Max se begrafnis

In Snotstories deur Watkykertjie bydraeRek jou bek

Deur Saartjie

Broeders en susters, vriende en familie, gesteweldes en gespoordes, geteerdes en geveerdes, en alle ander gevaartes.


Ons is vandag hier byeen vir die teraardebestelling van ons geliefde Max.

Maximouse Desimouse Meridimouse was ‘n goeie muis. ‘n Dapper muis. Voorwaar, voorwaar ek sê vir julle – ons kon kyk hoe stap hy deur die huis, en daar was niks waarvoor skrik nie.

Max het, om die waarheid te sê, nogal ‘n skrikbewind gevoer en die kat was uiters versigtig vir hom. Die bedonnerde klein knaagdier het soos ‘n besetene teen die tralies van sy hok opgespring as iets of iemand naby kom, en wild na die indringer geklap en gebyt. Hy was veral lief daarvoor om aan die kat se stert te knaag.

Die liewe muis se gunstelingkos was katpille (Friskies) en sjokoladebeskuitjies vir honde. Hierdie identiteitskrisis het waarskynlik reeds vroeg in sy lewe posgevat. Die arme diertjie is deur Saartjie gered uit ‘n huis waar sy maatjies vir slange gevoer is. Hy het senuweeagtig gesit en wag op sy verlossing terwyl die muismaatjies reeds rustig aan die slaap geraak het in die vrieskas. Geen wonder Max het sy lewe lank ‘n senuweetoestand gehad nie.

Die arme diertjie is verder verskrik deur sy weeklikse bad, wanneer Saartjie hom geskrop het my Johnson’s babasjampoe, en hy dan ‘n paar lengtes in die wasbak moes swem om homself behoorlik af te spoel. Die bedremmelde diertjie is dan met ‘n haardroër drooggeblaas voordat die hoogtepunt van sy week plaasgevind het: sy hok is uitgevoer met nuwe bladsye van Die Son, vir sy eie persoonlike leesgenot.

Maximouse was heeltemal verslaaf aan grondboontjiebotter. Dit het dalk daartoe bygedra dat hy een van die vetste muise in menseheugenis was. Die vermoede bestaan dat vetsug dan nou ook grootliks bygedra het tot ons geliefde knaagdiertjie se voortydige afsterwe. Daar is allerlei ander nare gerugte wat ook die rondte doen, maar Max se vriende ontken dat hy ooit by prostitute en dwelms betrokke was.

Broeder Max word ruste gelê in die bedding neffens Saartjie se sitkamervenster, sodat hy darem nog steeds saam kan kyk na die laataand-porn op etv.

Dierbare Max gaan darem die hiernamaals in tussen die vertroostende borste van ‘n bladsy 3-meisie. Mag hy in vrede rus.

Deel met jou tjommies!

    Watkykertjie bydraeMax se begrafnis

    Gooi Comment