Charfe poef soos ‘n pro en mense skiem jys main: Verken jou zefgeid

In Snotstories deur griffinRek jou bek

(deur Toast Coetzer)

Die internet is 'n weird kroeg. Jy kan heelnag drink, woes rinkink, vuisslaan, twakpraat, girls bestreel, bomme plant, mure afbreek en snoekerstokke oor jou knieg breek tot vroegdag.

Maar wanneer jy die swaaideure agter jou laat toefladder, dan maak niks saak nie. Want dis nie heeltemal genuine nie, dit het net so 'n nat nagmerrie-gevoel wat jou oksels effens laat stink. Dit voel dalk waar, maar daar's nie altyd bloed op jou hande nie.

Tog, dis vermaaklik, en dan en wan kry jy goeie tips van die ander ouens in die kroeg. En dis vry en wyd, sonder traffic cops en speed bumps. Dis in hierdie guerrilla-gewaad waar iets soos www.watkykjy.co.za floreer.

Wat kyk jy? is 'n webwerf waar Afrikaans (en grotendeels Pretoria) se effens muwwerige skaamhare van naderby beskou word. Dis 'n hoogs vermaaklike deel van die Afrikaner se anatomie en bevat, behalwe Valiant se "geboue op jou geslag", ook karre, popkultuur, "komieks", ware lewensverhale en ander opvoedkundige dinge. Om dit eenvoudig te stel, dis die anti-Litnet.

Wat kyk jy? het sy debuut in Junie 2000 gemaak toe vier gabbas by name CHopper CHarlie, grifFin, Super Deluxe 3000 en Skipper Glen (dis die internet dié, niemand het regte name nie) luidens berigte "op 'n luilekker sonnige middag spoorloos in die woud by Magnolia Dal In Pretoria verdwyn het. Vyftien minute later is hulle tapes gevind."

Die missie was om "die all-permeating zefgeid van Afreakaanse mense (en hul dinge)" op te teken sodat die nageslag, indien enige, dit sal kan waardeer. Vandag sorg griFin, CHopper CHarlie en Briekmerk Onnebroek vir die site, wat met die sorg en kundigheid van dronk mechanics aanmekaargesit word en elke tweede volmaan of so die lig sien die nuwe uitgawe is reeds hul 21ste.

Neem byvoorbeeld die Zef Slang-afdeling op die site. Nêrens anders kan jy soveel nuttige woorde in een dag leer nie. Sommige sal jou wel in die moelikheid laat beland by die dominee, jou ma, en jou girlfriend (en ander fynbesnaarde mense), maar die punt is dat hierdie woorde werklik in die spreektaal bestaan. Wat kyk jy? teken dit op en deel dit gratis uit. Hulle's dus die taalstryders vir die edele gespuis, en hulle weet dit.

CHopper reken hulle doen selfs meer vir die Afrikaanse woordeskat as die HAT. "As jy praat soos die HAT sê, gaan mense dink jy's 'n doos en hulle sou reg wees. As jy poef charfe soos 'n pro sal mense skiem jy's main. Keuse's joune, ou bul. Zef slang is soos die bra's en chicks daarbuite praat. As dit eksplisiet is, is dit seker maar hoe die sif bliksems praat. Sorry vir die taalstryders, universiteite, NG kerke en ander krimpies dinge is lankal buite julle beheer. Ons het mal geword."

Alhoewel zef slang meestal verwys na redelik eksplisiete tydverdrywe, is daar tog dinge wat ons in 'n gesinskoerant kan druk. Om 'n "skuimkoppie deur die nek te jaag" beteken byvoorbeeld om 'n bier te drink. "Fopspene" is silikoonborste, en "Vitamine B&C" is brandewyn en Coke. Die zef slang word deur lesers ingestuur, verwag dus die ergste, en moenie dat jou kinders dit gaan uitcheck as hulle nog nie 'n quart Black Label met een hand kan vashou nie.

Verder sal die site jou tot nuwe insigte bring (hoe afskuwelik die beeld ook al) en ooglopende probleme in die samelewing laat bevraagteken "soos hoekom is paisley altyd in", reken CHopper, "en waarom ons van Celine Dion hou". Dit sal jou ook help "om te check hoe china's actually praat", en vir jou bewys "dat nie alle Afrikaanse mense lame-ass klierkoppe is nie". "En dit sal jou help met skoolwerk en om jou partner tot orgasme te bring. En nee, dit kom nie op jou etlapkaart nie."

En so is dit. As 'n mens die briewe-blad op die site lees, besef 'n mens gou die site is nie vir mense wat aarbeie in hulle Corn Flakes sit nie. Tog, die zef-kultus het genoeg aanhang om sommige maande tot 10 000 besoekers te lok, van reg oor die wêreld, waar die braaiers en skurwekenne ook al skuil. 'n Mens sien ook oral hul bekende "Jou ma se e-pos"-T-hemde, en nou en dan organiseer hulle woeste partytjies daar in Tshwane rond, soms saam met daai ander gekunsteldes wat die verhoogstuk Zef Sketse aanbied.

Komaan, vroetel daai muis oor na www.watkykjy.co.za, selfs al is dit net om te sien hoe lyk die nuwe gevaar, tannie.

griffinCharfe poef soos ‘n pro en mense skiem jys main: Verken jou zefgeid

Gooi Comment