Jong Dames Dinamiek maak siek: Deel 2

In Snotstories deur Watkykertjie bydraeRek jou bek

Deur Saartjie

En toe is dit gisteraand weer sulke tyd. Jy weet mos – daai pynlike ding wat elke maand met vrouens gebeur. Nee, sies man, nie dít nie. Ek bedoel die Jong Dames Dinamiek-vergadering.

Anders as meeste van die ander lede, is ek ‘n ambisieuse, werkende vrou (ek sê dit maar liewer net nie te hardop in sekere geselskap nie), dus was ek ‘n bietjie laat vir die vergadering. Daai fokken Gautrain beter perform, want ek is nou gatvol om elke dag saam met ses miljoen ander mense op die N1 te pendel. Maar in ieder geval, die beste Château Doos was toe lankal reeds uitgesuip, dus moes ek maar my dors les met ‘n droewige glasie druiwesap. En dis nie grappies om so ‘n vergadering aan te pak op ‘n nugter maag én kop nie. Maar enigiets ter wille van volk, vaderland en watkykjy. Aanstap, Rooies.

Om die waarheid te sê is ek só toegewyd aan my taak dat ek tot die groot stap oorgegaan het om amptelik by JDD aan te sluit. Die Hoofmeisie het opgewonde om my rondgetrippel en gekoer by die aanhoor van die blye tyding. Ek het gedwee die lidmaatskapvormpie ingevul, en vir ‘n oomblik gewonder wat om in te vul onder “Stokperdjies”. Die ander dames skryf daar seker goed soos naaldwerk en koeksisters bak. Sal hulle dink ek is snaaks as ek skryf duiwelsaanbidding en masturbasie? Toemaar, speel dit maar veilig en skryf liewer lees en fliek. Hulle hoef nie te weet dis Loslyf en die laataand porn op etv nie.

Die gemeente het uiteindelik teësinnig besef die wingerdsap is op, en toe maar aangeskuifel na die vergadersaal. Daar het die wynglasies weer ongemaklik rondgeklingel terwyl die onvermydelike skriflesing en gebed gepleeg is. Die afgevaardigde – ‘n vreeslike irriterende, luidrugtige skepsel – het die woord gevoer. ‘n Stukkie Maretha Maartens (ka-ching! $$$) oor vriendskap, “want ons is mos almal vriendinne, whahahahaha.” Die aangewese preekster het so ‘n aaklige kekkellag wat deur murg en been sny. Sy klink kompleet soos ‘n non in ‘n wortellandery.

Ná oor-en-weer sessie van amens en dankies, kry die Hoofmeisie haar spreekbeurt. Eers hou ons roukol, en wee jou as jy nie vooraf verskoning gemaak het nie, jou wetter. En dit beter ‘n fokken goeie verskoning wees, anders lig die Hoofmeisie haar geplukte wenkbrou so effens en haar stemmetjie raak ‘n bietjie skriller as sy jou naam lees.

“Ag, jiiiiiiillllleeee, die mense in Danville was tog so dankbaar vir die worsbroodjies wat ons geborg het.” Die broodjies én die wors. (Nogal. Nou toe nou, ek dag arm mense eet nét brood). En die kinnertjies het lekker gespeel en lekkertjies geëet en almal was tog te dankbaar vir die ryk tannies met die stywe hare en blink klere. En hulle gaan vir ons ‘n groot kaartjie maak met foto’s en elke ding. Te fokken fraai.

Dan spring die non met oordonderende stem weer op vir Lief en Leed. Dis nou wanneer jy hoor van geboortes, troues, verlowings, sterftes, ens. ens. Ek zone so ‘n bietjie uit en maak van die geleentheid gebruik om gou ‘n uiltjie te knip vir twee minute lank met my oë oop. Almal wat al ‘n student was of ‘n kantoorwerk gehad het, sal hierdie trick ken.

Die gasspreker vir die aand is ‘n verteenwoordiger van Gatineau velsorgprodukte. Heel eerste verseker sy ons dat God ons lief het, en dat hy ons volmaak geskape het. MAAR, ons moet die liggame wat ons gekry het, versorg. Met ander woorde, ons moet fokken baie geld spandeer op onnodige, duur produkte. Dit is ons Godgegewe plig, want jou liggaam is ‘n tempel van God. Ag, red my. Hierdie refrein hoor ons telkemale deur die loop van die aand.

Die Gatineau-meisietjie vertel vir ons van al die gesigrome, scrubs, serums, tonics, toners, comforters, masks, retivalisers, removers, replenishers, restorers en rehydraters waarsonder ons kwansuis nie kan lewe nie. Ons hoor elke ding oor elke ou roompie – vir die dag, vir die nag, vir droë vel, vir olierige vel, vir plooie, selluliet, donker kringe en pofferigheid. Sy blerts kort-kort iets op jy hand wat jy moet invryf of afvee of aanlos. Blykbaar is daar selfs ‘n spesiale room vir die boobs – “want jou liggaam is mos ‘n tempel, en jy moet dit doen ter wille van jou man”. Fok hom. Ek sal ‘n cream vir my boobs kry sodra mans een kry vir hulle bierpense. En die sellulietroom werk net as jy gereeld oefen, gesond eet, baie water drink, nie rook nie en alkohol vermy. Uhm, as jy dit alles doen, het jy in elk geval nie die room nodig nie, juffroutjie.

Die big daddy van die produkte is die oogroom. As jy ooit gewonder het hoekom jy ‘n loser is en hoekom alles in jou lewe verkeerd loop – dit is omdat jy nie hierdie wonderlike room het nie. Dit is die alfa en die omega. Sela. Dit het volgens die dametjie al elke prys onder die son gewen. Julle onthou mos, dit was net verlede week hoofnuus in die koerant. Voorwaar, voorwaar, ek sê vir julle: hierdie oogroom gaan jou hele lewe verander, en dít teen die skamele prys van R600 per botteltjie. Jou liggaam is immers ‘n tempel…

Mejuffrou Gatineau verseker ons dat al die produkte reguit uit Frankryk kom. Local is toe blykbaar nie so lekker nie. Niks meer van daai cheap kak by Clicks vir jou nie. Maar nou wonder ek: hoeveel van die verkoopprys is eintlik vir bemarking, verpakking en vervoer? Fok hulle, ek gebruik sommer Lux. As dit goed genoeg is vir die bosmossel, is dit goed genoeg vir die gesig.

Nou-ja, volgende maand word die nuwe bestuur van die plaaslike JDD-tak verkies. En as ons gelukkig is, het ek dalk ‘n spioen of twee op die bestuur. Hou hierdie spasie dop!

Watkykertjie bydraeJong Dames Dinamiek maak siek: Deel 2

Gooi Comment