyn.

“Erm… dankie,” mompel Jackie. Hy seil terug onder die motor in en werkskaf kortliks voordat hy “Aha!” roep, tevrede met die huidige werkende toestand van die uitlaatpyp.

Hy gly weer onder die motor uit, staan op en vroetel in sy oliebesmeerde jean se sak. Daaruit haal hy ‘n permanente pen en stap na die agterkant van die motor. Sy tong steek by die hoek van sy mond uit, sy frons is diep en presies tussen sy oë geleë, met die twee kepe wat soos die Rooi See ‘n presiese gaping van simmetrie vorm.

Hy skryf eers, met ‘n behendige, geoefende hand, aan die linkerkant van die Honda-teken. Dan aan die regterkant. Wanneer hy klaar is, staan hy terug en betrag sy handewerk.

Hy glimlag. Dan lag hy hard, en gooi sy arms in die lug, met sy vuiste gebol. “En die Here het gesê, dit is goed!” roep hy.

Tyler skuifel nuuskierig om die motor en kyk na die twee woorde.

“Vrees fokol,” lees hy dit. “Wat beteken dit, Jackie?”

Jackie lag weer, met sy oë steeds op die geskrif gerig.

“Tyler, my tjom, gaan roep vir Danny en Oscar.” Hy klap Tyler drie maal op die rug met sy plat hand. “Ons lewens verander vandag vir altyd.”

Deel met jou tjommies!

    griffinVrees Fokol. Hoofstuk 1: Die Honda Ballade van Jackie en Jackie

    Comments

    1. sonkid!

      Ek like!!!!! kan nie wag om die volgende verhaal te lees nie! jy het 'n baie goeie skryf styl!

    2. Vuilduif

      Ek kan nie wag om te lees hoe zef Jackie raak as hy eers begin brandy drink nie!

    3. Leon-Ben

      Vent Venter, jy is my held. Doen zo voort. 

    4. Manbotter

      Ek is al n jare lange ondersteuner van jou werk, en het vir Dolf en Poen POES baie geniet. UIt vrees om gay te klink, gaan ek myself terug hou en net se….Ek is fokken SAG beindruk

    5. Dirk Diggler Diktros

      Rokkel my asem weg.  Baie goeie teks en spanningslyne wat juxtaposeer met mekaar.  Wanneer kom die fliek uit?

    6. Evert

      Dit laat my aan ons bure dink met die stock cars.
      Hulle is nie juis goeie mechanics nie, hulle rev sommer die engin reg.

    7. Coconut Chris

      Jackie Sieberhagen is my held , kan nie wag vir die volgende insetsel nie awesome is al wat ek kan se !!!!!!

    8. Prof. Bokdrol

      DDD,  fok die fliek – soos hulle altyd sê, die boek was beter, en hierdie boek begin great.

    9. Dirk Diggler Diktros

      Prof, ek het onlangs te veel Afreakaanse werke gelees waar die boek kakker as die verhoogoptrede en of fliek is.  Hier in die RS van A het ons eie gekunsteldes mos die gawe om n stuk kak te vat en n storie daarvan te skiet, miskien is dit omdat die gemiddelde movie-script / draaiboek gewoonlik 30-40 bladsye is, en nie ruimte laat vir te veel kak nie bv "Tsotsi" en "District 9", waarteenoor die boeke 300-400 paginas inboesem vir die leser en kan neig om egomasturberend te raak, die leser te oorsket / onderskat plek-plek, kol-kol, maar ek is seker in die boek se geval is dit fokol ego, net n goeie storie.  Op jou woord sal ek dit verder volg – sien my comments – minus die "fliek ene" vroeer in die bladsy :-)  Garp, a.k.a DDD

    10. Tjoppie

      As 'n Vaaldriehoek boorling wil ek net sê Vent het een van die perfekste Vanderbijlers ooit verduidelik… Goeie werk!!!

    11. Molly en Wors

      Goeie werk. Hoeveel afrikaaners praat eintlik so en niemand sal dit ooit publiseer nie…

    Gooi Comment