Die Kraag Kroon Kronikels – Episode V

In Snotstories deur griffin

So tussen die 4 stadia van metamorfose met Watkykjy se baadjies het ons oor die 150 posts wat iewers in ‘n boksie vol stof slaap wat ons hier uitpomp sodra ons tyd kry. Vandag is een van daai dae. Ons het net eintlik ‘n hele week by die huis in ons onderbroeke met bier nodig om Watkykjy vir eens en vir altyd op datum te bring. Die time machine sal weer een of ander tyd afgestof word …

Tot daai week aanbreek, moet julle maar so nou en dan krummels vang wat ons uitskiet.

Die Kraag Kroon Kronikels – Episode V – deur Nak & Iceman

 “Moenie worry nie”, lag Poen oppad terug van Moonsamy se plek. “Ons sal daai blare ‘n ding of ses wys!” Dolf is darem nie meer so bleek nie, maar trek steeds met ‘n bekommerde uitdrukking op sy gesig sy hand herhaaldelik deur sy luukse table top & kraagkroon konfigurasie. “Darem een ding waarop ‘n man nog kan staatmaak,” dink Dolf by homself. Die feit dat hy steeds baie na Patrick Swayze se karakter in “Dirty Dancing” lyk (amper 20 jaar na die fliek se vrystelling), het al baie skêrre na hul asems laat snak.

Menige male het Dolf en Poen die dames se knieë laat knak in Topaz, Monroe’s en Jacqueline’s, daar in Pretoria se middestad. Dit is nou juis Dolf se ooreenkoms met Patrick Swayze wat Moonsamy se dogter,Tiloshnee, se hartjie vinniger laat klop het. Sy het gelewe vir die vlugtige oomblikke wat Dolf en Poen haar pa oor “besigheid” sou kom sien, om net ‘n vlugtige kykie na die Adonis van ‘n man te kon kry. Haar Matriekafskeid was juis om die draai, en sy sou wat wou gee om met Dolf aan haar sy die dansvloer aan die brand te dans, net soos in “Dirty Dancing”! Tiloshnee was nou nie juis die tipe meisie wat Dolf en Poen as hul type sou beskou nie.

Nee.

Hulle type was eintlik maar wit cherries, met te veel grimering, stywe jeans, en groot geteasde kapsels. Die tipe kapsel wat beide modieus is, en ook beskerming teen ligte kopbeserings kon bied. Nogal belangrik as hul in Pretoria–Wes of die Oos-Rand gaan jol het… Poen en Dolf was nou weer vasgevang in ’n iets-vir-iets” situasie, en die keer het Dolf aan die kortste ent getrek. In ruil vir die inside information van Moonsamy, moes Dolf vir Tiloshnee, sy dogter met die erge Vertiligo aandoening, vergesel na haar Matriekafskeid eerskomende Saterdagaand, in die hartjie van Lens. Dit was nou juis die rede vir Dolf se kommer, en Poen se lekkerkry.

Dolf was nog altyd ’n kortkop voor as dit by die pull van die mees aantreklike dames gekom het, en Poen was maar alte bewus van die feit dat hierdie eskapade ’n ware toets vir Dolf se ego sou wees! Die feit dat Dolf ook tans iets aan die gang gehad het met Storm, die ontkleedanseres van die Tutti Frutti – ’n strip club in Benoni – sou nog ’n ekstra bietjie ongemaklikheid besorg het.

Poen en Dolf was darem ou gabbas, en hoewel Poen die sout lekker diep in die wonde kon vryf, het hy sommer dadelik ’n geleentheid in die hele situasie raakgesien. Dit sou die ideale geleentheid wees om vir Soekie, sy nuut getunede Dodge Paneeelwa, deur haar passies te sit – Lens se mense is mos lief vir dice! “Ou maat, ons gaan daai blare moertoe ry Saterdagaand,” grinnik Poen. Dolf het darem nou al begin ontdooi en kan al ’n benoude glimlaggie baasraak. “Wat het jy in gedagte?”, vra Dolf. “Al Ravi se goed moet in, pappie!”. Dit was nou juis die Direct Port NOS sisteem, asook die slick bande, full race cams en conrods, en die scoop op die enjinkap. Om nie eers te praat van die ICE (In Car Entertainment) nie… Hoewel daar ’n effense inboeting van spoed was met al die addisionele klanktoerusting se ekstra gewig (veral die subs), wou Poen waaragtig die bra’s wegblaas met klank en spoed eerskomende Saterdagaand in hul eie agterplaas – in Lens!

Terug by Poen se plek in Proklamasieheuwel, spring Poen en Dolf sommer dadelik aan die werk om die enjin te trek. Dolf het jare se ondervinding as ’n diesel mech en Poen se jaar as appie in die Polisie kom nou handig te pas. Dolf takel die blok en head, en Poen fokus op die ICE. Die crank moet eintlik gesny en gebalanseer word, maar daar is nie nou tyd of geld daarvoor nie. Die installering van die NOS sisteem vat ’n bietjie langer as beplan, en hul maak teen Vrydagmiddag laat eers klaar met die installasie. Daar is nie tyd om Soekie se nuwe toerusting uit te toets nie, en Poen sal maar verstellings moet maak soos die nuwe enjin ingery word…

Met Poen as chauffeur voor in die Dodge, en Tiloshnee en Dolf in die agtersitplek, word daar met groot bravade afgesak na Lens se stadsaal vir die groot makietie. Met die woorde: “You take good care of my little princess and all, Dolf!” het Moonsamy vir Dolf ’n geldjie in die hand gestop terwyl hy vroeër vir Tiloshnee die Dodge ingehelp het. Poen het nogal moeite gedoen met Soekie, selfs die mags en chroomwerk op die Dodge met ‘n tandeborsel en Brasso getakel.

Dit het die grootste gedeelte van die Saterdag in beslag geneem, en Dolf en Poen was reeds ’n hele paar biere sterk… Daar was ook versterkings in die kattebak. “Vir as ons dors word,” het hul vroeër gekekkel. Dolf sou dit natuurlik nooit erken nie, maar Tiloshnee het nogal heel oulik gelyk in haar tradisionele Indiese drag, sari and all. Van die Vertiligo vlek op haar gesig was daar geen sprake nie, nadat omtrent ’n hele houertjie foundation sekerlik daarop spandeer is. Dalk was dit die oormaat grimering wat die truuk gedoen het, maar Dolf het homself lankal voorgeneem: “Nooit weer nie!”

Daar aangekom, help Dolf heel hoflik vir Tiloshnee uit die Dodge. Mens sou nie sê hy en Poen het reeds ’n kas bier tussen die twee in nie – ou drinkers! Hulle het reeds afgespreek dat Poen by Soekie sal bly, en solank die brandewyn en Coke readymix aanmekaar sal slaan en op ys hou. Hul het albei nogal ’n voorliefde gehad vir lekker warm Indiese kos, en Dolf was van plan om homself eers trommeldik te eet, en so sy maag n bietjie te line, voordat hy sou wegglip met ’n take away vir Poen. Daar sou hulle dan die locals die stryd aansê in die parkeerterrein, en straat-af, met Soekie! Baie van die jong Indiërlaaities in Lens vermaak hulself graag met ’n bietjie gatskuur in hul pimped-out rides. Dit was net ’n kwessie van tyd voordat die tekkies sou begin skree en ratkaste en koppelaars begin afkak.
Poen sou solank die manne opsize soos hulle arriveer, en potensiële dices begin identifiseer vir later die aand. Met verskeie van Shakira se trefferparade nommers (asook al die remixes daarvan) wat deur die lug bulder binne in die stadsaal, help Dolf homself muldelik aan ’n allegaartjie van warm, en warm, Indiese geregte – samoosas, roti en verskeie kerries staan die tafels vol, en so glip hy elke nou en dan ook ’n lekkerny of twee in sy baadjie se sakke. Net soos Dolf regmaak vir seconds, hoor hy die kenmerkende intro van die temalied van Dirty Dancing – “I’ve had the time of my life” Hy moet darem seker eenkeer met Tiloshnee dans, en as daar nou een liedjie is waarop hy sy hol kan swaai, dan is dit nou die een! Hy vang Tiloshnee se oog, en sy val amper flou toe Dolf haar nader wink in die algemene rigting van die dansbaan – die oomblik van waarheid!

Hierdie post is 211 keer in totaal gelees en 1 keer vandag gelees.

Watkykjy staan op 1,612,589 post views in totaal sedert 1 November, 2019.

Share dit faktap
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
griffinDie Kraag Kroon Kronikels – Episode V