Jong Dames Dinamiek maak siek: Deel 3

In Snotstories deur Watkykertjie bydraeRek jou bek

Deur Saartjie

En daar het ons toe nou ook die groot verkiesingsvergadering van JDD gepleeg. Ja, met spyt en leedwese het ons afskeid geneem van die Ou Bestuur. Ag, wat ‘n weëmoedige affêre.

Omdat hierdie so ‘n spesiale geleentheid was, is slegs lede toegelaat (gewoonlik mag ons mos maatjies – oftewel, moontlike toekomstige slagoffers – saamneem). Ons het ook hierdie slag aangesit vir ‘n deftige ete by die Hoofmeisie se luukse eetkamertafel, kompleet gedek met beblomde servette en haar Eetrite-eetgerei.

Met ‘n geween en ‘n gekners van tande is daar is hartroerend afskeid geneem van die Ou Bestuurslede, en elkeen het ‘n geskenkie en ‘n soentjie by die Hoofmeisie gekry. Sies – weet hulle nie van die griep en herpes en vigs wat die rondte doen nie?

Daarna moes die Genomineerdes hulself aan die Lede voorstel. “Ek is Marie, ek bly in Garsfontein. Ek is 27 jaar oud en al 10 jaar getroud met my man, Dawie. Hy is natuurlik ‘n see-aa.Ons het vyf pragtige kinders en ek is ‘n voltydse mamma.” Slet of broeimasjien? “Ek hou van borduur en koeksisters bak.” Ensovoorts, ensovoorts. Gaaaaap.

Terwyl ons voorgereg nuttig, flits die Genomineerdes sulke geniepsige glimlaggies vir mekaar en beloer mekaar agterdogtig. Natuurlik is daar verskeie politieke onderstrominge. Party wil Ou Bestuurslede herverkies, sommiges wil Nuwe Bestuurslede verkies om die Ou Bestuur se werk en idees voort te sit, en ander wil Nuwe Bestuurslede verkies om te maak asof hulle die organisasie vernuwe terwyl hulle eintlik die Ou Bestuur se werk en idees voortsit.

Dit is met geweldige teleurstelling dat ek julle moet meedeel dat die ete weereens besonder kak was. Kotsluswekkend. Tot my skok het ek intussen uitgevind dat die verskaffer van die afstootlike voedsel haar eie spysenieringsbesigheid het. Ongelukkig kan ek nie die naam noem nie, uit vrees vir klagtes van naamskending en dies meer. Al wat Saartjie kan sê is: wees versigtig vir tannies wat sommer uit hulle huise kosmaak; vra maar eerder my raad as julle twyfel. Moenie later by my kom huil as almal by jou troue voedselvergiftiging kry en op die dansbaan skyt nie.

Die stembriefies is te midde van streng geheimhouding en vele skril vermanings van die Ou Hoofmeisie ingevul. Die mense is baie lief vir Prosedure; tog jammer dat meeste van hulle so ryk is dat hulle nie hoef te werk nie, want hulle sou uitstekende staatsamptenare gewees het.

Nie almal by die vergadering was ewe slim nie, en dit is moontlik dat ‘n snedige opmerking of twee dalk saggies oor my lippe geglip het. Byvoorbeeld, toe daar ná afloop van die stemtellery vier lede aangewys is wat die onderskeie portefeuljes sou vul. Ons as lede moes dan weer stem om te besluit wie die hoogste en naashoogste amp sou vul. Die een stommerik dring toe daarop aan dat ons die vier genomineerdes nommer, want dit was vir haar breintjie net té moeilik om vier dames se name te onthou. Ek bewe by die gedagte dat só iemand ook stemreg het in nasionale verkiesings.

Ná die sóveelste glas dooswyn gemeng met vrugtesap is die Nuwe Bestuur uiteindelik aangekondig. En liewe vriende, julle sal nie teleurgesteld wees in die Nuwe Hoofmeisie nie. Sy is nóg skriller as die vorige een. En sy laaik van orders gee. Dus gaan sy sommer lekker koppe stamp met party van die lede (en as Saartjie nie binnekort gefire word weens die publikasie van hierdie materiaal nie, sal sy so bietjie aanhits ook…). Sela en amen vir eers.

Watkykertjie bydraeJong Dames Dinamiek maak siek: Deel 3

Gooi Comment