Karwagte

In Snotstories deur Watkykertjie bydraeRek jou bek

Deur Saartjie

Karwagte werk op my senuwees. Nee wag – kom ek wees nou maar doodeerlik: karwagte werk op my tietspiere.

Jy ken seker daai gevoel as die karwag so na jou toe aangeslinger kom. Jou hart spring in jou keel, en jy kan jou kar nie vinnig genoeg toegesluit kry en weghardloop voordat die doos met jou begin praat nie. Jy raak skoon paniekbevange, die sleutels gly 'n bietjie in jou natgeswete hande… ag fok, te laat. Jy het per ongeluk oogkontak gemaak. Toemaar, dalk kan jy nog vinnig wegskarrel en maak asof jy hom nie gesien het nie. "Mirrag Mevrou. Kan ek maar kyk." Donnerfok. Eerstens: ek is niemand se mevrou nie. Tweedens: Watkykjy?

Ja, waddehel kyk hulle? Sover ek kan sien, bondel al die karwagte in sulke verveelde groepies saam onder die verlepte boompies in die parkeerterrein. Hulle kyk fokkol. Hulle rook en kuier en vreet en kou Chappies vir 'n vale, maar hulle pas beslis nie karre op nie. Daar is gewoonlik niemand binne sestig seemyl van jou kar te bespeur wanneer jy daar aankom met al jou pakkies nie, maar sodra jy wegtrek is daar soos blits 'n boemelaaragtige skepsel wat daarop aanspraak maak dat hy jou wiele bewaak het.

Watse opleiding het hierdie self-aangestelde kar-kommando? Hoe gaan hulle nogal my kar teen 'n klomp gewapende rowers beskerm? Come to think of it, hoe gaan hulle selfs my kar teen ongewapende rowers beskerm? As hulle dalk die dag nou wel toevallig die pleging van 'n misdaad raaksien, twyfel ek of hulle enigiets gaan, kan of wil doen.

Hulle sal darem ook voor jou inspring en vir jou die parkeerplek aanwys wat jy laaaankal self raakgesien het. En hulle sal ook met woeste armbewegings vir jou probeer wys hoe om by die parkeerplek uit te ry, al kan jy dit self doen met jou oë toe.

So hoekom voel ons verplig om vir hulle geld te gee? En moenie dink R2 is meer goed genoeg nie – o nee! Jy word aangegluur asof jy sopas 'n hondedrol oorhandig het. Blykbaar verwag die motor-mafia vergoeding van ten minste R5, en vir die nagskof R10 of meer. En hulle gee ook nie om of jy net vinnig ingehardloop het om brood te koop nie. Hel, ek wens ek het elke drie minute R5 gekry vir fokkol doen. Dis R100 per uur!

Baie mense met wie ek al gepraat het, sê hulle gee maar 'n geldjie want hulle is bang die ouens beskadig hulle karre. Pure afpersery, seg ek! Die winkelsentrum kan regtig maar van hierdie bloedsuiers ontslae raak en eerder behoorlike veiligheidswagte aanstel teen vaste salarisse – ek is seker hulle maak genoeg geld uit ons om dit te kan bekostig.

En net omdat ek so 'n renons het in hierdie subspesie, is ek geseën met 'n buurman wat werk as 'n karwag (dit laat julle seker wonder oor die skurwe area waar Saartjie bly; lang storie – donasies is welkom). Om die waarheid te sê, is hy die opsigter van die klomp konte by die plaaslike mall. Dus bring hy die sakke vol geld wat hulle maak huis toe om te tel. En glo my – daar is poesbaie om te tel. Mense betaal blykbaar om hierdie ouens se bekke vinnig stil te kry eerder as om met hulle te probeer redeneer.

Ek is heeltemal gatvol vir hierdie tirannie. Ek gaan van nou af 'n kontrak saam met my vat oral waar ek heen ry, en as ek parkeer op 'n plek waar daar 'n karwag is, gaan ek die kontrak onder sy neus indruk nog voordat hy 'n woord kan sê. Hy moet dan skriftelik onderneem om toesig te hou oor my kar en die inhoud daarvan. Hy aanvaar dus verantwoordelikheid vir enige verlies van of skade aan my eiendom, en in ruil sal ek vir hom R5 gee. Dit is mos regverdig. Hopelik sal die fokkers my naderhand onthou en dit nie meer waag om hulle skelm bedelary met my te probeer nie. Sela.

Deel met jou tjommies!

    Watkykertjie bydraeKarwagte

    Gooi Comment